Dit is alombekend dat gehalte-onderwys en die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur, kwessies is wat die Atterbury Trust baie na aan die hart lê. Dit is dus vanselfsprekend dat die Atterbury Trust hom vereenselwig met organisasies wat hulle om hierdie gemeenksaplike doel beywer en sodoende die jeug bemagtig om hulself in die toekoms op ‘n hoë vlak te laat geld. Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), wat deur Dagbreek Trust in die lewe geroep is om na Afrikaanse onderwys om te sien, se inisiatief om Afrikaanse skole by te staan, is ‘n projek waarby die Atterbury Trust sonder huiwering ingeskakel het.

Abrie Swanepoel vertel meer oor die eerste gesamentlike projek – die opgradering en verbetering van bestaande fasiliteite by Hoërskool Nelspruit asook die vestiging van nuwe fasiliteite wat die groeiende behoefte aan groter kapasiteit aanspreek.

Wat is die idee agter díe projek?

Plattelandse skole is oor jare die bakermat van stewige, gehalte-onderwys. Strawwe mededinging met beter toegeruste stadskole het baie plattelandse skole geknou. Die uitdaging het ontstaan om by projekte betrokke te raak wat sal help verseker dat plattelandse, Afrikaanse skole oor kwaliteit-fasiliteite beskik om aan Afrikaanse leerders kans te gee om ook gehalte-onderwys te ontvang en ook die sterk mededinging uit die stad die hoof te bied. Hierdie verbeteringe bied ‘n geleentheid tot uitnemendheid op eie bodem.

Hoekom Hoërskool Nelspruit?
Hoërskool Nelspruit is die vlagskip van onderwys en opvoeding in die Laeveld en een van ‘n handjievol Afrikaansmedium skole in Mpumalanga. Bewese suksesse op verskeie terreine het daartoe bygedra dat die skool se leerdergetalle in so ‘n mate gegroei het, dat bestaande fasiliteite onder druk is. Hierdie groeiende behoefte aan groter kapasiteit op buitemuurse gebied het die skool geen ander keuse gelaat as om dringende aandag hieraan te gee nie.

Preseies wat behels díe projek?
Die skool se bestaande sport- en kultuurfasiliteite word verbeter en uitgebrei.

Die TAO finansier die projek gedeeltelik met baie voordelige leningsvoorwaarders. Die skool en gemeenskap dra die res van die finansies by en Atterbury verskaf die ontwikkelingskundigheid en hanteer die programbestuur.

Die projek het drie fases waarvan die eerste reeds voltooi is. Die seuns oefen op ‘n splinternuwe rugbyveld en die twee ekstra netbalbane is reeds in gebruik tydens die kondisioneringsessies vir die 2017-netbalseisoen. Dit het die druk op op bestaande fasiliteite baie verlig en veral C-spanne het nou ook die kans op op alle vlakke kwaliteit-afrigting en -oefening te ontvang.

Wat behels die volgende fase?
Die toenemende provinsiale deelname van leerders van Hoërskool Nelspruit asook die vlak van ligakompetisies waaraan hulle deel neem, het die dringendheid van ‘n astro-hokkiebaan beklemtoon en daar was geen keuse anders as om daarin te belê nie.

Die vestiging van hierdie gesogte fasiliteit sal kinders ‘n billike kans gee om op dieselfde vlak as hul teenstanders in die stede mee te ding. Met só ‘n top-klas baan naby die huis het die spanne ‘n besliste voorsprong. Dit word nou ook moontlik om nasionale toernooie aan te bied, wat beteken leerders en hul ouers in die groter Laeveldstreek sal blootgestel kan word aan kompetisies op hierdie vlak. Hierdie projek nader voltooiing en behoort teen die einde Februarie afgehandel te wees.

En fase drie?
Die finale fase behels ‘n veeldoelsentrum wat ‘n hele aantal behoeftes sal aanspreek, en wat danksy die ondersteuning van die TAO realiseer. Dit huisves ‘n daghuis vir kinders wat smiddae na skool geen heenkome het totdat hulle ouers hul laatmiddag kom haal nie. Die daghuis sal ook voorsien vir die veiligheid en versorging van veral behoeftige kinders.

Dan sal daar ook ‘n kultuursentrum wees, met verskeie goed toegeruste werksateljees vir ‘n verskeidenheid van kultuuraktiwiteite. ‘n Museum sal ingerig word waar herinneringe aan die indrukwekkende spore van alumni soos Hertzogpryswenner Chris Barnard, gevierde skrywer Marita van der Vyver en Springbokke Duane Vermeulen en Werner Kok bewaar kan word.

‘n Goed toegeruste delikatesse/kafeteria word ook hier ingerig sodat ouers gemaklik en veilig kan wag wanneer hul kinders aan buitemuurse aktiwiteite deelneem. Hier kom ook ‘n skoolklerewinkel.

Hierdie fase sal teen die einde van Mei afgehandel wees.

Wat is die droom vorentoe?
Atterbury Trust se betrokkenheid by hierdie enkele projek verseker dat nie net een skool uiteindelik baat nie, maar dat die hele Laeveld-gemeenskap tot so ver as Hoedspruit en Orighstad in hierdie momentum sal kan deel.

Dit bevestig dat daar in onsekere, moeilike tye steeds hoop is en dat vooruitgang nie gestuit kan word nie. Dit bring ook ‘n bloeitydperk vir ‘n gemeenskap wat die kapasiteit het om kwaliteit-gesinne te lok met die wete dat hul kinders in die Laeveld op elke gebied op die hoogste vlak ontwikkel sal word.

Na die Hoërskool Nelspruit-projek voltooi is, sal ‘n volgende fase aangepak word. In beginsel is Hoërskool Pionier in Vryheid en Laerskool Anton van Wouw in Pretoria die volgende skole wat deur die Atterbury Trust bygestaan sal word.

Daarna sal die ysters wat reeds in die vuur is, gesmee moet word.