Dorothy Abrahams vertel van die verligting toe haar uitblinker-dogter Simeulida Petersen uitkoms kry in die vorm van ’n Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) beurs wat haar toegang tot haar droomskool, en die beste moontlike opvoeding, gegee het.

Hoe het jy en Simeulida by MOI uitgekom?
Simeulida was by New Orleans Laerskool in die Paarl. Ek het haar as kleintjie by ’n créche ingeskryf in Graad 0 en almal wat met haar te doen gekry het, het al van toe af opgemerk hoe slim en gevorderd vir haar ouderdom en spontaan sy is. So het hulle haar direk uit Graad 0 bo-oor Graad R in Graad 1 geplaas. In Graad 6 het ons gehoor van MOI, toe haar onderwysers my ingeroep het en gevra het of ons vir die beurs wil inskryf, omdat Simeulida baie vooruitstrewend is en groot drome het.

Hoe moeilik was die proses om haar ingesluit te kry by die program?
Weet jy, dit was nie moeilik nie, want Simeulida se godsdiens het haar gehelp. Sy het in Graad 7 tot bekering gekom en haar lewe in God se hande geplaas. Sy het geglo dat sy haar droom sal bereik om te kan skoolgaan by haar gunstelingskool, wat nog altyd Paarl Gimnasium was. Ons glo dit was danksy haar geloof dat sy die beurs gekry het.

Wat was julle alternatief as MOI nie daar was nie?
Sy het Graad 8 begin by New Orleans Hoërskool want ons finansies het nie toegelaat dat ek haar by Paarl Gimnasium kon inskryf nie, so sy sou daar gebly het. En toe vind ek uit dat die kinders haar by die nuwe skool boelie. Maar met dié het die skoolhoof van haar laerskool ons laat weet dat sy tog die MOI-beurs gekry het. En so tussen die slegte nuus van die geboelie en die goeie nuus van die beurs, het MOI ons toe gehelp om Simeulida baie vinnig oorgeplaas te kry na Paarl Gimnasium toe. Sy is die afgelope vyf jaar daar en is tans in Graad 12.

Sien jy ’n verskil in Simeulida sedert sy by MOI betrokke is? Is daar positiewe veranderings wat jy raaksien wat jy kan deel?
Ja definitief – sy het baie volwasse en selfstandig geraak, sy doen meer dinge op haar eie, en sy het meer tyd aan haar godsdiens begin bestee. Ek is al baie verras deur wat sy regkry sedert sy deel is van MOI. Sy het by die onlangse MOI funksie ’n toespraak gelewer en dit was vir my ’n enorme “wow”– dat sy haar eie gedagtes in ’n toespraak kon verwoord en dit so mooi kon oordra. Daar kon ek die bewyse sien van die goeie en positiewe impak wat MOI op my kind se lewe het.

Wat is jou droom vir dié kind van jou?
Ek hoop dat my kind sal suksesvol wees met alles wat sy aanpak in haar lewe, en dat sy haar groot droom om ’n prokureur te word, sal verwesenlik.  Sy wil ook die woord van God aan mense verkondig, so dis my wens vir haar dat haar droom van sendingwerk ook ‘n werklikheid sal word.

Hoe belangrik is ’n program soos MOI vir die gemeenskap, in jou opinie?
Programme soos MOI is van onskatbare waarde, omdat dit die kinders hoop gee dat daar wel vir hulle ‘n toekoms is, en dat topklas opvoeding binne bereik is vir dié wat hard werk en alles insit.

Jy het self verder gestudeer en jouself bekwaam as onderwyser. Wat het jou geïnspireer?
Ja, dit was altyd my ideaal om verder te gaan studeer, maar ek moes eers my kinders grootmaak. Simeulida het ’n jonger boetie en sussie. So op die ouderdom van 40 het die tyd vir my aangebreek. Dit is my passie om met klein kindertjies te werk, en dit was ook vir my belangrik om vir my eie kinders te wys dat mens op ‘n later ouderdom kan gaan studeer, en jou drome uitleef – ek wou vir hulle daardie voorbeeld stel. Ek is nou ’n Graad R-onderwyser, en ek is trots op myself omdat ek weet dis nie almal wat so iets kan bereik nie! En my kinders kyk op na hulle ma wat op ’n ouer ouderdom haar eie droom gaan haal het. Ek het my prakties gedoen by ’n skooltjie genaamd Bubble Buddies, en is steeds daar by hulle, waar ek werk met kindertjies van twee en drie jaar oud. Ek geniet dit vreeslik.

En jou ander twee kinders – mis hulle hul ousus noudat sy in die koshuis woon?
Ja, hulle mis haar, want Simeulida is die joy in die huis. Die huis is doodstil sonder haar, maar as sy Vrydagmiddae huistoe kom, is dit omtrent ‘n gedoente soos hulle mekaar jaag en lawaai! Maar sy inspireer hulle ook, want hulle weet dat sy baie hard gewerk het om die MOI-beurs te kry en hulle wil ook doen soos sy doen. So MOI het ’n groot impak op ons hele gesin, en ek is so dankbaar vir dit wat MOI met Simeulida reggekry het, nie net fisies nie, maar ook geestelik.

Vertel ons meer van Simeulida se unieke naam.
Haar pa het self die naam vir haar gekies en dit op haar geboortedag vir haar gegee. Soos hy dit aan haar verduidelik het, was dit die naam van ’n karakter in ’n fliek, wat gegaan het oor ’n meisie wat ontvoer is, en wat uit die ontvoerders se kloue ontsnap het. So Simeulida sê altyd dat haar naam vir haar dapperheid, krag en selfvertroue beteken, en dat sy voel dat  haar unieke naam haar as mens geskep het. Sy is nie bang om nuwe goed aan te pak nie, nie bang vir ’n uitdaging nie, en hou daarvan om uit haar gemaksone te beweeg. Ek is so trots op my oudste!

Die MOI-program bied die geleentheid aan verdienstelike Afrikaanse bruin leerders om in hul moedertaal gehalte-opvoeding by top-hoërskole in die Wes-Kaap te ontvang, met die nodige mentorskap om die grondslag te lê vir tersiëre opvoeding na matriek, en ’n blink toekoms. Vind hier meer uit oor hoe jy kan bydra om hierdie generasie van jong leiers te help vorm, en terselfdertyd ’n belastingvoordeel ontvang.