Inligting

Datum: Saterdag, 20 Februarie 2016, 15:00 – 18:00

Plek: Voortrekkermonument, Amfiteater

Hekke open: 13:00

Gratis parkering en busvervoer

Kaartjies: Computicket

Koste: Volwassenes R 200. Skoolkinders: R 100. Voorskoolkinders: Gratis

Verversings (kos en drank) beskikbaar vir eie rekening

Eie piekniekmandjies welkom. Geen eie alkohol word toegelaat nie

Kunstenaars soos: Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Dr Victor, Adam Tas, Corlea Botha, Pieter Smith, Jak de Priester, Pieter Koen, Jannie Moolman, Beeskraal duo en André Venter.

Musiek en orkes: Onder leiding van Matthys Maree

Al het dit onlangs mildelik gereën in sekere gebiede van droogtegeteisterde Suid-Afrika, is dit nog nie genoeg om werklik ’n langtermyn verskil te maak nie. Baie boere bly steeds aan groot finansiële druk blootgestel, veral omdat saad nie geplant of diere gevoed kon word nie. Skuld hoop op en geld is skaars.

Min dinge snoer uiteenlopende mense in Suid-Afrika so saam soos ware nood. Baie van ons wil graag die boere help, maar weet nie altyd hoe nie. Nou is daar ’n geleentheid geskep om heerlik saam in Afrikaans konsert te hou en op dié manier finansieel te help om die gevolge van droogte te verlig.

Die gewilde Afrikaanse sanger Adam Tas het met die idee vorendag gekom om saam met sy musiekvriende konsert te hou om só geld in te samel vir droogtehulp: “Boere sorg dat ons elke dag kos het, hulle wy hulle lewe aan die natuur en die grond, maar is ook uitgelewer aan die wette van die natuur. Hulle ervaar nou groot geldnood.”

Om sy idee van ’n konsert vir die boere ’n werklikheid te maak, het Adam hande gevat met Caring Daisies, ’n fondsinsamelingsorganisasie wat sorg dat fondse wat ingesamel word, wel direk aangewend word vir die oorspronklike doelwit wat gestel is. Anria van Heerden, hoof van Caring Daisies verduidelik: “Ons wil graag vir almal die geleentheid gee om ander mense in nood te help. Die boere het nou hulp nodig. Met die Manna vir die Boere Konsert kan elkeen wat ’n kaartjie koop direk bydra tot hulp vir dié boere.” Caring Daisies het vroeër vandeesmaand die land aan die praat gehad met die vervoer van amper 2 000 bale voer na boere in Noord-Wes, die Vrystaat en Noord-Kaap.

Lood Bester van Wildswinkel het van die inisiatief te hore gekom en het dadelik hierdie toonaangewende wildorganisasie se ondersteuning aangebied. Op sy beurt het Louis van der Watt sy eiendomsgroep se ondersteuning deur middel van Atterbury bewillig. Jean Engelbrecht, een van die eienaars van Hinterland Vleishandelaars, het ook Hinterland se finansiële steun aan hierdie projek toegesê.

Onlangs het die motorvervaardiger Toyota en Media24, deur publikasies soos Landbouweekblad en Rapport, hulle ook agter die Manna vir die Boere Konsert geskaar.

Van die gewildste en grootste Afrikaanse sangers gee hulle tyd en talent gratis vir die konsert.

Al wat jou nou te doen staan is om kaartjies te bespreek by Computicket en om dan na die konsert te kom. As ons almal saamstaan gaan dit nie net ’n heerlike agtermiddag van konsert hou en saam sing wees nie, maar ook ’n ideale geleentheid om daadwerklik die boere se nood te help verlig.

Fondse wat ingesamel word sal deur Caring Daisies bestuur en versprei word.

Borge: Wildswinkel, Atterbury, Toyota, Hinterland Vleishandelaars en Media24

Kontak:

Media: Zahn Hulme, Atterbury Trust: 082 325 9225

Media kontak rakende die konsert: Alexa Strachan: 083 273 9768

Caring Daisies: Anria van Heerden: 0861 55 33 33

Algemene navrae: Caren van der Merwe: 082 326 8272

Inligting is beskikbaar op www.caringdaisies.co.za

Caring Daisies agtergrond

Caring Daisies is ’n inisiatief wat sedert 2010 gedryf word deur ’n groep vriendinne met net een doel voor oë – om mense bewus te maak van die wonderlike gawe en voorreg om te kan gee en in die proses lewens te verander. Die Caring Daisies is hoofsaaklik ’n fondsinsamelingsorganisasie waar almal hulle tyd vrywillig skenk om ’n verskil te maak. Elke persoon wat deur die Caring Daisies ondersteun word, raak deel van die wonderlike geskenk van gee, en sal waarskynlik ontdek dat jy in die proses meer ontvang, as dié vir wie jy gee.  Elke sent wat hulle ontvang, word bestuur en aangewend waar dit werklik ’n verskil maak, in hierdie geval die boere. Elke projek wat aangepak word, word gedoen met harte vol liefde en ‘n leuse van, “Leef ’n Lewe van Gee!”.