Bewustheid van water en hoe belangrik dit is vir mens, plant en dier se oorlewing, is ’n kwessie wat ons almal raak, en as dit kom by rivierstelsels is daar baie om te leer. Dit is hoekom Atterbury betrokke geraak het by ’n gemeenskapsinisiatief om skoolkinders in Pretoria betrokke te maak by hulle plaaslike riviere, sodat hierdie kosbare natuurlike erfenis reg bestuur word, vertel Zahn Hulme. “Atterbury het al so baie ontwikkeling in Pretoria gedoen, en mens moet ook teruggee aan die omgewing, daarom is ons graag hierby betrokke. Ons is gelukkig om in ’n stad met so baie riviere te woon en dis belangrik dat ons almal bydra om dit te bewaar, sodat toekomstige generasies dit ook kan geniet.”

’n Kompetisie is uitgeskryf vir alle leerders by skole in die opvanggebiede van al die riviere in die ooste van Pretoria wat in die Roodeplaatdam invloei, om treffende plakkate te ontwerp oor rivierbewaring.  Die skeppers van die beste plakkate sal hul pryse by die Atterbury Teater ontvang op Saterdag 4 Junie, die vooraand van Wêreld Omgewingsdag wat op 5 Junie herdenk word.

Volgens die organiseerder, Judy Scott-Goldman, het die kompetisie afgeskop met ’n werkswinkel vir natuurwetenskaponderwysers, wat op 25 Februarie by die JNF Walter Sisulu Omgewingsentrum in Mamelodi bymekaar gekom het. Die onnies is toegerus met inligting oor hoe om kinders in hul klasse opgewonde te maak oor riviere, en meer te leer oor alles wat in en om ’n rivier leef, en wat ’n mens alles kan wys word deur jou plaaslike rivier te bestudeer.

Wie is die organiseerders en waar kom die idee vandaan?
Judy Scott-Goldman: Die idee is verlede September gebore by ’n vergadering van die Adopt Moreletaspruit Forum. Ons het deur Rand Water by die JNF Walter Sisulu Omgewingsentrum in Mamelodi uitgekom, en deur hulle by Fanie Nel, die senior opvoedingspesialis vir natuurwetenskappe en tegnologie vir Tshwane-Suid. Fanie het die idee dadelik verwelkom en deur hom het ons die regeringskole betrek. Ons het besluit om die kompetisie wyer te gooi as net Moreletaspruit, en al drie die riviere wat die Roodeplaatdam voed, en hul sytakke, te betrek. Ons praat dus van Moreleta/Hartbeesspruit, die Pienaarrivier wat deur Mamelodi vloei, en die Edendalerivier verder oos.

Vertel ons meer oor Adopt Moreletaspruit?
JSG: Die forum is in 2010 gestig deur ’n groep individue wat besorg was oor die toenemende besoedeling in die Moreletaspruit weens die vinnige verstedeliking in Pretoria-Oos. Die groep vrywilligers het besluit om saam te werk om die owerhede te ondersteun om die Moreletaspruit te help bewaar. Die Adopt Moreletaspruit Forum (AMF) is ’n nie-vir-wins-organisasie onder die beskerming van die Departement van Water en Sanitasie se Neem-’n-Rivier-Aan-Program. Ons werk om almal in die opvanggebied van die spruit betrokke te maak by die bewaring en opgradering van die rivier sodat dit ’n bate vir al die mense van Tshwane word.

Hoekom juis ’n kompetisie vir kinders?
JSG: Kinders leer oor riviere in Aardrykskunde, maar ons het gewonder hoeveel van hulle regtig bewus is van die riviere wat naby ons skole en huise verbyvloei, en ook hoe ons besluite en gedrag bepaal of hierdie rivier ’n natuurskat is wat ons almal kan geniet, of ’n drein vir menslike afval. Ons wou kinders se kreatiwiteit inspan om die boodskap visueel oor te dra en om die probleme wat ons in die gesig staar, soos hoe om die natuur te bewaar in dig-bevolkte gebiede, te probeer oplos. Deur die plakkate in openbare plekke soos die Glenfair-sentrum ten toon te stel, hoop ons dat ons volwassenes se aandag sal trek sodat hulle ook die kinders se boodskap ter harte neem.

Wat word agterna van die plakkate?
JSG: Die wen-plakkate sal in die foyer van die Atterbury Teater uitgestal word tydens die prysuitdeling die oggend van Saterdag 4 Junie. Daarna skuif die uitstalling na Glenfairsentrum tot 12 Junie, en dan wys dit by die Walter Sisulu Omgewingsentrum in Mamelodi vir nog ’n ruk. Ons sal elektroniese kopieë maak wat verder op ons webwerwe gebruik kan word, en die kinders sal hul plakkate teen einde Junie kan terugkry.

Watter pryse kan die kinders wen?
JSG: Daar sal eerste, tweede en derde pryse in vier ouderdomskategorieë wees, Graad 1 – 4, 5 – 7, 8 – 9 en 10 – 12. Die leerders wat die beste plakkate inskryf gaan geskenkbewyse vir skryfbehoeftes wen wat deur Atterbury geborg word, en daar sal ook klein pryse van die Omgewingsentrum wees. Die pryswenners se onderwysers sal wetenskaptoerusting van die Departement van Onderwys en Atterbury Trust ontvang, en die wenners se skole sal elk vyf inheemse bome wen om ’n laning van skaduwee by die skool te skep, wat deur Wild Route geborg word.

Kompetisiefeite:
Plakkate moet A2-formaat wees, en kan tekeninge, skilderye, collages en grafiese ontwerpe insluit.
Die werk moet oorspronklik wees en deur die leerder geskep word.
Die sluitingsdatum wanneer alle plakkate ingelewer moet word, is 3 Mei.
Die wenners sal aangewys word deur ’n gekwalifiseerde paneel van beoordelaars.
Vir meer inligting oor die kompetisie, en oor Adopt Moreletaspruit, kontak gerus vir Judy Scott-Goldman by [email protected].

Opvangsgebied van Roodeplaatdam riviere

Opvangsgebied van Roodeplaatdam riviere