Tweedejaar mediese student Joané Spies het ’n droom om eendag as pynspesialis te kan help om mense in pyn se lyding te versag. Tussendeur haar veeleisende studies by Tukkies is hierdie minsame uitblinker ook gekies tot die gesogte Golden Key-vereniging. Dis mos hoe Atterbury Trust van ons beursstudente hou – vasberade, veelsydig, en met harte van goud.  Sy het ’n tydjie afgeknyp sodat ons haar beter kan leer ken.

Vertel ons ietsie van jou agtergrond.
Ek is gebore en het grootgeword in Polokwane, waar ons steeds bly en waar ek met ’n beurs gematrikuleer het by Curro Heuwelkruin. Ek is die oudste van drie kinders en saam met my ouers en my oupa aan vaderskant wat ook op ons erf bly, vorm ons ‘n baie hegte spannetjie. Hulle is my grootste bron van motivering en ondersteuning.

Ons hoor jy is pas aanvaar as lid van die netwerkorganisasie Golden Key Society – baie geluk! Wat hoop jy gaan dit in jou loopbaan vir jou beteken?
Dit is ’n groot eer om ’n lid van Golden Key te kon word. Die internasionale erkenning wat daarmee gepaardgaan is vir my van groot waarde. Dit beteken dat organisasies wat op soek is na uitblinkers in spesifieke gebiede in aanraking kan kom met Golden Key en dit verhoog dus mens se kanse om ’n goeie pos te kry in ’n gerespekteerde organisasie.

Hoe het jou paadjie vir die eerste keer met Atterbury Trust s’n gekruis?
Ek het van Trust se beursfonds gehoor in matriek toe my Afrikaanse onderwyseres vir my die skakel na jul webblad gestuur het. Die beursaansoeke vir 2017 het toe pas oopgemaak. Ek ontvang die beurs nou reeds vir ’n tweede jaar.

Hoekom het jy medies gekies – wou jy van kleinsaf ’n dokter word?
Nee nogal nie… die inspirasie om ’n dokter te word het gekom toe ek in 2010 met Tipe 1 diabetes gediagnoseer is en dus baie blootstelling aan die mediese veld gekry het. Dit is ook verder aangevuur deur die feit dat my pa al vir omtrent 12 jaar rumatoïede artritis het en al verskeie operasies en behandelings moes ondergaan vir pynbestuur. Ek het hierdeur bekend geraak met die werk van die pynspesialis Dr Russell Raath en besluit dis presies die veld waarin ek eendag wil spesialiseer, om soos hy daagliks daardie groot verskil in mense se lewens te kan maak. Ek hoop om nagraads te fokus op narkose en pynbestuur.

Ons almal weet watter lang harde ure mediese studente werk. Wat is jou geheim om dit te kan hanteer; kry jy reg om jou lewe gebalanseerd te hou, en hoe?
Die ure wat ons aan leerwerk afstaan is soms skrikwekkend, maar dit is heeltemal doenbaar met goeie tydsbetuur en doelgerigtheid. Ek glo daarin om elke dag ná klas te probeer werk, al is dit net om weer die dag se lesings deur te gaan. Verder is dit vir my belangrik om gesond te eet, so ek eet elke dag gekookte kos met verskeie groentes. Ek probeer ook om minstens twee keer ’n week ’n uurlange spinklas by te woon om aktief te bly.

Hoe lyk jou toekomsdrome? Waar wil jy graag oor vyf jaar wees?
Om my toekomsdrome te laat realiseer, gaan ongelukkig nog ’n hele paar jaar se swot van my vereis, maar ek glo as mens iets vir die regte rede doen dan sal jy die deursettingsvermoë hê om enduit te kan volhou. Oor vyf jaar is ek darem al besig om in hospitale te werk waar ek ook daagliks ’n verskil kan maak, so dit is reeds iets om na uit te sien! Maar ek wil nie daar ophou nie en gaan aanhou werk aan my droom om ’n pynspesialis te word.

Wat sou jy gedoen het as jy nie destyds die Atterburybeurs gekry het nie?
Sonder Atterbury se beurs sou ek nie kon swot nie, en sou dus nie my talente en gawes optimaal kon inspan nie. Ek weet eerlikwaar nie wat ek daarsonder sou doen nie…

Wat glo jy is die waarde van Atterbury Trust se beursprogram – hoekom is dit belangrik?
Ek is oneindig dankbaar vir Atterbury se beursprogram, want dit help my op ’n daaglikse basis om my jare-lange drome in aksie te sien ontwikkel, wat net nie moontlik sou gewees het sonder die beurs nie. Die waarde van hierdie program is onmeetbaar, want dit help baie talentvolle jongmense regoor die land om te kan doen waarvoor hulle gemaak is. Die feit dat die beurse terugbetaal word in die Trust se beursfonds, beteken dat ek dalk ook eendag iemand wat dit nie kan bekostig nie, sal kan help om te studeer en dit, bowenal, gee my hoop.

Ons weldoeners se skenkings maak dit vir Atterbury moontlik om elke jaar nog talentvolle jongmense hoop te gee, en hul toe te laat om te doen waarvoor hulle gemaak is, soos Joané dit so mooi stel. Help ons om die volgende generasie toe te rus –  kliek hier om te skenk.

By |2018-08-15T09:06:11+00:0015 Augustus, 2018|Studentestories, Studiebeurse|0 Comments
%d bloggers like this: