Dinamies, entoesiasties en reg vir enige uitdaging… dit is Jani Doms, Atterbury Trust se nuutste spanlid, ’n regte mense mens. Sy is verantwoordelik om seker te maak dinge verloop glad met die administrasie rondom die Trust se grootste trots, ons beursstudente, maar dis nie al nie! Sy is ook projekkoördineerder van twee groot gemeenskapsprojekte wat onder die vaandel van die Trust bestuur word – Triomfkliniek en die Trust se splinternuwe inisiatief, Terugploeg.  Ons het gaan hoor wat die flinke jong Pretorianer motiveer en inspireer.

Watter draaie het die lewe met jou geneem voor jy by Atterbury uitgekom het?
Ek het in Pretoria groot geword, BA algemeen geswot by Tukkies en toe ’n hele paar avonture gehad! Ek het in 2016 begin werk as ’n assistant-onderwyseres in Pretoria, toe is ek Kaap toe om op ’n wynplaas te werk tot middel 2017, waarna ek Qatar to getrek het en as ’n lugwaardin vir Qatar Airways gewerk het. Ek het middel 2018 teruggekom en toe weer skoolgehou in Pretoria totdat ek by die Trust aangesluit het in September 2020.

Hoe het jou paadjie met dié van Atterbury Trust gekruis, en wat het jou laat besluit om aan te sluit by die Trust-span?
Ek wou al baie lank vir Atterbury of die Trust werk, hoewel die regte geleentheid nog nie voorheen op die regte tyd gekom nie! Maar al my hartsmense sal kan bevestig dis wat ek wil doen… My beste vriendin vandat ek kan onthou woon nou in Nieu-Zeeland en haar man was die een wat die advertensie op LinkedIn gesien het – hy het dit vir haar aangestuur en sy stuur dit toe vir my  met die boodskap “hierdie klink soos jy”. Ek het aansoek gedoen en ’n week later, 1 September 2020, het ek by die Trust aangesluit as Studente- en Projekkoördineerder.

Jou werk maak jou baie betrokke by ’n wye verskeidenheid liefdadigheidsaksies; dit moet baie bevredigend wees, maar jou ook baie bewus maak van hoe groot die behoefte daar buite is. Hoe sien jy die rol van die privaatsektor in konteks van gemeenskapswerk, hoekom is dit belangrik dat besighede betrokke raak?
Maatskappye in die privaatsektor het wye netwerke en bande met soveel individue en organisasies wat ’n bydrae kan lewer. Die mag lê in die netwerke en die assosiasies, en die gemeenskaplike wil om ‘n verandering te maak. ’n Netwerk het soveel meer mag as ’n individu om ’n daadwerklike verskil te maak in behoeftige mense se lewens. Individue is natuurlik ook belangrik, en as ons almal saamwerk, kan ons so baie verrig. Dit is soveel beter om betrokke te raak en goed te laat gebeur as om te neul dat die regering sy verantwoordelikhede verwaarloos.

Is daar ’n bepaalde projek waarop jy op die oomblik konsentreer of werk jy aan ‘n klomp goed gelyk?
Eerstens is ek is die kontakpersoon vir die beursstudente en ek is deels verantwoordelik vir hulle betalings en opvolg van terugbetalings.

Ek hou ook ’n oog op Triomf Kliniek met weeklikse besoeke en terugvoering aan die res van die Trust-span oor wat werk en wat nie; ek kyk ook na die statistieke en werk om nuwe medici te werf om hul tyd te skenk by Triomf, sodat die kliniek nog meer dienste kan aanbied.

Dan is ek ook nou betrokke by die Trust se nuutste projek, Terugploeg, waarvoor ons baie groot drome het, maar op die oomblik is die hoofdoel om kos vanaf donateurs aan behoeftige organisasie te versprei en Terugploeg te bemark.

Terugploeg klink so innoverend! Vertel ons meer.
Dit is so lekker om deel van hierdie inisiatief te kan wees van die begin af. Ek werk saam met soveel invloedryke mense en terselfdertyd met die wonderlikste organisasies wat hulle alles gee om mense se lewens te verander. Ek dink op die oomblik is die grootste uitdaging dat ons nie geriewe het om groente en vleis te stoor nie en baie van ons begunstigdes het nie ys- of vrieskaste nie, so ons kan nie baie kos op ’n slag vir hulle aflaai nie. Maar ons is reeds besig om planne te maak!

Hoe lyk ’n tipiese dag by die kantoor vir jou?
Ek begin gewoonlik met my e-posse en dan ’n lekker koffie van Lerato Sepeng, Atterbury se eie barista. Verder werk ek deur my lysie vir die week, wat hier teen 10:00 se kant verander wanneer daar 10 nuwe goed bygekom het! Ek gaan maak ook tipies ’n draai by Lood Bester wat die baasbrein agter Terugploeg is, om oor die jongste prioriteite te gesels; dan is daar vergaderings om by te woon, en sessies met my kollega, Ananja Koen, om met nuwe idees vir die Trust vorendag te kom.

En wie is Jani as sy by die huis is?
Ek bly weer op die oomblik in my ouerhuis saam met beide my ouers, my broer en ons gesin se hondekind, Alex. Ek hou daarvan om saam met vriende te gaan “hike” of saam te kuier, om kos te maak en natuurlik om met Alex te gaan stap. Ek is ook besig om ’n nuwe vaardigheid aan te leer, maar ons kyk eers of ek dit regkry voor ek dit bekend maak!

As jy eendag enige projek namens die Trust van stapel kon stuur en bestuur, wat sou dit wees?
Sjoe, dis ’n moeilike vraag! Maar ek dink tog dit sou iets met kinders te doen hê – ’n projek wat sal behels dat minderbevoorregte kinders ondersteun word om hul lewens te kan verbeter – van die verskaffing van daaglikse voedsame kos en die nodige mediese sorg, tot goeie onderwys, met behoorlike hulp met leesvaardighede en wiskunde. Die Trust is reeds by skole betrokke en doen reeds baie vir kinders, so dis ’n kwessie van identifiseer ’n bepaalde behoefte en kry die regte mense bymekaar om dit op te los!