ʼn Onlangse inskrywing op die Afrikaanse skrywer prof. Hans du Plessis se Facebook-blad, waar hy vra vir steun om die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ʼn inklusiewe Afrikaanse kampus te hou, het wye reaksie op sosiale media uitgelok. In ‘n onderhoud op Maroela Media se webwerf sê die Prof dat dié inskrywing nie was “om te redeneer of te baklei nie”.

“Ek wou nie my stem dik maak of met iemand baklei nie. Ek wou bloot uitvind hoeveel mense soos ek voel om die Potchefstroom-kampus inklusief Afrikaans te hou,” het hy verduidelik.

“Dit beteken om die kampus te hou soos hy nou is: ʼn plek waar Afrikaans tuis is, maar nie ander sprekers van tale soos Engels of Setswana uitsluit nie. Afrikaans is die ankertaal, maar g’n mens word uitgesluit nie. Mense wat tans na die NWU-Puk toe kom, weet hulle kom na ʼn Afrikaanse universiteit toe, maar dat ander sprekers verwelkom word deur middel van tolkdienste.”

Hy is van mening dat die onlangse besluit om die Universiteite van Pretoria (http://maroelamedia.co.za /nuus/sa-nuus/universiteit-van-pretoria-kies-slegs-engels-taalbeleid/) en Stellenbosch (http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/nuwe-us-taalbeleid-aanvaar/) hoofsaaklik Engelse kampusse te maak, ‘totaal onaanvaarbaar’ is. “Dit voel vir my of die mense Afrikaans ignoreer. As die vraag nie meer daar is vir Afrikaans nie, is dit piekfyn, maar dat daar werklik geen vraag na Afrikaans is nie, is nie waar nie. Dis anders om die NWU inklusief Afrikaans te hou, omdat ons niemand uitsluit nie, maar ander universiteite wil eksklusief Engels wees.”

Du Plessis sê die Potchefstroom-kampus sal slegs Afrikaans bly deur iets te doen en nie terug te sit nie. “Dis eenvoudig: ons moet kyk of ons steun het daarvoor, soos met die Facebook-inskrywing. Wanneer mense dit dan ondersteun, soos hulle gedoen het, weet ons ons is op die regte pad, maar moet ook nie ander tale uitsluit nie, en die Potchefstroom-kampus doen dit ook nie,” het hy bygevoeg.

Hy waarsku dat mense nie die boodskap verkeerd moet verstaan nie. “Dit gaan nie oor Afrikaners nie, en nee, dis ook nie ʼn ‘kleur ding’ nie. Dit gaan oor almal wat Afrikaans gebruik; die hele Afrikaanse gemeenskap word hierby ingesluit.”

Hy sê ook die “oorweldigende” ondersteuning wat dié Facebook-plasing ontvang het, gee hom hoop dat die kampus wel Afrikaans sal bly. Meer as 213 000 mense is intussen deur die plasing bereik, vertel hy. Die plasing is ook meer as 3 000 keer gedeel.

“Mense kon sien dis nie ʼn aanval nie. Dit was bloot ʼn toets om te kyk hoeveel ander soos ek voel. Ek het nie op my agterpote probeer staan en sê as die kampus nie Afrikaans bly nie, dan gaan ek begin baklei nie. Ek het gevra dat mense verstaan ander tale word nie uitgesluit nie, maar dat ons dié kampus hoofsaaklik Afrikaans hou. Mense het dit verstaan, want selfs Engelssprekendes het laat hoor ‘I agree’.”

Du Plessis meen die Afrikaanse gemeenskap moet nou saam staan om die Potchefstroomkampus Afrikaans te hou. “Ek dink die Afrikaanse gemeenskap het nog genoeg guts. Ons kan dit regkry sonder om te baklei of weg te hardloop.”

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Vind Prof Du Plessis se Facebookblad hier https://www.facebook.com/hans.duplessis.1/?fref=ts