Atterbury Trust staan vanjaar meer as 140 studente by met hulle studies, en benewens die finansiële ondersteuning, vind ons ekstra maniere om ons beurshouers se studiejare te verryk. Die splinternuwe Laat Jouself GELD-kursus is die jongste wapen in die arsenaal van hulpbronne. Danelle Strydom, wat omsien na studente en projekte vir die Trust, vertel meer.

Waar kom die idee vir die kursus vandaan en wat is die idee daarmee?
Ons het oor die jare talle navrae gekry van studente wat raad soek oor hoe om hulle finansies effektief te bestuur, so ons was baie bewus van die behoefte. Ons beursstudente kom merendeels uit huishoudings wat dit nie breed het nie, en  daar is dus nie altyd vir hulle tuis die geleentheid om te leer oor geldsake en finansiële beplanning nie. Die idee was dus om iets te begin waarmee ons die studente ook toerus met die nodige kennis om as studente, maar ook daarna, as hulle die arbeidsmark betree, met selfvertroue hul geldsake te bestuur. Daar moet ook in gedagte gehou word dat ons studente befonds word deur rentevrye beurslenings wat onmiddellik na afloop van hulle studies begin terugbetaal word en ’n leerskool in die behoorlike beplanning en bestuur van hulle geldsake is dus van onskatbare waarde.

Is dit ’n pasgemaakte kursus vir julle studente, en hoeveel studente gaan betrokke wees?
Dis ’n verpligte kursus vir alle beurshouers vanaf die tweede akademiese jaar, tot hulle finale voorgraadse jaar. Ons bied ook vir die akademiese eerstejaars ’n inleidende sessie aan sodat hulle kan opgewonde raak vir volgende jaar!

Wat gaan die formaat wees, en wie gaan dit aanbied?
Daar is vier sessies oor ses maande, en ons het reeds afgeskop met ’n van-aangesig-tot-aangesig sessie by die Klubhuis in Pretoria op 6 Maart en ’n aanlyn een ’n dag later vir diégene wat nie in persoon daar kon wees nie. Volgende gaan ons twee webinare hê op 8 Mei en 24 Julie, en die afsluiting sal op 28 Augustus in persoon, en 29 Augustus aanlyn plaasvind. Ons is baie opgewonde oor die aanbieders, wat ook die kursus ontwerp het. Prof Bernadene de Clercq is ’n finansiële raadgewer en ook ’n voltydse lektor by Unisa, Dr Linda Steyn is ’n bedryfsielkundige en ook ’n lektor by Unisa en Hendrik Crafford is ’n finansiële raadgewer wat ook opleiding in sy veld doen. Ons glo die studente gaan baie leer by hierdie span kundiges!

Het julle beursstudente spesifieke finansiële behoeftes wat julle in die kursus wil aanspreek?
Daar is onmiddellike behoeftes soos hoe om ’n begroting op te stel en hoe om skuld te bestuur, maar ons wil hiermee baie verder gaan om die studente te bemagtig met ’n volledige handleiding wat hulle sal wys hoe om hul finansies vanuit ’n nuwe perspektief te bestuur .

Kan jy enigiets deel omtrent die inhoud van die kursus?
Die studente sal onder andere gelei word om hul eie “finansiële persoonlikheid” te ontdek sodat hul uitvind hoe hul unieke geldstories hul verhouding met hul finansies vorm.

Daar sal ook gekyk word hoe om finansies en doelwitte en toekomstige aspirasies  bymekaar te bring, Welvaartskepping sal ook in die visier kom – die kuns om jou geld verstandig te kan aanwend om ook die lewe verantwoordelik te geniet terwyl jy vir jou toekoms voorsiening maak.

Hulle sal ook leer oor risiko-bestuur en hoe om jou finansies te beskerm teen potensiële risikos; en was ’n mens doen sodat jou geld vir jou werk en nie andersom nie. Hulle gaan toegerus word met die beginsels hoe om ’n welvarende lewe te beplan, en hul eie finansiële padkaart te ontwikkel om hulle deur hul studies te navigeer, maar ook rigting sal gee vir die lewe daarna.

En om dit ekstra tekstuur te gee, sal hulle soos met alles wat Atterbury Trust doen, deel wees van ’n energieke gemeenskap wat saam die wêreld van persoonlike finansies ondersoek!

Is hierdie kursus ook wyer beskikbaar – dit klink van onskatbare waarde vir enige jongmens?
Ons program is is spesiaal aangepas deur Hendrik Crafford en sy span, en vorm deel van die groter Prosperity Mentors-program wat deur Craffies Coaching aangebied word. Vir meer inligting kan mense gerus vir Hendrik Crafford kontak by https://craffiescoaching.co.za/contact/