“Jy moet die lewe ’n kans gee”

“Jy moet die lewe ’n kans gee”

Die beursfonds wat Atterbury Trust administreer, is ’n lewenslyn vir baie jong slimkoppe wat geen ander manier het om tersiëre onderrig te bekostig nie. Bolandse nooientjie Levonia Isaacs kom uit ’n familie van ongeskoolde plaaswerkers en sy is die eerste van haar familie wat ná skool verder kan gaan swot. Die 19-jarige het pas begin met haar Spa Ontvangskursus by Isa Carstens in Stellenbosch.

Jou kursus is half teorie en half prakties, sê jy. Hoe verloop ’n tipiese dag by die Isa Carstens Akademie?
Oggende is teorie,en in die middag volg die prakties. Ons leer ook skoonheidsterapievakke, soos naeltegnologie, en grimering. Daar is 12 van ons in die klas, en dis ‘n eenjaarkursus. Ek het met die vakke wat ek gekies het, so twee tot drie dae van die week klas. Na ure is daar natuurlik hersieningswerk en take, en ons skryf gereeld klein toetsies om seker te maak ons bly by. Ons almal gebruik ‘n elektroniese, aanlyn-platform met die naam Moodle, waarop ons alles doen – ons roosters en take is daarop, ons doen ons toetse daarop en kry ook daarop ons uitslae; alle kommunikasie met ons lektore is ook daarop!

Vertel ons bietjie van jou agtergrond?
Ek het grootgeword op ‘n plaas in Lynedoch, ‘n klein dorpie naby die Spierwynlandgoed op Stellenbosch. Ek het gekies om eerder by my ouma en oupa te bly op die plaas waar hulle gewerk het – daar het ek na die plaasskooltjie gegaan tot Graad 7. Na laerskool het ek toe na my ma-hulle toe getrek in Eersterivier om daar hoërskool toe te gaan. My ouma en oupa het toe ook afgetree en saamgetrek Eersterivier toe. My ouers werk ook in Lynedoch op ‘n plaas, en ek het een boetie van 13, wat in ‘n ander plaasskooltjie is. Ons bly nou almal saam in Eersterivier.

Hoe voel dit vir jou as die eerste in jou gesin om verder te studeer – voel dit soos ‘n groot verantwoordelikheid?
Ja dit is nogal. Ek het ook nie gedink ek sal die kans kry nie – my ouers werk op die plaas en het nie geld nie so ek het gedink dit sal maar net ‘n droom bly. En nou wil my die heel beste doen, sodat ek aan die einde van die dag ook vir hulle ‘n beter lewe kan gee.

Hoe het jou van Atterbury se beursprogram te hore gekom?
Ek het flink beurse gesoek, want ek het geweet dis my enigste kans om verder te leer, en het verskillende pamflette by die skool gekry. My ma se werkgewer het geweet van die soektog en sy het my gehelp om aansoek te doen; ek het nie ‘n rekenaar gehad met internet-toegang nie, so dit was so ‘n groot hulp. En sy het ook laat weet dat Atterbury my vir ‘n onderhoud wou sien!

Hoe het jy besluit op skoonheidsterapie, en Isa Carstens?
Ek wil maar nog altyd, van ek klein was, mense mooi maak! Ek het altyd met mense se hare gespeel, en naels geverf en so aan. Iewers op hoërskool het ek gedink ek wil ‘n sielkundige of ‘n maatskaplike werker word sodat ek mense kan help, maar ek het meer daaroor uitgevind en besluit dis darem ‘n swaar pad om heeltyd met sulke hartseer te werk. My passie is om mense mooi te maak, het ek besef, en so was dit waarvan ek gedroom het. En toe in Graad 11 hoor ek van Isa Carstens by ‘n loopbaanuitstalling by my skool, waar ek gesien het wat hulle alles bied –  van die opleiding tot by werksgeleenthede en geleenthede om op ander plekke te werk, en toe het ek besluit.

Wat sou jy vanjaar gedoen het as jy nie hierdie beurs gekry het nie?
Ek sou maar aanhou probeer het om ‘n beurs te kry… daar was nie ‘n ander opsie as om ook op die plaas te gaan werk nie. Ek het vir die Here gevra om te help.

Is daar iemand in jou lewe wat jy as ’n mentor beskou?
My ma, Jolene Pietersen, is my mentor – ek kan na haar opkyk, en sy het my gebring tot waar ek nou is.  Ek wil alles vir haar doen, en ek wil verder leer soos sy altyd vir my wou hê, sodat ek vir myself en ook vir my ouers op die ou end ‘n beter lewe kan gee.

Wat reken jy is die belangrikste lewensles wat jou ma jou geleer het?
My ma het nog altyd vir my gesê, “Levonia dit gaan nie altyd oor jouself nie, dit gaan nie altyd maanskyn en rose wees nie, maar jy moet die lewe ‘n kans gee.” Solank ‘n mens doen wat jy moet doen, en hard werk, sal die lewe bring wat moet gebeur, en dit het sy my geleer.

Dis nou ‘n maand later – hoe het die studentelewe jou verras?
Ek het gedink ek sal alleen wees en sukkel om vriende te maak, en ek was maar lekker bang vir die eerste dag: wat sal ek sê? Hoe gaan ek inpas? Wat as ek uit voel? Maar ek was so verkeerd! Ek het nou al so baie vriende, almal is baie vriendelik. My ma sê net: “Sien jy nou?”

En wat was vir jou die grootste aanpassing?
Jy moet meer verantwoordelikheid vir jouself aanvaar as op skool, en self besluit oor hoe jy jou tyd deurbring – wanneer om te werk, wanneer om te kuier. Daar is BAIE meer werk, en baie toetse! En alles is aanlyn, waaraan ek moes gewoond raak. Ek het in die begin nie ‘n laptop gehad nie, tot iemand gelukkig vir my een geskenk het. Maar die onafhanklikheid is lekker, en al die nuwe vriende! Almal help mekaar, ons is ‘n baie lekker groep.

Waar hoop jy om oor vyf jaar te wees – wat is jou toekomsdroom?
Ek wil graag nog kursusse doen, en ervaring kry in my veld; dalk ‘n bietjie oorsee werk sodat ek vir my ouers kan geld stuur. Ek sal vreeslik graag in Parys of Doebai wil werk, of op ‘n skip. En as ek lekker ervaring het, wil ek terugkom en my eie besigheid begin.

Wat sou jy vir mense sê wat dink daaraan om skenkers te word aan die Atterbury beursfonds – hoekom is dit so belangrik?
Daar is so baie minderbevoorregte kinders wie se ouers nie kan geld wegsit sodat hulle verder kan leer nie. En ‘n beurs soos hierdie maak ‘n toekoms moontlik, en maak iets wat so moeilik is, maklik. As mens nie die kans gehad het nie, en nou het jy, wil jy hard werk en suksesvol anderkant uitkom met ‘n trotse hart.

Met jou hulp kan ons meer jongmense in Levonia se posisie ‘n gelyke kans gee om hulle potensiaal te bereik. Word deel van Atterbury Trust se skenkersfamilie en maak ‘n verskil aan ‘n hele generasie. Om te skenk is baie maklik, en jy kry ‘n belastingvoordeel. Kliek hier en vind meer uit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.