Triomf Kliniek se pasiënte met tandprobleme is so gelukkig om vir Dr Ruco Vorster aan hulle kant te hê – met sy sorg kan almal weer glimlag met vertroue. Die jong Pretoria tandarts vertel ons meer oor sy besluit om betrokke te raak.

Jy het in Julie verlede jaar by Triomf Kliniek begin. Hoe het jy by die kliniek uitgekom en wat het jou geïnspireer om betrokke te raak?
Dit was deur pasiënte van my wat vir Atterbury ken en ons van mekaar vertel het. Die Trust het toe uitgereik en ek het dadelik ingestem om te help by Triomf Kliniek. Ek dink almal in die gesondheidsektor moet betrokke raak by sosiale programme – hoe kan mens nou nie jou medemens wil help nie?

Hoe gereeld besoek jy die kliniek, en hoeveel pasiënte sien jy tipies op so ‘n dag?
Ons het dit van die begin af so gereël dat die pasiënte na my toe kom eerder as dat ek na die kliniek toe gaan, omdat dit net makliker is en ek alles byderhand het wat ek nodig het. Ek sien twee keer per maand Triomf-pasiënte, en gewoonlik so ses mense op ‘n slag.

Wat is die mees algemene kwaal wat jy by Triomf teëkom? Wat sou jy sê is die grootste tandheelkundige behoefte onder die pasiënte daar?
Die behoefte is basiese tandheelkunde; omdat pasiënte vir te lank nie ’n tandarts kon sien nie, is daar dikwels absesse, en tande wat te lank gelos is en dus nie gered kan word nie. Daar is ook baie stopsels en herstelwerk, en ons maak baie tande skoon. Ek vind soms dat pasiënte selfbewus is omdat veral hul voorste tande verwaarloos is en dan maak ons reg en stop gaatjies en laat alles net weer mooi lyk; en dan voel hulle baie beter. Ek sê altyd die kleinste goedjies in die wêreld kan ’n groot verskil maak. Baie van hulle het ook ’n behoefte aan valstande; dié word dan gemaak deur die ander tandarts wat saam met Triomf werk, nadat ons omgesien het na die algehele gesondheid van die mond, die skoonmaak, stop en trek waar nodig.

Triomf Kliniek is so dankbaar vir jou bydrae, wat sou jy vir anders dokters sê oor die werk by die kliniek, en hoekom sosiale projekte soos hierdie so belangrik is?
Ons is tog hier op aarde om mekaar te help, en dis hoekom sulke sosiale projekte so belangrik is in die mediese veld. Nie almal het toegang tot goeie sorg nie so ek voel ons in die gesondheidsektor moet doen wat ons kan om te help. Dis belangrik, maar dis ook net soms so lekker om mense se stories te hoor; en dis baie bevredigende werk, want die pasiënte waardeer dit so baie. So ek sal vir my mediese kollegas aanraai om dit net vir ’n maand te probeer; ek weet dat as jy eers betrokke raak, gaan jy sien hoe verrykend dit is.

Was tandheelkunde al van jongsaf jou passie?
Nee, dit het eers later gekom. Teen Graad 11 was dit een van my drie opsies saam met geoktrooïeerde rekenmeester of ‘n chemiese ingenieur…  My ma het by Medunsa se tandheelkundedepartement gewerk so ek het iets van tandheelkunde geweet, maar was nie oortuig nie. Ek het gebid en gevra vir ‘n antwoord en toe ek vir aanlegtoetse gaan, het die dame sonder dat ek genoem het dis een van my opsies, gesê ek moet ’n tandarts word. So daar was my antwoord! Ek het toe daarop gefokus en regtig ’n passie daarvoor ontwikkel; en ek was nog nie een dag spyt dat ek dit gekies het nie. Dit was absoluut die regte besluit – ek geniet elke oomblik daarvan.

Dan, iets meer persoonlik – wie is Dr Ruco as jy by die huis is?
Ek is enkellopend, baie lief vir diere, veral honde. Ek het twee honde gehad, maar hulle is albei verlede jaar dood en ek het nog nie kans gesien om ‘n nuwe hondjie te kry nie, maar ek sal beslis weer. Ek is ook baie lief vir sport – ek geniet dit baie om gholf te speel, en op ‘n Sondag sal ek baie graag sit en krieket kyk, of sokker, of tennis – enige sport! Die natuur is my wegkomplek; ek is baie lief vir stap en my ideale vakansie is die wildtuin waar ek nie eers hoef diere te sien nie, ek wil net die stilte en die geluide van die natuur om my hê. My lewe is eintlik baie rustig, ek glo daaraan om ‘n eenvoudige, gelukkige lewe te probeer lei, met my geloof bo-aan die lys van wat belangrik is.

Triomf Kliniek maak staat op medici soos Dr Ruco Vorster, wat hul tyd en kundigheid gee om aan behoeftige pasiënte uitsonderlike sorg met waardigheid te verskaf. Enige dokter wat belangstel om betrokke te raak, kan ons kontak by [email protected] of  [email protected] of stuur ‘n Whatsapp na 0662831788.