Die inskrywings het gesluit, die beoordelaars het die room van die melk afgeskep, en nou is dit tyd vir die ongeveer 40 hoopvolles wat gekeur is om te oefen dat die biesies bewe. Vir die vierde jaar in ‘n ry is Atterbury trots om Suid-Afrika se top jong pianiste die geleentheid te bied om uit te haal en te wys in die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.

Zahn Hulme vertel hoe Atterbury by die kompetisie betrokke geraak het: “Ek het Dr Willie de Jager (nou die voorsitter) by ‘n verjaarsdag van ‘n gemeenskaplike vriendin ontmoet rondom die tyd wat ons die teater gebou het. Ek het hulle van die nuwe teater in Pretoria-Oos vertel en Dr de Jager-hulle het my daarna gekontak met hulle idee.”

Dié idee, volgens Dr de Jager, was om ‘n platform te skep wat jong pianiste die kans sou gee om op gelyke voet te kan meeding, hulle aan die verhoog bloot te stel in voorbereiding vir die Unisa nasionale klavierkompetisie en die internasionale arena. “Ook natuurlik om hulle erkenning te gee vir hulle talent en harde werk,” verduidelik hy.

Boonop kon die kompetisie ‘n alternatief bied vir die destydse Sanlamkompetisie in die Kaap, so met Dr De Jager as voorsitter het dit vorm gekry, vertel Zahn. “Atterbury het dit gesien as ‘n goeie manier om die teater toeganklik te maak vir skoolkinders – dit was in lyn met ons aanvanklike doelwit om die teater ter uitbreiding van die kunste en kultuur te gebruik.”

Die kompetisie vind vanjaar van 13 tot 17 Oktober by die Atterbury Teater plaas, en daar is sommer groot pryse op die spel. Die eerstepryswenner gaan huis toe met R30 000 kontant, tweede prys is R15 000 en derde prys R7 500. Boonop is daar verdere kontantpryse in verskillende ouderdomskategorieë en selfs vir elke finalis en die onderwysers van die top drie spelers. Vanjaar se beoordelaars is Professors John Roos en Hubert van der Spuy en Dr Truida van der Walt.

Soos in die verlede sal die kompetisie in drie rondtes gebeur, met ‘n gala-aand aan die einde waar die nege beste spelers – drie in elke ouderdomsgroep – teen mekaar gaan meeding in die Atterbury Teater. Volgens Willie de Jager sal daar ‘n maksimum van 45 kandidate gekeur word, in drie ouderdomskategorieë: 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger,en 19 jaar en jonger.

Maandagaand 13 Oktober vind ‘n openingseremonie by die teater plaas, waar verlede jaar se wenner, Lezanti van Sittert saam met die Johannesburgse Simfonieorkes sal optree, en Camille Saint-Saëns se Klavierconcerto no 1 sal speel.

Alle kandidate speel in die eerste en tweede rondtes,wat plaasvind Dinsdag 14 en Woensdag 15 Oktober. Na afloop van die tweede rondte word 18 semi-finaliste aangekondig – ses in elke ouderdomsgroep – wat deurgaan na die derde rondte op Donderdag 16 Oktober. Al drie rondtes is oop vir die publiek en bywoning is gratis, sê Willie de Jager. Donderdagaand na afloop van die derde rondte word nege finaliste aangekondig, drie uit elke ouderdomsgroep.

Die finaal gebeur Vrydagaand 17 Oktober om 7nm, en kaartjies is by Computicket beskikbaar. Aan die einde word die drie wenners, wat uit enige kategorie kan kom aangewys.

Lezanti, verlede jaar se eersteprys-wenner, het van die begin van die kompetisie in 2011 meegeding, en is baie dankbaar vir die geleenthede wat dit vir haar gebring het. “Om die Atterbury kompetisie te wen het soveel deure vir my oopgemaak,” sê dié matriekleerling, wat oor die drie jaar ‘n handvol pryse ingepalm het voor sy verlede jaar die grote huistoe geneem het. “Ek het ongelooflike kanse gekry om oorsee te speel; die hoogtepunt was beslis toe ek genooi is om in Homburg, Duitsland, by Die Museum für Alte Claviere ‘n uitvoering op Mozart se persoonlike klavier te gee!” Haar prysgeld is net so vir haar studies gespaar, want die matriekleerling gaan volgende jaar BMus studeer by Tukkies.

Vir meer details, besoek http://atterburypiano.co.za/. Hou ook ‘n ogie oop vir die November/Desember uitgawe van De Kat, die mediaborg vir die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.