Triomf Kliniek bring al vir byna agt jaar lank uitnemende mediese sorg na die behoeftige gemeenskappe van Pretoria, en dis danksy die vrywillige hulp van dokters soos Dr Gerhard Herbst, die nuutste byvoeging tot die groep medici wat die kliniek dra. Ons het hom beter leer ken.

Waar het jy voor jou aftrede gepraktiseer?

Ek was vir 46 jaar ‘n algemene praktisyn, en het in Standerton gepraktiseer voordat ek in 2017 afgetree het.

Waaraan het ons dit te danke dat jy nou by Triomf betrokke geraak het?

Ek ken vir Arnold Prinsloo van Eskort, en hy ken weer Atterbury Trust se werksaamhede goed. Ek glo hy het vir Zahn gebel en vertel dat ek moontlik by Triomf kan betrokke raak. Ek was baie bly toe ek Zahn se oproep kry en dat sy my gevra het om betrokke te raak!

Wat het jou laat besluit om jou hulp aan te bied?

Noudat ek afgetree is, is dit my stokperdjie om nog te praktiseer en ek geniet dit om stresloos net te kan betrokke wees met suiwer kliniese werk en diens aan pasiënte. Gelukkig is finansies nie vir my nou ’n belangrike motivering nie en dis vir my ’n voorreg om my dienste gratis beskikbaar te stel aan behoeftige mense, en in die besonder aan die Afrikaner – my mense – wat in die nuwe Suid-Afrika aan die agterste speen suig.

Hoe gereeld gaan pasiënte by Triomf jou kan spreek?

Ek doen tans nog baie locum-werk elders, en die idee is dat ek twee oggende per maand by die kliniek kan kom help.

Is daar ’n bepaalde mediese veld waarop jy graag fokus?

Ek het veral die laaste 10 jaar of so baie aandag gegee aan diabetes mellitus tipe 2 en dit is nou nog my passie, Ek was so gelukkig om twee internasionale kongresse oor diabetes in Wene, Oostenryk en Boston in Amerika by te woon. Ek is wel baie lief vir algemene praktyk oor die hele spektrum van medisyne.

Was daar hoogtepunte gedurende jou beroepslewe wat jy kan deel?

Van 1978 tot 1980 was ek ’n eksterne eksaminator in die Departement Fisiologie vir die graad M.Prax.Med aan die Universiteit van Pretoria, waar ek self jare vroëer as dokter gekwalifiseer het. Ek was ook aktief in die mediese politiek en het vir jare as lid van die Oos-Transvaalse tak van die Mediese Vereniging gedien as voorsitter en later as president. Dit was my voorreg om die tak te verteenwoordig in die Federale Raad van die Mediese Vereniging. Ek het ook gereeld seminare en lesings op die plattelandse dorpe rondom Standerton gereël.

Wie is Dokter Herbst vandag as jy by die huis is?

Ek is ’n groot rugbyliefhebber en ‘n stoere Blou Bul-ondersteuner. Ek en my vrou, Clara, het vyf kleinkinders en probeer om al hul sport en kultuur-aktiwiteite by te woon. Hulle is ’n groot liefde in my lewe en gee vir ons groot plesier.

Ek luister graag na musiek en ons het tot voor Covid gereeld opvoerings bygewoon. Ek is ’n groot Elvis Presley-aanhanger en ’n hoogtepunt in my lewe was om saam met Clara op sy voetspore te kon loop tydens ’n jazz en bluestoer in Amerika en by sy graf by sy Graceland-woning te kon staan.

Ek het nog altyd baie tyd spandeer aan voortgesette studies om op hoogte te bly met die ontwikkelinge in die mediese veld, en doen dit steeds.

Watter ontwikkelinge op mediese gebied in die laaste jare het jou die meeste geprikkel? As jy dink aan toe jy jy begin praktiseer het teenoor vandag, watter ontwikkelinge het jou werk mees beduidend geraak?

Die mediese wetenskap is vandag totaal iets anders – ons het uitstekende medisynes vir cholesterol, hart-probleme, bloeddruk, diabetes, kanker… noem maar op; en ons het die tegnologie om behoorlike diagnoses te doen. Dit was nie so toe ek begin praktiseer het nie. Vandag is dit regtig opwindend om te praktiseer, want jy kan die positiewe resultate sien wat die moderne medisyne bring as jy dit toepas. Die mediese wetenskap ontwikkel baie vinnig en dit keer dat mens stagneer. Ek kry baie prikkeling daaruit!

Wat is jou ervaring sover van Triomf?

Ek het nog nooit voorheen so iets gedoen nie en dis regtig vir my baie bevredigend om my kennis te kan aanbied om mense te help wat andersins nie waardige mediese sorg kan bekostig nie. Ek is opgewonde om by Triomf diensbaar te kan wees en het my eerste twee sessies daar baie geniet.

As iemand wat onlangs by Atterbury Trust/Triomf betrokke geraak het, wat is jou opinie oor die waarde van sulke gemeenskapsinsette?

Dit vervul werklik ‘n broodnodige rol, en Triomf lewer ’n uitstekende diens, uit ‘n goed toegeruste fasiliteit – dit is baie bevredigend om daar te werk, al maak dit my hartseer om te sien hoe groot die behoefte onder my mense is. Ek is baie beïndruk dat Atterbury Trust dit vir Afrikaanse mense moontlik maak om te studeer – ons weet hoe moeilik Afrikaanse kinders deesdae studiehulp van ander oorde kry. Dis vir my ’n pluimpie dat hulle my genader het om te help, en ek geniet dit baie – dis ’n baie waardevolle bydrae tot my eie geestelike bevrediging.

Triomf Kliniek is afhanklik van die vrywillige diens van mediese personeel soos Dr Herbst. Indien jy op mediese gebied kan bydra, kontak gerus vir Zahn Hulme op [email protected] of [email protected].