‘Modimole, Modimole, jy’s ingeskakel op Die GROOT Ontbyt.’ Nee, Pierre, dis ‘goeie more’!

Die gewilde kykNET-oggendprogram, Die GROOT Ontbyt, kondig met GROOT opgewondenheid aan dat Pierre Breytenbach eersdaags by die span gaan aansluit as mede-aanbieder.

Pierre is nie ‘n vreemde gesig en persoonlikheid vir die Suid-Afrikaanse televisie-industrie en sy kykers nie. Van sepies tot aktualiteits-programme, tot advertensie-veldtogte geweef met kwinkslae en woordspeling! Pierre is bedrywig as akteur, stemkunstenaar, skrywer, komediant, seremoniemeester, aanbieder, natuurliefhebber en avontuur-motorfietsryer. Gebore in Bloemfontein, drama-gegradueerde van UP, SAFTA-bekroonde komediant vir sy werk in Proesstraat, en SAFTA-genomineerde vir sy teaterwerk in “Marilyn Live”. Hy en sy vrou, Anzel, twee dogters en seun, is tans woonagtig in Pretoria.

Pierre spog met hoof- en ondersteuningsrolle in meer as 20 verskillende sepies en realiteitsprogramme – wat begin het met Generations en Egoli, tot meer onlangs in Getroud met Rugby. Hy is te sien en te hoor in 9 plaaslike films, 17 teater-produksies, en verskyn in die laaste 12-jaar in 14 advertensieveldtogte – van ‘I love it when you talk foreign’ tot die meer onlangse ‘I do, in Ad-do’!

Oor sy passie vir die kassie het hy die volgende te sê. “Die kassie is iets wat deel is van my. Ek kan nie mooi teken of moeilike somme maak nie, maar ek is bekkig, kreatief en nuuskierig. Stories is my ding. Om dit te vertel, te gaan soek, oop te krap. Die jaar wat televisie in Suid-Afrika begin het is ek ook gebore, so, mens kan maar eintlik sê die kassie het my gekies, nie andersom nie.”

Pierre is self baie opgewonde oor die nuwe vooruitsig, en sê dis vir hom ‘n heerlike geleentheid en ook ‘n massiewe uitdaging. “Ek geniet dit om in die oggend mense wakker te kuier en positief te wees. Dis bitter maklik om negatief of afbrekend te wees en ons maak soms daai fout. Ek ook. Dis maar menslik. Tog is die energie en stukrag van ‘n optimistiese benadering onomkeerbaar en onmiskenbaar. Die GROOT Ontbyt is ‘n platform waar ek dit kan toepas en uitleef, meer mense bereik, en ook meer leer. Oor alles. Daar is soveel in die wêreld wat mens kan leer as jy net bereid is om jou horisonne wyer te trek. Wees leerbaar. Wees oop en ontvanklik. Wees ingelig, al is jy ‘n middeljarige potjierol met ‘n grys baard en ‘n skewe tand, soos ek.”

Hy sê verder: “Ek sien baie daarna uit om saam met Elsa te werk. Sy is ‘n standvastige rots in die potensiële chaos wat ‘n regstreekse uitsending soms kan bring. Haar kalmte, en beredenerende benadering tot nuus en aktualiteit is vir my ‘n absolute voorbeeld van ‘n professionele uitsaaier. Ingelig en betroubaar, dog menslik en toeganklik. Dit gaan wel ‘n uitdaging wees om op Johrné se stoel te sit. Hy is waarlik een van die skerpsinnigste mense wat ek ken. Hy gooi ‘n reuse skaduwee oor Die GROOT Ontbyt. Die kykers is ook lief vir hom. Daar’s ‘n dinamika wat ontwikkel het oor die afgelope 7-jaar wat ek nie maklik sal kan naboots nie, maar dit is ook goed so. Elke aanbieder is uniek en elkeen het sy eie benadering wat wonderlik is.”

Alhoewel een van sy groot vrese die gebruik van die I-pad is, of soos hy dit noem, ‘masjienkie’, vertrou ons dat hierdie ‘n onvergeetlike nuwe avontuur vir Pierre gaan wees. Die GROOT-span is self baie opgewonde om voortaan nie net saam met duisende kykers wakker te word nie, maar ook nou saam met Pierre! Sy energie en passie, vir die lewe en die kassie! Baie welkom, Pierre!