Hoop jy nog hete kole op iemand se voorhoof, of sit jy eerder iemand in die oë? Het jy ʼn Afrikaanse ekwivalent vir “dab” (as ʼn fietsryer met sy/haar voet aan die grond raak; iets wat bergfietsryers vermy), ʼn “bae” (before anyone else), of “YOLO” (You only live once)?

Varsgebek is ʼn splinternuwe kompetisie wat alle sprekers van Afrikaans die geleentheid bied om nuutskeppings, vars uitdrukkings of nuwe idiome in te stuur en daarmee lekker pryse los te slaan.

Afrikaans is ʼn polsende, lewenskragtige taal met ʼn enorme reikwydte, maar soos enige ander lewende taal, is daar uitdrukkings en woorde wat in die volksmond bestaan wat nie in woordeboeke opgeteken word nie. Daarbenewens het ons vaktaal nodig wat met ons geïndustrialiseerde en gedigitaliseerde wêreld moet tred hou.

Taalgebruikers het met Varsgebek die geleentheid om sulke nuwe woorde, vakterme, uitdrukkings, idiome of streektaal wat nog nie in woordeboeke of ander taalbronne opgeteken is nie, by Varsgebek in te skryf. ʼn Paneel kundiges sal elke maand die inskrywings beoordeel en ʼn weninskrywing aanwys. Die wins vir die taal is dat al die inskrywings aan leksikograwe voorgelê word vir moontlike opname in woordeboeke en databasisse – en so bewaar ons ʼn erfenis vir die hele taalgemeenskap.

Daar is twee kategorieë waarvoor deelnemers kan inskryf. In die Sêgoed-kategorie kan enige talige skepping wat nuut, vars of onbekend is, ingeskryf word. Daar is elke maand ʼn wenner en aan die einde van die jaar word Varsgebek se algehele wenner aangekondig. Daarvoor is daar ook ʼn gewigtige prys op die spel.

Daar is nog ʼn kategorie, Kykgoed, waar grafiese voorstellings van bestaande of nuwe woorde en idiome ingestuur kan word. Dit kan ʼn prent, foto, grafiese ontwerp, illustrasie, video of animasievideo wees, solank dit ʼn eg Afrikaanse woord of uitdrukking uitbeeld. Enigiemand kan deelneem, maar ʼn graad 11- of 12-leerder kan ʼn studiebeurs van R150 000 in hierdie kategorie wen. Skole en leerders word dus veral aangemoedig om hiervoor in te skryf.

Inskrywings vind plaas op http://varsgebek.org. Die kompetisie duur van 1 Junie tot 30 November 2016, met maandelikse pryswenners in elk van die kategorieë.

Varsgebek is ʼn inisiatief van die WAT, HAT, die Taalkommissie, VivA, CTexT®, Netwerk24, RSG, kykNET, die ATKV en Afrikaans.com. Die Atterbury Trust ondersteun die inisiatief finansieel.

Vir meer inligting rakende Varsgebek, besoek gerus http://varsgebek.org of www.viva-afrikaans.org of kontak vir Marlie Coetzee by 018 299 1020, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ʼn Inisiatief van:

Varsgebek website VivA header