Atterbury Trust se Moedertaal Ontwikkelings Inisiatief (MOI) begin die proses om bruin Afrikaanssprekende kinders tot op universiteitsvlak te mentor reeds in Graad 7. Programbestuurder Jenene Petersen vertel meer van hierdie holistiese beursprogram.

Wat is die hoof-oorweging om reeds in Graad 7 met die mentorproses te begin?
MOI is ’n holistiese beursprogram en dus is die fokus op akademie, maar ook emosionele en geestelike ontwikkeling. Hierdie voorbereidingsjaar gee ons die geleentheid om elke kind persoonlik te leer ken op ’n sosiale en emosionele vlak en ook ‘n vertrouensverhouding te vestig. Dit is belangrik dat die leerders MOI se waardes aanneem en ook daagliks uitleef, so hulle ontvang die nodige gereedskap om die nuwe fase van hulle lewe met ’n gevestigde identiteit in Christus aan te pak.

Die akademiese kurrikulum is gerig op fundamentele beginsels wat dien as boustene vir verdere hoërskool-onderrig. Ons ondersteun leerders akademies, met Afrikaans (moedertaal); Engels (eerste addisionele taal) en wiskunde. Uit ondervinding het ons ons geleer dat ons nie kan wag totdat die leerders in die hoërskool kom voordat ons ondersteuning moet gee nie. Die voorbereidingsprogram het dus ten doel om hulle ’n gelyke wegspring te bied met die res van die Graad 8s wat afkomstig is vanaf hoër-kwintiel skole.

Hoeveel van hulle is daar vanjaar?
Daar is tans 11 Graad 7-leerders in ons voorbereidingsprogram.

In watter laerskole is hierdie kinders tans, en watter rol speel MOI met hul plasing in hoërskole?
Hulle is in laerskole wat versprei is oor Stellenbosch, die Paarl en Somerset-Wes, insluitend Rietenbosch Primêr, Idasvallei Primêr en AF Louw Primêr in Stellenbosch, Somerset-Wes Laerskool en Laerskool Drakenstein in die Paarl. MOI begelei die ouers en leerders ten opsigte van hoërskool-plasings. Ons het bestaande verhoudinge met vele uitnemende hoërskole in die Wes-Kaap, en ons adviseer die ouers dienooreenkomstig, ook met die oog op waar hul kind die beste sal aanpas op grond van die psigometriese toetse en leerder se persoonlikheid en talente, sodat hulle die beste ingeligte besluit kan maak. Dan ondersteun ons hulle verder deur die aansoekprosesse by die Wes-Kaapse Onderwys Departement en die onderskeie skole.

Presies wat behels die prep jaar – wat word alles vir die leerders beplan?
Die doel van die voorbereidingsjaar is om hulle gereed te maak vir die groot sprong na hoërskool.

Ons het reeds met die ouers ontmoet en terugvoering gegee oor die leerders se vordering in die tweede kwartaal. Ouervergaderings word aan die begin van elke kwartaal gedoen en die inkoop van die ouers is van kardinale belang vir die vooruitgang van hul kinders.

Ons beplan hoërskoolbesoeke met die nuwe Gr 8-leerders van 2024 om hulle bekend te stel aan hulle nuwe omgewing en ook sodat hulle en hul ouers die skoolhoof en graadhoof leer ken. Hulle en hul ouers word emosioneel voorberei vir die koshuis en ook vir die groot verantwoordelikheid wat kom met die aanpassing aan koshuisstruktuur, goeie tydbestuur en sosiale interaksie met die res van die koshuisleerders.

Hoeveel kinders sal in die program wees wanneer hierdie klompie by die bestaande MOI groep aansluit?
Sodra die Graad 7s volwaardige hoërskoolbeurshouers word, sal die MOI groep volgende jaar uit 86 leerders bestaan.

Hoe weet julle die MOI benadering werk?
Die MOI hoërskoolbeursprogram is tans in die vierde bestaansjaar en ons het reeds vele aanpassings en toevoegings gemaak oor die jare omdat ons strewe om die jongmense se volle potensiaal te ontwikkel. MOI is meer as net ’n beursprogram – dit is gemik op leierskapsontwikkeling en entrepreneurskap. Ons leerders moet ’n goeie matriek kry om vir verdere tersiëre opleiding te kwalifiseer, sodat hulle die vele behoeftes van die land kan aanspreek. Dit moet uit ’n plek van diensbaarheid en dankbaarheid wees omdat hulle ’n geleentheid  gekry het om hul drome te kan verwesenlik. ’n Goeie manier vir ’n student om dankbaarheid te toon is om as mentor ’n hoërskoolleerder se hand te neem wat in die fase is wat hul pas verlaat het.

Ons het 100 persent slaagsyfers, 2020 tot 2022. Ons het vanjaar ons eerste twee matrikulante. Ons groot toets is volgende jaar, met 20 matrikulante in die program. Sukses vir ons is leiers wat hul plek in die samelewing inneem met goeie vaardighede en entrepreneurs wat ’n oplossing bied vir die hoë werkloosheidsyfer in die land.  Ons help bou aan gemeenskapleiers met ’n positiewe waardesisteem wat op ’n lewensmissie is om die sosiale omstandighede van gemeenskappe te verbeter.

Kan jy ’n storie deel van een jongmens wat blom onder die aandag binne die MOI program?
Ons het middel 2023 begin met die mentorskapproses. Ons eerste in-persoon ontmoeting was gesellig op 25 Augustus by Asta in Stellenbosch, hoewel die mentors en mentees mekaar reeds ontmoet het oor Zoom en Whatsapp.  Een van hulle is die uitnemende Graad 11 leerder A-Jay Abrahams aan Parel Vallei Hoërskool. Hy en sy mentor, self ’n Atterbury Trust alumni, het mekaar reeds vroeër in persoon ontmoet. Die twee maak seker dat hulle mekaar se belangstellings ken en dit word deel van die gesprek. A-Jay se mentor deel loopbaan-advies en lewenslesse wat vir A-Jay ’n voordeel sal gee bo die res wanneer hy die volgende fase van sy lewe binnegaan. Hy is baie gefokus op sy studies en ons is seker dat sy doelwit ’n A-gemiddelde is. Sy mentor is beslis die motiveerder wat hom sal help om sy doelwitte te bereik.