Na skool was ek nie seker of ek sou kon studeer nie omrede my ouers gesukkel het om my broer se studiegelde te betaal. Ek het eers ’n “gap” jaar gevat deur in ’n rigting te gaan werk wat presies teenoorgesteld is van wie ek, Riaan, werklik is. Ons het in 2009 van Atterbury Trust gehoor en ek het besluit dat ek iets agter my naam moet kry om makliker ’n voet in die deur te kry in terme van werk. So het ek kon inskryf by NWU in Potchefstroom vir B.Com Bemarking in 2010. Atterbury Trust het dit vir my moontlik gemaak om daar te gaan studeer en my studies ten volle betaal. Dit het goeie vrugte afgewerp tydens my eerste jaar as bemarkingstudent.

Soos die lewe maar maak, loop dit snaakse draaie en ek is ’n pos aangebied by Credo Books (Pvt) Bpk waar ek studentewerk gedoen het aan die einde van 2010. Dit het ook gelei na verskeie veranderinge in terme van tyd, kostes, universiteit en ook my kursus wat verander het. My kursus het van B.Com Bemarking na B.Com Bestuur by UNISA verander.

Steeds het Atterbury Trust my gehelp en dit moontlik gemaak deur my finansieel en emosioneel, deur Grolife se hulp, te ondersteun om die wa deur die drif te trek sodat ek graad kon vang. My graad is suksesvol aan die einde van 2014 voltooi. Hier staan ek nou met my graad op 7 April 2015, alles te danke aan ons Hemelse Vader, my ouers wie my ondersteun het deur die laat nagte van studeer en Atterbury Trust wat dit finansieel moontlik gemaak het vir my en vir vele ander studente wie ook op hulle eie toekoms kan voortbou danksy Atterbury Trust.

Baie dankie aan die span by Atterbury Trust en alle betrokkenes vir wat julle doen in ons lewens en die verskil wat julle maak. Ek sal ook daarop uitgaan om verder ’n verskil te maak in ander mense se lewens.

Vriendelike groete

Riaan van Tonder

IMG-20150407-WA0004