Ons betrokkenheid as aandeelhouer in die Isa Carstens Akademie en die nuwe kampus is ’n rol wat Atterbury baie geniet, so ons is in ons noppies met die splinternuwe Isa Dameskoshuis. Ons het by inwonende hoof Mignon Paulsen gekuier om te hoor hoe anders hierdie moderne fasiliteit is as die gewone universiteitskoshuise waar sy self vir vyf jaar tuisgegaan het…

Waar het die idee van ’n Isa Carstens koshuis vandaan gekom?   
Daar is altyd ’n akkommodasiebehoefte vir studente wat van ver kom.  Ouers voel tog dat ’n koshuis ’n veilige tuiste is vir hulle kinders.

Aanvaar julle net Isa Carstens-studente? Hoeveel meisies kan julle huisves?
Ons Isa studente kry sover moontlik voorkeur en dan maak ons die res van die koshuis vol met verkieslik UP studente. Ons is besonder goed geleë vir meisies wat by Tuks swot. Die toelatingsproses van buite-studente word baie noukeurig gedoen met die nodige onderhoude en keuringsprosesse. Ons is op soek na hardwerkende studente wat wil deelneem en by die koshuisomgewing inskakel.  Tans kan ons eerste koshuis 66 meisies huisves.

’n Moderne koshuis is seker iets heeltemal anders as die instellings wat in boomryke lanings op ons land se ou gevestigde kampusse staan…
Ja ons moes iets baie spesiaal skep wat tot die studente spreek. Net een kyk na die moderne, pragtige koshuis is egter genoeg om enigeen te oortuig dat Isa Dameskoshuis die plek is waar jy wil bly. Die kamers is ruim, sonnig, luuks afgewerk met groot kaste, genoeg pakplek, muurproppe, muurverwarmers en LED nood-studieligte (om maar net ’n paar elemente te noem). Die badkamers is pragtig, modern en daar is meer as genoeg fasiliteite in elke seksie van 16 studente om enige vroeë oggend se toustaan by die badkamers te voorkom.

Aangesien julle hoofsaaklik Somatologie studente huisves neem ek aan daar is BAIE spieëls met baie lekker lig?
Ja! As daar nou een ding is waaraan daar nie ’n tekort is nie, is dit spieëls en pakplek en ook sommer ’n hele ekstra toesluitbare stoorplek onder die bedbasis. Mens kan sien dat Mnr Roos en sy span al ’n paar jaar met die Isa studente te doen het en sonder twyfel weet wat die prioriteite is. Saam met dit moet ek darem noem – moenie dat die mooi gegrimeerde gesiggies jou ’n rat voor die oë draai nie. Hierdie meisies weet van toewyding en harde werk en is sonder twyfel voorlopers in die Somatologie industrie.

Wat maak Isa Dameskoshuis anders as die ander verblyfopsies vir studente?
Jong, Isa Carstens Akademie en Atterbury het niks minder as puik werk met hierdie koshuis gedoen nie! Hulle het studente-verblyf na ’n heel nuwe vlak geneem. Isa is die perfekte “home away from home”, met die moderne gevoel en uitleg wat die gemiddelde jong mens in 2016 wil hê. Ons bied veilige parkering, goeie sekuriteit en ons sentrale ligging (naby Brooklyn, Menlyn, Tuks hoofkampus en die naaste studente kuierplekke) maak die besluit om in Isa Dameskoshuis te bly net soveel meer aantreklik.

Hoekom verkies studente om by ’n koshuis te woon eerder as privaat in ’n woonstel? Wat is die voordele?
’n Koshuis-opset gee vir enige meisie ’n veilige, gekontroleerde, maar gebalanseerde omgewing om ’n goed aangepaste volwasse, jong vrou te word. As ’n tiener besluit om na matriek te gaan swot is daar heelwat uitdagings en veranderings om in ag te neem: ’n onbekende omgewing, nuwe maats, akademiese verpligtinge en baie ander emosionele en sosiale uitdagings. ’n Koshuis maak ’n paar van hierdie kwessies net  daardie klein bietjie meer hanteerbaar. Dis veilig en daar is struktuur en balans tussen akademiese en sosiale verpligtinge en die koshuis gee die nodige ondersteuning. Die ander voordele is natuurlik dat die Isa studente altyd op soek is na kliënte op wie hulle kan werk en ook hulle eksamen doen. Vir studente is enige gratis salonbehandeling nie te versmaai nie! Daarmee saam, word jy dadelik geplaas in ’n omgewing met meisies wat in dieselfde seisoen van hulle lewe is as jy. Aan die einde van die dag kan jy die bande wat tussen hierdie vier mure gebou word, vir niks verruil nie…  Isa Dameskoshuis se slagspreuk is nie verniet “Friend for Life” nie.

Wat is die beskikbare kamer-opsette: enkels, dubbels, ens?
Ons eerste koshuisblok het plek vir 66 studente. Daar is 30 dubbelkamers beskikbaar en die ses enkelkamers word bespreek vir die Huiskomitee, wat uit tweede- en derdejaars bestaan. Die koshuis is opgedeel in vier seksies, elk met sy eie sitkamer. Die sitkamer het ’n yskas, mikrogolf en kombuisfasiliteite en elkeen het ook sy eie lekker groot plasmaskerm.

Is dit duur om by die koshuis in te woon?
Ons fooie is in dieselfde prysklas as die ander koshuise in Pretoria. As jy dit vergelyk met ander studente-akkommodasie en die voordele byreken wat ligging, sekuriteit, kamerspasie en geriewe betref is dit werklik goeie waarde vir geld en ook aansienlik goedkoper as privaatverblyf in die omgewing.

Watter aktiwiteite is reeds op die koshuis se jaarplan?
Ons het net verlede week ons eerste “social” gehad met ’n manskoshuis by Tuks en almal het dit vreeslik geniet. Ons gerieflike kelderverdieping maak die ideale kuierplek vir studente, in alle weersomstandighede.  En dit was maar net die begin. Verder het ons Isa Huisweek, ons Lentedans en ’n paar opwindende fondsinsamelings beplan met ander Tuks-koshuise. Dit is vir ons baie belangrik om goeie verhoudinge met Tuks te bou sodat die Isastudente kan deelneem aan die universiteit se studente-aktiwiteite.

Julle het in Februarie ingetrek – is almal reeds ingeburger? Was daar enige groeipyne?
Dit het ’n paar maande gevat, maar nou is dit regtig ons “home away from home”. Elke gebou het maar sy groeipyne en dis iets wat net die eerste groep meisies wat hier ingetrek het sal verstaan. Nietemin, dis min dat ’n mens die kans kry om ’n badkamer te gebruik, in ’n bed te slaap, sitkamer, kombuis of kamer te leef waar nog niemand voorheen gebly het nie en dit was werklik vir ons ’n eer om hierdie koshuis saam in te wy. Dit was immers net ’n gebou todat ons dit ’n “huis” gemaak het en elke meisie het so ’n groot aandeel in die volledige prentjie wat ons vandag hier sien.

Is daar reeds Isa Dameskoshuis tradisies wat julle wil vestig? Hoe lyf julle groentjies in, byvoorbeeld?
Ons het ’n verwelkomingsweek voor die akademiese verpligtinge begin, waartydens ons die die eerstejaars deel maak van die huis, bekend maak met die omgewing en kans gee om bande te bou. Dis soms moeilik om by hierdie dinge uit te kom as die jaar eers afgeskop het. Wat tradisies betref, ons het beslis reeds ’n paar! Ons het die jaar afgeskop met die Isa Klok wat elke meisie lui op haar eerste aand in die koshuis (wat sy ook weer sal lui op haar laaste aand hier, na sy klaar is met haar derde jaar). Ons het ook al ons Waardes Aand gehad waar die Isa Waardes, wat in die toekoms die basis sal vorm van alles wat ons aanpak, aan die meisies bekendgestel is. Ons het ook Huisdrag en die meisies dra hulle koshuishempies met trots. Daar is meer, maar ons wil dit nie bederf vir nuwelinge wat nog op pad is nie ☺.

Dit klink fantasties, is daar nog plek beskikbaar?
Ons het verseker nog ’n paar plekke in die koshuis vir 2016. Ons is ook reeds besig om vinnig vol te raak vir 2017 – en ons is buite onsself van opgewondenheid om ons nuwe koshuisgroep te ontmoet!

Vir meer inligting oor Isa Dameskoshuis, besoek die webwerf www.isacarstens.co.za of skakel 062 375 3636