Uitvoerende trustee Zahn Hulme was pas in Swede om die Sweedse geloofsgemeenskap toe te spreek oor die werk wat Atterbury Trust doen, met die mikpunt om stories van hoop te deel ’n nuwe generasie van dienslewerende leierskap te bou. Sy vertel meer.

Hoe het Atterbury Trust by hierdie projek betrokke geraak, en vertel ons meer oor die organiseerders en hulle belang by Suid-Afrika vanuit Skandinawië?
Die Swede is al vir baie jare betrokke by Suid-Afrika – hulle het destyds in die apartheidsjare-jare ’n groot rol gespreel om anti-apartheidsorganisasies te ondersteun. Weens hulle noemenswaardige rol in die bou van ’n demokrasie in Suid-Afrika is baie Swede nou bekommerd oor die korrupsie en gebrek aan verantwoordbare leierskap in Suid-Afrika. Tydens die onluste van 2021 in Kwazulu-Natal het geestelike leiers daar die hulp ingeroep van hulle Sweedse kollegas en so het informele gesprekke begin. ’n Afvaardiging uit Swede het die Sweedse ambassadeur, Håkan Juholt, genader en daar is besluit om leiers vanuit ’n verskeidenheid sektore saam om ’n tafel te kry om te breinstorm oor maniere om hoop te skep te midde van al die onsekerheid in Suid-Afrika.

Ongeveer 25 van ons het in April 2023 by die Sweedse ambassade in Pretoria vergader vir ’n dag van openhartige gesprek waar ons eerstens gereflekteer het op almal se indrukke van waar Suid-Afrika vandag staan – wat is die bedreigings en waar lê geleenthede vir opheffing en samewerking. Die gesprekke is vanuit ’n geloofsperspektief gevoer en vervolgens is daar ook van die groep gevra wat vir ons hoop vir die toekoms gee en watter aksies nodig is om positiewe verandering teweeg te bring.

Hoe het die volgende stappe gelyk?
Na hierdie aanvanklike interaksie met die Sweedse afvaardiging het Tommy O’Kennedy van Halftime Suid-Afrika ’n ontmoeting gereël tussen ’n paar van die Swede en my, Francois van Niekerk en Godfrey Mmawabo, direkteur van Atterbury Property Foundation NPC wat ook by InHarmonie by La Motte in Franschhoek betrokke is. Hulle was gefassineer met Francois se geskiedenis van filantropie en ook die werk wat Atterbury Trust en die Mergon Stigting reeds baie jare spesifiek op die terreine van opvoeding en die stryd teen honger gedoen het, veral aangesien dit ook die twee aspekte is wat tydens aanvanklike gesprekke met afgevaardiges na vore gekom het.

Voortspruitend uit hierdie opvolggesprekke het Tomas Brunegard van die EuroAcademy my genooi na die uitvoerende seminaar in Noors Slott met die tema: “A new world emerging – Can we see further?” Ons was ’n paar sprekers, en my spesifieke tema het gehandel oor my redes vir hoop, wat ’n gulde geleentheid was om die Trust se storie van die afgelope kwarteeu te deel!

Jy het op die ou end twee aparte seminare toegespreek – vertel ons meer?
Ove Gustaffson is die voorsitter van die Suider-Afrika komitee van die Sweedse Pinksterkerke. Hy was jare gelede ook woonagtig in Suid-Afrika met die verantwoordelikheid vir ekumeniese sake in al die Suider-Afrikaanse lande. Hy het ongeveer 30 mense uitgenooi na die eerste seminaar in sy tuisdorp, Uppsala, met die doel om ’n platform te skep vir belanghebbendes uit verskillende sektore oor ontwikkelings in die samelewing en om nasiebou in Suid-Afrika te versterk.

Die oorhoofse tema was Tekens van hoop in Suid-Afrika vandagen het gevloei uit die feit dat ons vanjaar 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika herdenk.

Daar was predikante, joernaliste, verteenwoordigers van Sida (Swedish International Development Cooperation Agency) en ook mense wat by Halftime in Swede betrokke is.

Baie van die mense was al sedert die anti-apartheidstryd op een of ander wyse betrokke in Suid-Afrika en het baie vrae gevra. My tema by die Uppsala-seminaar was “Business as usual or business for social transformation.”

Wie was van die ander deelnemendes wie se insette jy in besonder waardevol gevind het?
Ek was beïndruk met die mense se harte vir Suid-Afrika; oor baie jare al was heelwat van hulle aktief betrokke. Dit was waardevol om meer oor daardie verbintenisse te hoor. Ek was veral baie opgewonde om die goewerneur van Uppsala. Stefan Atteval, te ontmoet. Sy vrou, Cecilia Attefal, ook ’n aktiewe politikus wat vantevore deur haar munisipale kiesafdeling nou met die Stellenbosse munisipaliteit saamgewerk het, was ook daar en het aktief deelgeneem aan gesprekke.

Dan Salomonsson, hoofleraar by die Pingstkyrkan Uppsala, het almal by die Uppsala-seminaar verwelkom, deelnemers voorgestel en agtergrond geskep. Daniel Grahn, voormalige Generalsekreterare Erikshjälpen, het gesprekke gefasiliteer. Ander sprekers en temas was:

  • “Tekens van hoop en wanhoop – lesse van ’n lang ekumeniese reis” aangebied deur Hans Engdahl, ’n sendeling van die Lutherse Kerk van Swede en voorheen ook professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap
  • “Bewegings op grondvlak en sosiale transformasie” aangebied deur Magnus Walan, senior beleidsadviseur van Diakonia
  • “Die media se potensiële rol in demokrasie en volhoubaarheid in hedendaagse Suid-Afrika” aangebied deur Lars Tallert, stigterpresident van die Sustainable Journalism Partnership en ook senior adviseur by Fojo Linné Univesitetet
  • Terugvoering oor die Pretoria-seminaar van April 2023, aangebied deur Tomas Brunegård, uitvoerende voorsitter van EuroAcademy en Halftime Swede.

Die twee-dag EuroAcademy seminaar by die pragtige geskiedkundige Noors kasteel buite Stockholm het ’n baie sterker sake-inslag gehad en is bygewoon deur uitvoerende beamptes en senior sakeleiers uit Swede, Rusland, Luthuania, Pole en Wallis.

Dit was fassinerend om van hierdie dinamiese groep te hoor van uitdagings wat hulle in die gesig staar soos die wêreld verander – van AI (kunsmatige intelligensie), kulturele veranderinge in organisasies met groter invloed uit China en hoe ons as leiers kan voorberei vir ’n positiewe toekoms. Daar is baie groepsbesprekings gehou en gereflekteer oor wat die impak op die drie P’s is – op ons persoonlike lewens, op ons privaat- en familie-lewens en dan op ons professionele loopbane.

Kan jy ’n insig deel wat jy saam met jou kon terugbring?
Nuwe perspektiewe is so waardevol. ’n Mens kan so maklik vaskyk in jou eie land en sy uitdagings, maar dit is so goed om ander se belewenisse en insig ook te hoor. En ook om te ervaar dat soveel mense oor soveel jare positief by Suid-Afrika betrokke is.

Is daar planne gemaak by die geleenthede waarop die Trust kan bou?
Een van die belangrike rolspelers, Daniel Grahn, het net na afloop van die seminaar Suid-Afrika toe gevlieg en gesprekke duur voort onder die vaandel van Halftime. Die Trustspan ontmoet hom weer binnekort in Stellenbosch en stel hom voor aan MOI-studente, beursstudente en van die projekte waarmee ons besig is. Ek het van die geleentheid gebruik gemaak om inligting oor Inani Startwell in Swede te deel en vertrou dat dit mense se harte sal aanraak om by te dra tot die stryd teen groeibelemmering.

Wat omtrent die Atterbury Trust storie reken jy het die grootste impak gemaak op die Sweedse gehore?
My mede-seminaargangers was veral aangeraak deur die Trust se boodskap dat hoop ’n werkwoord is (“Hope is a verb”) en ek glo dat dit hulle sal inspireer om ook ’n positiewe verskil vorentoe te maak. Heelwat van die mense het reeds met my kontak gemaak deur LinkedIn en ek glo ons sal in die komende maande die vrugte van hierdie eerste besoek aan Swede pluk.