Triomf Kliniek maak eersdaags sy deure oop vir buitepasiënte met ’n oogkliniek waar dié mense se bydraes sal help om brille vir Triomf se behoeftige pasiënte te bekostig. Ons hoor meer by Leon Pottas van Modern Optical.

Hoe het Modern Optical by Triomf Kliniek uitgekom?
Projekte soos hierdie gebeur net wanneer privaatsektor-mense saamstaan om ’n verskil te maak in areas waar die openbare gesondheidsorg faal. In hierdie geval het die idee ontstaan by Abfin Finansiële Dienste wat in betaalstaat en B-BSEB-dienste spesialiseer, saam met top SA krieketspeler Jacques Rudolf en top motiveringspreker Steyn Rossouw, wat almal ’n passie het om mense te help en ’n positiewe verskil in Suid-Afrika te maak. Jacques is lank reeds ’n vriend van die Atterbury Trust en het die Trust genader met die doel om behoeftige mense te bereik wat ’n gratis oogtoets en ’n bril sou nodig hê.  Die Triomf Kliniek doen vir die afgelope nege jaar reeds sulke goeie werk, en hiermee word dit net nog verbeter. Daar is toe met plaaslike oogkundiges en laboratoriums onderhandel en Projek Vooruitsig is in samewerking met Atterbury Trust gebore. Ons het betrokke geraak, omdat ons glo ons het almal ’n verantwoordelikheid om ’n verskil te maak waar ons kan, en ons kan oogsorg gee aan mense wat dit andersins nie sou kon bekostig nie.

Hoe gaan hierdie nuwe oogkliniek werk?
Ons gaan op 10 Mei afskop, en begin deur op die eerste en middelste Woensdag van elke maand ’n oogkundige by Triomf Kliniek te hê, met ’n oogkliniek wat spesifiek op betalende pasiënte gemik is. ’n Oogtoets vir betalende pasiënte kos R200. Dit sal hierdie pasiënte ’n verdere R1 000 kos vir ’n enkelvisie-bril en R1 500 vir bifokale. Hieruit word 10% geskenk aan Triomf Kliniek en die res sal die oogarts se onkostes en die bril se koste dek. Ons gebruik dus die opbrengste van die betalende pasiënte om behoeftige pasiënte gratis te help.

So kan enigiemand die kliniek kom bywoon? Hoe maak mens ’n afspraak?
Mense sal aanlyn op die triomf.org webwerf direk kan bespreek – hou hierdie spasie dop!

Dit is nou bo en behalwe die gereelde oogkliniek vir Triomfpasiënte wat julle reeds aanbied, is ek reg?
Dis reg ja. Ons borg elke maand een oogkliniek waar ’n oogarts gratis oogtoetse doen vir die Triomfpasiënte.  As mense brille nodig het, borg Atterbury Trust die grootste persentasie van die koste en die pasiënt self betaal R200 vir ’n enkelvisie bril en R400 vir ’n bifokale bril. Nou sal ons met elke betalende pasiënt ten minste een behoeftige pasiënt se bril kan befonds.

Wat vind julle is die grootste behoefte onder Triomf-pasiënte?
Mense besef hulle het ’n bril nodig, maar bekostigbare oogsorg is nie beskikbaar nie, so hulle moet maar daarsonder klaarkom. Ons alles-insluitende uiters bekostigbare pakkette bring oogsorg binne duisende mense wat dit normaalweg nie sou kon bekostig nie se bereik, en ons kry dit reg om boonop ook regtig behoeftige mense te help. 

Het julle enige planne om die diens by Triomf Kliniek uit te brei?
Dit is die idee ja, ons wil baie graag hê dat nog meer mense gehelp kan word. Om dit te kan doen is oogkundige toerusting nodig, so ons is tans besig om borge te werf om daarvoor te betaal.  Met die regte toerusting sal die kliniek aansienlik meer toetse met meer akkuraatheid kan doen, wat ons in staat sal stel om meer mense te help.

Hoekom dink jy is dit belangrik dat die private sektor bydrae om hulp in die gemeenskap te verleen soos Modern Optical by Triomf doen?
Indien nie die private sektor nie, wie dan? Ons moet almal doen wat ons kan.

Indien jy kan help, of weet van iemand wat kan, kontak gerus vir Danelle Strydom

[email protected]. Kliek hier om as buitepasiënt ’n afspraak by die Triomf oogkliniek te maak of skakel Liauné by 012 3277818.