Suid-Afrika se eerste landwye, volgehoue konserttoerkonsep loop nou al vir drie maande en bring kunstenaars en gehore in klein dorpies en groot stede bymekaar uit. Ons het by Optog! se organiseerder, Matthys Maree, gaan kers opsteek om te hoor oor geboortepyne en vroeë lesse en suksesse.

Optog! het op Valentynsdag afgeskop. Hoe gaan dit met die hele projek drie maande later? Is julle tevrede?
Ons is baie dankbaar om te trek waar ons doen met hierdie projek. Die leerkurwe is steil, maar elke tree vorentoe is ’n tree nader aan ’n struktuur wat die land baie nodig het. Daar is soveel fees- en kultuur-ambassadeurs regdeur SA, maar dis baie gelokaliseerd. Ons sal teen die einde van 2019 ’n fees sonder adres op die landskaart hê wat vir jare wat kom die kunste wiele sal gee!

Kan jy al getalle gee van hoeveel vertonings reeds gehou is, en hoeveel kaartjies verkoop is? Enige statistieke wat jy met ons kan deel?
Ons trek rofweg by 40 vertonings. Gehore van tussen 50 en 680 is verwelkom vanaf Hoedspruit tot Stellenbosch, Upington tot Oos-London en als tussen-in.

Watter vertonings was tot dusver die gewildste?
Nataniël en Laurika bly maar twee van ons land se grootste trekpleisters, en dis hoekom ons so trots is om Optog! te kon bekendstel met hulle reg aan die begin. Maar ons leer elke dag om gewildheid en sukses konstant te herdefinieër. Soms lê die grootste suksesse by kleiner gemeenskappe soos Hoedspruit, Springbok en Kuruman wat ons Optog! kunstenaars met ope arms en ‘n helde-ontvangs verwelkom.

En watter kunstenaar het tot nou toe die meeste shows gedoen?
Tot dusver loop Nataniël voor. Vanweë sy besige skedule moes ons sy vertonings vroeg in die jaar groepeer. Teen die einde van die jaar sal Jo Black egter voor in die tou staan met 27 vertonings, met 3 van die Bestes (Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo) en Laurika Rauch kort op sy hakke.

Met enige projek (en toer) duik daar altyd onvoorsiene uitdagings op. Wat was julle s’n sover? Enige lesse reeds geleer?
Elke dag voel soos ’n les! Ek reken ons grootste les tot dusver is om nie die eenvoud van op-die-grond bemarking soos ’n plakkaat teen ’n lamppaal te onderskat nie. Nasionale bemarking op televisie en sosiale media is toenemend belangrik, maar teatergangers in die platteland hou maar van iets sigbaars. Daarmee saam natuurlik die belangrikheid van die regte vennote op die grond. Mens weet nie dat jy met die verkeerde persoon hande gevat het tot daar bietjie pap op die grond geval het nie. Maar dan moet jy met waardigheid die hou op die ken vat en verder soek tot jy ’n waterdigte netwerk het. Wat gesoute kunstenaars oor dekades kon opbou, moet ons in ’n jaar doen en dis waarskynlik die grootste uitdaging, maar ook uiteindelik die grondslag vir die toekoms.

Hou julle by ’n voorafbepaalde skedule en lys deelnemers, of kan daar nuwe vertonings bykom soos die jaar aangaan? Hoe werk dit? Kan iemand wat wil deelneem nou of later nog bykom, en hoe word dit gehanteer?
Wat 2019 aanbetref is die lys kunstenaars finaal. dorpe en teaters mag egter wissel. Waar daar nie belangstelling is nie, beweeg ons weg en herskeduleer na ander lokale. Ons besef egter dat die inherente waarde van ons netwerk vir ’n wyer groep kunstenaars van waarde kan wees as net die handvol wat deel van Optog! is. In 2020 wil ons Optog! implementeer as dié netwerk wat enige vertoning na enige dorp kan neem. Enige iemand wat dus ’n vertoning wil reel, kan Optog! gebruik as agent om die kuns te bring na jou dorp of lokaal.

Wat is die verste pad wat ‘n kunstenaar moet reis?
Dit sou sekerlik Namibië wees! Ons oorweeg nog die verre Noorde, maar vir nou is Otjiwarongo een van die verstes.

Hoeveel geld is sover vir die ondersteuning van die kunste gemaak met die projek?
Ons het reeds ongeveer R100 000 spandeer om dit vir teatergangers wat andersins nie by vertonings sou kon uitkom nie, dit moontlik te maak. Verder is die uitdaging om lokale gereed te kry vir ons vertonings ’n deurlopende proses en sal ons eers teen die einde van die jaar ’n akkurate waardebepaling kan maak. Wat egter wonderlik is, is dat ongeveer R 8 miljoen aan fooie by Afrikaanse kunstenaars gaan uitkom. Optog! Skep dus werklik ‘n platform om geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars te skep om op te tree en ‘n goeie inkomste daaruit te verdien. So bou ons die Afrikaanse musiek- en teaeterindustrie nog verder uit, terwyl mense regoor Suid-Afrika die geleentheid te kry om topkunstenaars op hulle voorstoep te sien optree.

Watter vertonings word vir die res van Mei beplan – gee vir ons ’n vinnige idee waarna mense dié maand kan gaan kyk?
Ons is tans besig om druk gereed te maak vir Jo Black se Optog! toer wat afskop in Oos-London op 30 Mei, en dan volg PE, Hartenbos, Durbanville, Worcester, Kimberley, Bultfontein, Secunda, Sasolburg, Kroonstad, Parys en Pietersburg!

Het jy ’n boodskap vir konsertpromotors en ander mense wat konserte reël?
Ons sien as deel van (en uitbreiding op) die Optog! konsep dat dit die voertuig sal wees waardeur enige dorp, besigheid of entiteit vertonings sal bespreek. Die grootste uitdaging vir promotors regdeur die land is hoe om by kunstenaars uit te kom en die regte fooie te betaal. Daarmee saam die uitdaging van wat tegnies moet gebeur, wie dit moet voorsien en wat regtig nodig is. Eintlik maar als rondom die besigheid van konsert-aanbieding. Optog! wil in daardie leemte intree en die middelman wees wat selfs buite die offisiële Optog! aanbiedings konserte fasiliteer landswyd.

Vind alle inligting en jongste program op www.optog.co.za