GROOTfm 90.5 het hande gevat met Wild Route kwekery en die Wildlands Conservation Trust om Pretoria groen te plant in September, en Atterbury Trust het graag saam grond op die hande gekry toe die eerste 50 bome by die Booysens Beertjies kleuterskool en ook die “Ons Plek” gemeenskapsentrum in Booysens geplant is. GROOTfm se Lindie Strydom vertel meer…

Hoekom het GROOTfm juis hierdie inisiatief gekies?
Ons dink groen, ons praat groen, ons veg vir groen, maar Septembermaand bied ’n unieke geleentheid om groen te doen!  Elke jaar vier Suid-Afrikaners Nasionale Boomplantdag en -week, maar hier by GROOTfm 90.5 het ons besluit om ‘n hele maand aan hierdie deel van ons Genesis 1 taak te wy – om die aarde te bewaar deur die aarde te “be-boom” – dis nou die nuwe werkwoord wanneer 20 000 bome ‘n gaatjie moet vind om hulle skaduwee te gooi!

Hoekom is juis Booysens gekies vir Boomplantdag?
Die keuse van Booysens was nie ’n toevallige een nie.  GROOTfm 90.5 wou op ’n praktiese manier ons verbintenis tot hierdie gemeenskap wys waar daar reeds die afgelope jaar in samewerking met Atterbury Trust en Solidariteit Helpende Hand ’n gemeenskapsentrum begin vorm kry het.  Zahn Hulme maak ons so opgewonde met die visie van hierdie sentrum en die diens wat dit aan die gemeenskap en sy kinders sal bied en die bestuurder van die Booysens Gemeenskapsentrum, Herman Kloppers, is bevoorreg om elke dag die groei en ontwikkeling van die sentrum te sien gebeur.

Booysens Beertjies kleuterskool is ’n stukkie hemel in Pretoria-Wes waar ongeveer ’n 100 kleuters met baie liefde en aandag voorberei word vir die grootskool en die grootmenswêreld wat eendag op hulle wag. Alhoewel die skooltjie se terrein bitter netjies en goed versorg is, is die bome ‘n baie welkom geskenk vir meer skaduwee in die speelarea. Die kleuters het opgewonde handjie bygesit met die plantery.

Bome is ‘n simbool van hoop vir die toekoms.  Ons plant tog bome omdat ons glo iemand gaan in die toekoms in die skaduwee van daardie einste boom kan sit.  Dit was vir my ‘n simbolies dag en handeling om bome te plant in hierdie gemeenskap waar ons vir hierdie kleuters en die res van die Booysens Gemeenskap kon wys ons glo in ‘n groener en beter toekoms!

Hoeveel mense het deelgeneem?
Ons was ‘n groep van so 40 mense van Wild Route, Atterbury Trust, GROOTfm 90.5 en dan ook een van ons kliënte en vriende, Pieter Naude en sy span van Spectacle Warehouse. Spectacle Warehouse het die geleentheid gebruik om as kollegas bietjie span te bou, het gesigte geverf met bome en blare op en het ook die 50 bome wat ons geplant het, geborg!

Hoekom het julle juis Riviervaderlandswilgerbome gekies?
Ons het ons laat lei deur Danie van Eeden, die eienaar van Wild Route. Die huidige boompies kom van Wildlands se Tree-preneur projek in Vosloorus; wat nou verskuif het na Wild Route kwekery in Pretoria. Dit is belangrik om inheemse bome te plant, nie net enige bome nie. Inheemse bome is aangepas by die omgewing, gebruik minder water en verskaf kos en nesmaakplek vir ‘n groot verskeidenheid inheemse diere en insekte. Die algemene, geharde bome wat hier op die Hoëveld oorleef is die karee, die riviervaderlandswilg, olienhout, witstinkhout, en dan ‘n paar doringboomsoorte soos soetdoring, haakdoring, papierbas en apiesdoring. Danie vertel dat hulle hoofsaaklik bome plant wat goed aangepas is vir die koue en wat ‘n groter kans het om te oorleef, selfs al word hulle bietjie afgeskeep.

Wat was die hoogtepunt van die dag?
Baie van ons omgeeprojekte gaan oor bevoorregte mense wat iets vir iemand anders doen. Ek dink die feit dat ons saam met die kleuters kon plant, was vir my ’n hoogtepunt! Hulle gaan hierdie boompies sien groei en het sommer dadelik spontaan en opgewonde verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en handjie bygesit met die plant en die natgooi.

Hoe werk die Tree-preneur konsep?
Danie dryf die Tree-preneur projek namens die Wildlands Conservation Trust in Gauteng. Dit het begin in arm gemeenskappe waar mense boompies kweek en dan “koop” Wildlands dit by hulle in ruil vir opvoedkunde-verwante items soos skoolgeld, skoolklere, boeke en skryfbehoeftes. Danie werk hoofsaaklik met skole om die administrasie te vergemaklik.

Daar is individue in ander provinsies wat Tree-preneurs is, maar in Gauteng werk Danie met skole en hulle kan weer verder van die ouers kry om te help.  Wild Route kry dan weer borge vir die bome (korporatief of individue) en plant die boompies by skole, kerke, gemeenskapsentrums en so aan.

Vir September probeer hulle om elke dag by ‘n ander skool of projek te plant aangesien dit boomplantmaand is, maar hulle plant eintlik reg deur die jaar.

Op hierdie stadium het hulle riviervaderlandswilgers en soetdoringboompies wat gekweek is die afgelope jaar, maar daar sal ook ‘n groter verskeidenheid boompies inkom deur die verloop van hierdie groeiseisoen.

Na die eerste 50 wat nou in Booysens geplant is, beplan julle nog ‘n plantdag?
GROOTfm 90.5 se volgende plantdag is sommer ‘n lekker kombinasie saam met ons Skoleprojek. Op Donderdag 17 September is dit Hoërskool Tuine se beurt om te wys of hulle moontlik Pretoria se skool met die beste gees is en op daardie dag gaan ons bome plant by die skool.  Die skool het ook reeds hulle hand opgesteek om as Tree-preneur 2016 se boompies te help kweek!

Kan enigeen ook aanklop en sê hulle wil bome hê om te plant, of hoe word besluit waar die bome geplant word?
Danie van Eeden en sy Wild Route span doen die plantwerk, want daar moet rekord gehou word vir die Wildlands ouditeure. Hulle plant saam met borge by skole of ander behoeftige plekke en sal wel van die boompies verkoop vir ander projekte, maar deel nie uit nie. Mense kan Wild Route nader met  voorstelle waar bome nodig is dan kan hulle altyd ‘n plantdag by die betrokke plek reël.

Hoe kan mense help of betrokke raak?
Een van drie maniere: “doen GROEN” deur vir slegs R35 ‘n boompie te borg, in die grond geplant met kompos en al! SMS die woord “BOOM” na 49905 (‘n SMS kos R1,50). Jy kan ook ‘n skenking maak direk in GROOTfm se bankrekening: GROOTfm, ABSA, taknommer: 632005, rekeningnommer: 150016641, verwysing: BOOM – jou naam en van.

Of kry jou kollegas bymekaar vir ‘n unieke spanbou en plant self die bome wat julle as maatskappy borg! Bespreek gerus jou span se plantdag by Danie van Eeden: 072 376 7831 of [email protected]. Korporatiewe spanne se betaling sal direk aan Wildlands gemaak word en ‘n belastingsertifikaat kan voorsien word vir die bydrae.

Of steek jou skool se hand op as “tree-preneur” wat help kweek aan volgende jaar se boompies!
Wild Route is ‘n groothandel-kwekery in Saintsstraat  in Swawelpoort in die ooste van Pretoria – hulle het daar ‘n skadu-huis gebou spesifiek vir Wildlands Conservation Trust waar die projek se boompies gehou en versorg word tot hulle geplant word.