Daar is ’n hoofletter T in “Teruggee”, en daardie T is ook in Atterbury Trust en Triomf Kliniek en nou die T van “Terugploeg” – die jongste inisiatief waarby die Trust betrokke geraak het. “Omgee” en “teruggee” was nog altyd in Atterbury se DNA, en “terugploeg” bo-aan die lysie van die Trust se daaglikse take. Na afloop van die amptelike bekendstelling van Terugploeg in die Atterbury Teater op 17 November, het Uitvoerende Trustee Zahn Hulme saamgespeel om die blokkies van die woord uit te pak…

T staan vir Ton…

soos in die tonne kos wat reeds deur goedgunstige boere geskenk is:

Ons kon reeds 68 ton kos aan 25 liefdadigheidsorganisasies en skole uitdeel!

E staan vir Etes…

dít wat Terugploeg heel eerste verskaf:.

Ons wil hê niemand in Suid-Afrika moet honger gaan slaap nie: kinders, bejaardes, mense wat hulle werk verloor het… Die ekwivalent van ongeveer 272 000 etes is reeds voorsien sedert die projek in April vanjaar informeel begin het.

R staan vir Reëlmaat…

dít wat ons ons weerlose medemense toewens – ’n gereelde inkomste, gereelde werk, gereelde etes.

Die realiteit is dat die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien in baie gevalle geen elektrisiteit, yskaste, oonde of behoorlike gaarmaakgeriewe het nie. Baie mense bly in Wendyhuise en hulle kan dus nie groot hoeveelhede kos veilig berg nie. ‘n Gereelde ete is dus vir hierdie mense meer betekenisvol as ’n groot sak kos wat dalk kan bederf. Dit is waar die gedagte aan ’n bykomende verwerkingseenheid ontstaan het.

U staan vir Uitbrei…

ons begin met kos, maar ons glo in groot planne maak.

Toe ons verder dink, het ons egter besef dit kan ook bydra tot werkverskaffing aan mense uit daardie gemeenskappe – die ou storie van leer iemand eerder om vis te vang as om net vis verniet weg te gee!

Ons het groot planne vir die die Terugploeg perseel, wat ons van Faan en Dirk van der Walt van WeBuyCars ontvang het.

G staan vir Gemeenskap…

ons mense, en ons omgee vir ons gemeenskappe is die rede hoekom ons almal betrokke raak; die rede hoekom Atterbury Trust, en Terugploeg, in die eerste plek ontstaan het.

Atterbury Trust is al vir meer as 20 jaar betrokke by behoeftige gemeenskappe – ons het geloofwaardigheid in die liefdadigheidsfeer en mense weet hulle kan ons met hulle donasies vertrou.

P staan vir Pakhuis

ons begin in Januarie die Terugploeg hoofkwartier bou – ’n pakhuis maar ook soveel meer!

By die hoofkwartier rig ons ’n groot verwerkings- en verspreidingsfasiliteit op waar skenkings van voedsel geberg, verwerk en verpak kan word.

Die planne sluit ook opleidingslokale in waar ons hoop om mense te mobiliseer om vaardigheidontwikkeling te doen, asook ’n klerebank.

L staan vir Landbou…

ons gaan ook by die hoofkwartier groente- en vrugtetuine aanlê met raad en insette van ons baie boerevriende, wat werk sal verskaf aan mense uit die gemeenskappe wat voordeel trek uit die sorg van Terugploeg.

Dit kos nie baie geld om op ’n klein skaal groente aan te lê nie. Ons wil op hierdie perseel mense leer om groentetuine te begin en dan hulle nuutgevonde vaardighede terug te neem na hulle onderskeie gemeenskappe toe. Daar gaan ook werksgeleenthede wees om die kos-skenkings te verwerk of in die klerebank te help.

O staan vir Opleiding…

liefdadigheid gee met die een hand, maar opleiding gee met twee hande, en ons wil mense die geleentheid gee om nuwe vaardighede aan te leer wat kan lei tot die bou van ’n beter toekoms.

Vaardigheidsontwikkeling is ’n kerndoelwit. Ons wil graag kinders en ouers uit die weerlose gemeenskappe na Terugploeg se perseel nooi om opgelei te word. Hiervoor hoop ons om met relevante instansies hande vat om hier aan die mense opleiding te verskaf.

Ons wil sien dat leerlingrade en onderwysers van behoeftige skole hierheen kom vir leierskapsontwikkeling. Ons wil mense uit die Ooste van Pretoria uitnooi om saam te kom Terugploeg – jou vaardighede, talente en ondervinding te deel. Dalk sien jy dat jy ook nog soveel het om van ander ook te leer.

E staan vir Erkenning…

ons kan niks hiervan doen sonder die tientalle mense wat hulle harte, hande en beursies oopmaak nie!

Ons is huiwerig om mense uit te sonder, want die afgelope paar dae lui ons telefone onophoudelik en die e-posse stroom in. Daar is soveel mense wat wil betrokke raak.

As ons egter terugkyk na die begin van die projek, verdien hierdie mense ’n ekstra groot dankie:

  • Herman Marx, Vasti Kirchner, Carel en die ander manne van Vibro Bricks & Paving wat eiehandig die projek begin het en steeds aktief betrokke is.
  • Lood Bester – seker een van die mense in Suid-Afrika met die grootste netwerk van sakelui en boere wat hy kan mobiliseer.
  • Faan en Dirk van der Walt van WeBuyCars vir die perseel, ’n trok en waentjie vir aflewering.

Daar is ’n lang lys van skenkerboere en ek lys graag ’n paar van die gereelde donateurs:

Barend Vorster van Mahela boerdery, Kallie Erasmus van CPJ Erasmus boerdery, Eben Kruger van Groblersdal, Mark en Yolandi Pieterse van Miami Foods wat tonne blikkieskos skenk. Dan is daar mense soos PS Grobler van Velilo Tinto @ Associates wat kontant skenk en ’n hele aantal wildsboere en entoesiastiese jagters wat ’n gedeelte van hulle jagkwota met ons deel; asook Boela Bruwer Boerdery; Meletse Breeders; GoGo Groep; GROOTfm 90.5; Morgan Group; Rossgro boerdery; Tiaan Kruger Boerdery; ZZ2

Besighede en instansies soos Eskort; Kairos; Birzani Eiendomsontwikkelaars; Fontis Ontwikkelaars; Silverton Sign-A-Rama; Van Huyssteens Prokureurs help op verskeie terreine.

Ons gee ook graag erkenning aan elkeen wat al reeds ’n finansiële donasie gemaak het, en ook diegene wat na afloop van die bekendstelling onderneem het om professionele dienste, boudienste, elektriese werk, verkoelingstoerusting gratis aan Terugploeg te verskaf.

En laaste maar nie die minste nie, Ananja Koen en Jani Doms van Atterbury Trust wat baie werk agter die skerms doen.

G staan vir Gedenkwaardig

ons hoop ons die bekendstellinsdatum in die toekoms sal kan gedenk as die begin van iets groot en lewensvatbaar!

Hierdie projek moet groter word as ons almal saam! Ons wil hê dat hierdie projek langslewendheid sal hê, dat ons kinders se kinders hierby sal inkoop. Ons lewe nie vir onsself nie; dit wat ons het, is genade en ons is op aarde geplaas as rentmeesters. Dié wat baie ontvang het, het ook ’n verantwoordelikheid teenoor hulle met minder geleenthede. Ons kan Suid-Afrika se hele landskap laat anders lyk as mense kan werk, genoeg het om te eet en hoop in hulle harte het. Dis elkeen van ons wat kan se verantwoordelikheid.

As jy ’n skenking wil maak, van voedsel, kontant, dienste of toerusting, of wil weet hoe jy betrokke kan raak, kontak gerus vir Zahn by [email protected] of 012 471 1600.