Atterbury se Leonie du Preez was die gasspreker by Beyers Bytjies se jaarlikse damestee wat onlangs by Laerskool Generaal Beyers se skoolsaal gehou is; en sy was ook nou betrokke by die reël van hierdie spesiale dag. Sy vertel ons hoe dit alles bymekaargekom het…

Vertel ons van die oggend se verrigtinge.

Dit was omtrent ‘n gedruis en gewerskaf van vroegoggend af! Die mammas wie se dogtertjies in Beyers Bytjies Kleuterskool is, het tafels gedek, koekversierings gemaak en die saal versier met kant en maskers.

Was daar ‘n tema vir die dag?

Die tema was maskers, en elke tafel is individueel opgemaak. Elke tafel het ‘n storie vertel en dit was regtig uniek en besonders.

Wat was alles op die vermaakprogram?

Die oggend was ‘n feestelikheid. Die dogtertjies van Beyers Bytjies het modeparade gehou. Klein prinsessies het op die verhoog gestap met blinkers en hoëhakskoene. Die mammas het gesing en gedans en elke prinsessie aangemoedig om te skyn. Daarna was daar lyndansers wat almal op hulle voete gehad het – hulle het selfs vir die dames ‘n les in lyndans gegee…dit was omtrent pret!

Jy was die gasspreker… waaroor het jy die gehoor toegespreek?

Omdat die tema “maskers” was, het ek dit gebruik as my uitgangspunt en ek het dit so beplan dat die mammas aktief kon deelneem aan die gesprek. Kortliks het dit gehandel oor twee aspekte as dit kom by die maskers wat ons almal dra. Eerstens moet ons ons masker daagliks verfris, het ek gesê. ‘n Mens se gesig is die eerste ding wat ander van ons sien en ons kan dit verfris deur opreg te glimlag, en opbouende woorde te spreek. Tweedens moet elkeen van ons vier wie ons is – die boodskap was dat daar net een persoon op aarde is soos jy, en daarom moet jy dit vier.

Dit klink pragtig! Was daar ander vermaak? 

Die gaskunstenaar vir die dag was Louis-John, ‘n baie talentvolle sanger met ‘n pragtige stem. Hy het ons almal verras en met sy klokhelder stem en sy eie liedjies die dames vermaak. Dit was regtig ‘n voorreg om hom daar te hê. Dit was so ‘n lekker oggend, ek is so trots op die personeel van Beyers Bytjies wat so ‘n wonderlike funksie aanmekaargesit het!