Atterbury Trust artikel

Navorsing in haar bloed

Christie Blaauw is 23 en besig met haar M.Med.Sc in hematologie, ’n studie van die bloed, by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Haar liefde vir navorsing en die tipiese baanbreker-gesindheid van ons Atterbury Trust-beursstudente gaan sorg dat hierdie uitblinker beslis eendag ’n deurbraak in die mediese wêreld gaan maak!

Vertel ons bietjie van jou agtergrond en hoe jy deel van die Atterbury Trust-familie geword en in Bloemfontein beland het.
Ek is gebore in Vryburg in die Noord-Wes provinsie, en het by Hoërskool Vryburg matriek geskryf. Ek is die oudste van drie; ek het ’n 20-jarige suster en ’n 12-jarige boetie. Die beurs was te danke aan my tannie – toe ek in matriek was, het sy op die radio daarvan gehoor en die proses aan die gang gesit. My drie voorgraadse jare en ook ’n gedeelte van my honneursjaar is deur die beurs gedek. En ek het Kovsies gekies omdat ek op ’n plattelandse dorpie grootgeword en ’n boere-hart het – ek wou nie juis na ’n stadsuniversiteit gaan nie!

Wat was jou Plan B indien die beurs nie gebeur het nie?
Ek het aan die begin van my matriekjaar 24 beursaansoeke uitgestuur en net Atterbury Trust was suksesvol. Ek glo nie in toeval nie, maar wel in wonderwerke uit die hand van God. Ek het gebid vir ’n uitkoms en het geweet God sou voorsien. Ek het met my hele hart geglo dat God ’n uitkoms sou gee, en Hy het.

Hoekom het jy op hematologie vir jou meesters besluit?
My navorsing vir my meesters bou voort op wat ek gedoen het tydens my honneursjaar; ek bestudeer die stolling van bloed. Ek het met diere gewerk – meer spesifiek die “Chacma” bobbejaanspesie. My navorsingsfokus is op trombose en hemostase, oftewel plaaslike en algehele bloedstolling, maar vir die twee jaar van my meesters sal ek in fynere detail kyk na die samewerking tussen hematologie en kardiovaskulêre sjirurgie, met ’n fokus op die heropbouing van beskadigde slagare. Ek hoop dat my navorsing sal lei tot beter uitkomste vir pasiënte wat hartomlyningsoperasies moet ondergaan omdat ’n slagaar geblokkeer is

Wat is dit omtrent bloed wat jou so interesseer?
Navorsing in hematologie en regeneratiewe medisyne, oftewel “tissue engineering”, prikkel nou maar eenmaal my nuuskierigheid. Hematologie is ’n baie komplekse en uitdagende veld van mediese navorsing, en daar is baie ruimte vir nuwe navorsing in die veld van plaaslike en algehele bloedstolling. Wat “tissue engineering” betref is daar ’n groot tekort aan geskikte weefsel vir oorplanting, veral slagare tydens hartomlynings. Navorsing hierin laat my toe om my kennis van hematologie prakties toe te pas. My studie sal dus die wetenskap ’n bietjie nader bring aan die ontwikkeling van nuwe weefsel wat die pasiënt nie sal verwerp nie.

Wat wou jy geword het toe jy klein was en hoe vergelyk dit met wat jy nou beplan?
Ek wou van kleinsaf ’n dokter word. Ek het nie opgegee op die droom nie, maar my drome het eerder verander soos wat ek verander en gegroei het. Ek glo dat die regte deure oop en toe sal gaan op die regte tyd; alles volgens God se perfekte plan.

Wat glo jy is die grootste mediese behoefte vandag in Suid-Afrika?
Toegang tot basiese en noodsaaklike mediese dienste in veral afgeleë landelike gebiede is steeds ’n groot probleem. Teen die tyd dat die pasiënt verwys word en by ’n tersiêre hospitaal soos Bloem se Universitas Hospitaal uitkom, is daar reeds onomkeerbare skade aangerig wat moontlik verhoed kon word met ’n vroeë diagnose en behandeling – ons sien daagliks sulke gevalle.

Gestel jy word genooi om ’n groep potensiële beursborge toe te spreek, hoe sou jy hulle probeer oortuig om geld te skenk vir Atterbury Trust-beurse?
Eerstens moet ek noem dat met elke “Gro”-sessie saam met my mede-Kovsie Atterbury Trust-studente vanaf my eerstejaar, het ek elke keer in verstomming geluister na elke student. Daar was iets aan elke student wat hom of haar anders gemaak en laat uitstaan het. Almal het ’n storie gehad, ’n droom en ’n hart vol gedetermineerdheid… regtig die “it factor”! So as ek met borge moes praat sou ek net die stories van verskillende studente in die vorm van videos wys – net soos die stories die keuringspaneel se harte geraak het, sal dit beslis potensiële borge ook inspireer.

Watter mediese uitvinding glo jy het tot nou toe die grootste verskil in die wêreld gemaak?
Beslis Edward Jenner se ontdekking van immunisasie in 1796. Hy was ’n Engelse dokter wat gesorg het vir die ontwikkeling van ’n veiliger benadering tot immunisasie. Danksy hom en ander pioniers in die veld van immunologie is ons kennis oor hoe die immuunstelsel werk en hoe dit ons beskerm teen infeksie vandag soveel meer gevorderd.

En as jy enige mediese deurbraak kon maak, wat is jou grootste droom? Waarvoor sou jy eendag die Nobelprys wou wen?
Ek sou graag wou bydra daartoe om ’n slagaar van ’n kunsmatige materiaal suksesvol oor te plant, sodat dit nie deur die pasiënt verwerp word nie.

Inspirerende woorde deur ’n toegewyde jong navorser wat nog ver sal gaan… en haar studies is moontlik gemaak deur die goedgunstigheid van mense soos ek en jy. Word gerus een van ons familie van borge, en rus ons toe om die volgende generasie te help om ’n verskil aan die toekoms te maak. Kliek hier om te skenk.

Leave a Reply

%d bloggers like this: