Vanjaar wil Atterbury Trust ’n nuwe groep studente wat nie andersins sou kon bekostig om verder te studeer nie, daardie kosbare kans gun. Jongmense wat kwalifiseer vir ’n beurslening kan van 1 Junie af hul aansoeke instuur, en die beurspaneel skuif reg vir die onderhoudproses. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel meer oor wat om te verwag.

Kan ons net opsom en kyk wat die beursfonds sover bereik het? Hoeveel studente is oor die jare van die heel begin af befonds? Hoeveel studente is tans met behulp van beurslenings aan die studeer?
Die eerste ses Atterbury Trust beurse is in 1998 toegestaan. Altesaam 643 beurse is in die afgelope 21 jaar toegestaan. Tans studeer 193 studente aan universiteite reg oor Suid-Afrika.

Dit is wonderlik. En hoeveel nuwe beurse wil julle vanjaar toeken? Het julle ’n spesifieke getal Atterbury Trust en Atterbury Foundation beurse of hang dit af van die kaliber van kandidate wat aansoek doen?
Die aantal beurse wat toegestaan word, hang af van die beskikbare begroting. Die beleid is om 75% van ons beskikbare begroting aan opvoeding toe te wys – hetsy in beurse of bystand aan skole. Ons wil vanjaar ’n minimum van 20 nuwe beurse toestaan. Dit kan ook heelwat meer wees, aangesien beurse ook afhanklik is van hoeveel eksterne donasies aan die Atterbury Trust gemaak word in hierdie tyd.

Hoeveel aansoeke het julle verlede jaar gehad, en is daar al reeds baie belangstelling vir hierdie jaar se beurse?
Ons het verlede jaar ongeveer 300 aansoeke gekry en soos ons hier praat, het vanjaar se aansoeke reeds begin inkom. Belangstellendes kan slegs elektronies op ons webtuiste www.atterburytrust.org aansoek doen.

Hoe lyk die perfekte kandidaat? Waarvoor is julle spesifiek op die uitkyk; en hoe verbeter iemand sy of haar kanse om in aanmerking te kom?
Finansiële behoeftigheid is ‘n voorvereiste, en Afrikaans as moedertaal. Die kandidaat moet vir ’n eerste graad aansoek doen. Ons is op die uitkyk vir doelgerigtheid, dryfkrag, en ’n wil om sukses te behaal.

Ons let ook op na ondernemingsgees – ons oorweeg wat kandidate al in die verlede gedoen het om hulself te help – jong entrepreneurs wat van kleintyd af planne maak. Ons verkies ook rigtings wat die studente in staat gaan stel om ’n inkomste te verdien en positiewe verskil in die SA ekonomie te maak.

Wanneer begin julle onderhoude voer – wat is die sluitingsdatum vir die aansoeke?
Die sluitingsdatum is 31 Julie, en ons begin daarna met die onderhoudproses, wat gedurende Augustus en September plaasvind.

Hoeveel beursonderhoude reken jy sal julle ongeveer kan doen, en waar vind hierdie onderhoude plaas – julle reis mos altyd die hele land vol?
Ja ons voer gewoonlik 60 onderhoude, tussen Pretoria, Potchefstroom, Stellenbosch en Bloemfontein.

Nou vir die groot vraag: hoeveel geld moet julle vanjaar bymekaar kry om hierdie nuwe beurse te befonds sowel as om die bestaande beursstudente te kan aanhou help? En waar kom daardie geld vandaan?
Ons benodig ongeveer R 7,5 miljoen – ons moet huidige beurshouers in hulle daaropvolgende studiejare finansier en dan ongeveer 20 nuwe beurse befonds…  Maar soos ek reeds gesê het, meer eksterne donasies beteken onmiddellik meer beurse!

As ons ’n prys sou toeken vir Skenker/s van die Jaar, wie sal dit wees? Is daar mense/instansies wat jy graag sou wou uitsonder vir volgehoue ondersteuning oor die jare?
Zuid-Afrikaans hospitaal se R800 000 om ten minste twee dokters en twee verpleegsters te finansier was tot dusver nog die grootste skenking van ’n enkele instansie. Daar was ook ‘n paar Versnitgaste wat in die omgewing van R100 000 bygedra het. Wat ons egter sterk maak, en waaroor ons eindig dankbaar is, is al die R5 000- en R10 000-skenkings wat, bymekaargetel, ’n reuse verskil maak.

Julle bied nou ’n reeks beurspakkette aan – wat is die idee daaragter? Is daar een wat blyk spesifiek gewild te wees onder skenkers?
Ons het ondervind baie mense wil vir ’n spesfieke saak gee – hulle wil weet waar hulle geld aangewend word. Mense assosieer ook in baie gevalle met studente wat mik in dieselfde rigting as waarin hulle studeer het. Hulle kan ook dan moontlik vakansiewerk of latere werksgeleenthede skep.

Die rigtings is ook waarin ons die meeste studente het – finansies, medies, wetenskap, en so meer.  Indien iemand egter net vir boeke ’n bydrae kan maak, is dit ewe welkom. 

Kan mense nog donasies maak – sal dit julle toelaat om meer beurse toe te ken vanjaar? Wat is die afsnypunt om nog vanjaar ‘n verskil te kan maak?
Definitief. Ons is ook ontvanklik vir die wense van donateurs; as iemand byvoorbeeld spesifieke wense het ten opsigte van die studierigting wat hulle wil befonds.  Ons gee ook gereeld aan skenkers terugvoering oor die akademiese en emosionele vordering van ons studente.

Alle donasies aan die Atterbury Trust en Atterbury Foundation beursfonds is belastingaftrekbaar. Vind meer uit oor hoe jy ’n verskil kan maak deur hier te kliek. Vir meer inligting oor hoe om vir ’n beurs aansoek te doen, kliek hier.