Atterbury Trust is vanjaar weer die borg van die 2016 Cool Capital Biënnale se skolekunskompetisie. In die gees van die tema van die 2016 Cool Capital Biënnale, “Klein is Groot”, het die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria ’n projek gekies wat herinner aan ’n kwilt… Kunsonderwyseres Renee Barnard vertel meer.

Wat beeld die werk uit, en wat noem julle die projek? Waar gaan dit staan?
Elke meisie het ’n 500mm x 500mm kunswerk geskep wat eer bring aan ’n vrou wat ’n belangrike rol in haar lewe speel, wat dan saamgevoeg gaan word in ’n groter kunsinstallasie om ’n monument van vroue te vorm.  Dit kon ’n portret van enigiemand in haar lewe wees, gemaak in die medium van haar keuse. Vroulike handwerk-items is gebruik – patrone, afval stukkies lap, naald en garing, knope, borduurwerk, naaldwerk, gereedskap, tafeldoeke, kant, krale en enige ander handgemaakte items – wat as vroulike metafore ’n dieper konsep en simboliese boodskap oordra.

Elke meisie het ook die skool se argitektoniese planne van die nuwe studentesentrum in haar kunswerk ingebring, om die werk in verbintenis met die skool te bring. Die uitstalling sal juis ook in hierdie sentrum plaasvind.  Die meisies het ook ’n kunstenaarsboek van die afsny, afval en oorblywende materiale gemaak wat ook deel gaan vorm van die finale uitstalling.

Wie neem almal vanjaar deel en wie is die praktiserende kunstenaar wat julle hiermee help?
Al 25 meisies in ons Graad 11 Visuele Kunsklas het deelgeneem, en ons was bevoorreg om saam met die befaamde Jan van der Merwe aan ons projek te werk.

Hoe het julle op die onderwerp besluit?
Die basis van die projek is ’n spontane benadering tot kunsmaak. Die uiteindelike kunswerk bestaan uit fragmente van verskillende beelde en tegnieke wat op lukrake manier op die formaat geplaas word. Jan van der Merwe het weekliks saam met ons gewerk en ons verskillende tegnieke geleer – verskillende verftegnieke, tekentegnieke, borduurwerk en stensilwerk. Die keuses van tegnieke het spontaan ontwikkel soos die proses vorder.

Hoe ver is julle met die hele projek?Die klas het einde Junie, aan die einde van die tweede skoolkwartaal, die finale opdrag ontvang, en in Julie, met die begin van die derde kwartaal, daarmee begin. Die finale gedeelte van die projek is op 23 September ingedien. Ons kan nie wag om ons installasie te onthul nie; hopelik spoedig!

Gestel Atterbury stel julle skoolkunsdepartement aan met ’n blanko tjek om op enige plek in Pretoria ’n stuk openbare kuns op te rig… wat sou dit wees en waar sou julle dit installeer?

’n Openbare kunswerk in enige skool voeg waarde by tot die skool. Kunsinstallasies kan inspirerend wees en skep ’n opvoedkundige platvorm vir leerlinge om sinvolle gesprekke te inisieer. Ek sou dus voorstel dat ’n openbare kunswerk in of naby enige skool geplaas moet word. Die tipe kunswerk sal tipies iets wees wat ’n positiewe en sinvolle reaksie ontlok.