Angel Dyata wag vir haar matriekresultate, en die hele Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI)-span wag saam met haar want dié blink-oog meisie is een van die heel eerste twee matrieks in hierdie beursprogram vir bruin Afrikaanssprekende leerders in die Wes-Kaap. Ons het met haar gesels oor haar MOI-reis.

Jy sal altyd onthou word in herinneringe aan MOI se eerste matriekjaar; kan jy met ons ’n gunsteling herinnering deel van jou jare saam met MOI?
Daar is baie mooi herinneringe en die eerste een wat by my opkom is die dagtoer saam met Ivor Swarts op die rooi bus deur Kaapstad na Houtbaai en die kuier bo-op Tafelberg. Ivor se lewensverhaal en hoe hy sy uitdagings oorkom het, was aangrypend. Ek het geleer dat elkeen van ons ’n storie het om te vertel. My storie is uniek en my storie moet ek met ander deel.

Hoe het jy by MOI uitgekom? Skets vir ons jou huisgesin met woorde?
Ek is deur Bloemhof Meisieskool geïdentifiseer deur tannie Carla van Rensburg om aansoek te doen vir die MOI hoërskoolbeurs. Die beurs het aanbeveel dat ek by die koshuis tuisgaan. Dit was asof God my gebede verhoor het. Ek is een van twee susters. My ouer suster was in 2015 in matriek. Ons gesin woon in Kyamandi, Stellenbosch. My ma is my anker in my lewe. Sy is hardwerkend en help graag in die gemeenskap. Sy wil graag hê ek moet suksesvol wees en ’n goeie kwalifikasie verwerf.

Nou dat alles verby is, wat gaan jy mis omtrent skool?
Ek sou nooit kon droom dat ek eendag my matriek by Bloemhof sou verwerf nie. DIt was so ’n voorreg en ek kan net dankie sê aan al die mense wat in my geglo het en die geleentheid aan my gebied het. Bloemhof het unieke waardes en tradisies omdat dit ’n meisieskool is. Ek gaan die kameraadskap en my maats die meeste mis.

Hoe het die MOI holistiese ontwikkelingsprogram jou hart/kop/hande verander?
Ek sal altyd ’n MOI ambassadeur bly. Ek het emosioneel asook geestelik baie ontwikkel.

Hart: MOI het my bewus gemaak dat die lewe nie net om myself gaan nie. Daar is baie meer mense wat minder as ek het. Wees dankbaar vir dit wat ek het en wees ’n goeie rentmeester daarvan.

Kop: MOI het my geleer dat ek enigiets kan word as ek dit glo en my denke verander sodat ek keuses uitoefen om dit te bereik.

Hande: my hande kan gebruik word om ander te omhels en om ’n verskil te maak in iemand se lewe. Ek moet my hande aanwend om dinge en mense op te bou (en nie om dit af te breek nie).

Wat was die grootste uitdaging tydens jou hoërskool-loopbaan en wat het jy gedoen om dit te oorkom?
My grootste uitdaging was toe ek as dagleerder daagliks met ’n taxi betyds by die skool moes uitkom. In die middae moes ek weer met ’n taxi terug huistoe. Dit is toe dat MOI met my en my ma gesels het om eerder die koshuis te oorweeg omdat dit sou help met my akademie en sosiale vaardighede. Die koshuis was die beste deel van hoërskool en ek kon na skool aan sport en kultuur deelneem.

Wat is jou planne vir volgende jaar?
Ek is voorlopig aanvaar by die Universiteit van Stellenbosch vir ’n BA graadkursus, en ek is verskriklik dankbaar dat ek aanvaar is om ’n Atterbury Trust rentevrye beurslening te ontvang. Ek wil graag onderwys studeer en in tale spesialiseer. Ek is reeds drie tale magtig – ek praat, lees en skryf Afrikaans, Engels en Xhosa.

Het jy ’n boodskap vir die nuwe Graad 8 MOI-beurshouers in 2024?
Ja, ek wil graag vir hulle sê geniet en waardeer elke oomblik van hoërskool. Gryp elke geleentheid aan en bou waardevolle vriendskappe en herinneringe, want in ’n oogwink is dit alles verby.

As jy kan bydra om die studiedrome van studente soos Angel te help waar word, oorweeg ‘n skenking aan Atterbury Trust. Die Trust staan al vir 25 jaar verdienstelike studente by met die hulp van onbaatsugtige donateurs. Alle skenkings kom met ‘n belastingvoordeel. Kliek hier om meer te hoor. Donasies aan MOI-leerders via die Atterbury Property Foundation NPC kwalifiseer ook vir ‘n B-BSEB sertifikaat.