Triomf Kliniek se nuutste personeel-lid is pas ’n maand in die tuig. Ons het gaan hoor hoe Liauné Terblanche haar nuwe rol ondervind.

Die kliniek doen al die die afgelope nege jaar sulke goeie werk met bykans 5 400 pasiënte wat gratis sorg met waardigheid ontvang het – wat behels jou nuwe pos en wat is jou eerste indrukke van die werksaamhede daar?
Ek is Triomf se kliniek- en organisasie-koördineerder. My verantwoordelikhede by die kliniek behels hoofsaaklik administratiewe take, asook skakeling met samewerkende instansies.  Die uitstekende organisering en kommuniksasie wat Atterbury Trust handhaaf was vir my opvallend van die begin af. Ek is oortuig dat dit, saam met die onbaatsugtige diens en kundigheid van ons vrywilligerdokters, een van die hoofredes is dat die kliniek so suksesvol is, en ek gaan my allerbeste doen om by te dra sodat dit gehandhaaf word en net beter word! Ek het ’n groot liefde vir die gemeenskap en sal met graagte die ekstra myl loop vir Triomf Kliniek en sy mense.

Hoe was jou eerste maand in die tuig?
Ek het in die afgelope maand reeds so baie geleer, en danksy my wonderlike kollegas kon ek vinnig tuis voel met my nuwe verantwoordelikhede en omgewing. Ek het in die kort tydjie met meer mediese terme bekend geraak as ooit tevore in my lewe!

Vertel ons hoe jou paadjie met Atterbury Trust s’n gekruis het. Was jy ook ’n Trust-beurshouer?
Nee, ek het ’n Funza-beurs gehad – dit is ’n beurs wat deur die staat aangebied word vir onderwysstudente. ’n Vriendin het my vertel van die geleentheid by Triomf Kliniek, en dit is hoe ek by Atterbury Trust betrokke geraak het. Voor dit was ek op Potch, waar ek einde verlede jaar by Noordwes Universiteit my BEd Grondslagfase-graad behaal het.

Waar is jy gebore en getoë, en kan jy ons iets oor jou gesin vertel?
Ek het in Brits grootgeword en was daar op laerskool. In 2015 het ons Hartebeespoortdam toe verhuis, en ek was in Pretoria op hoërskool by die Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies), waar ek matriek geskryf het in 2018.

Ek bly nou weer saam met my ouers en ons twee hondjies in Hartebeespoort – dis baie lekker om na nege jaar terug by die huis te wees, na die koshuisjare op hoërskool en die studies op Potchefstroom. Ons is twee dogters, en ek is die oudste. My sussie het verlede jaar matriek geskryf.

Wie is Liaune as sy by die huis is?
By die huis geniet ek dit om tyd met my mense deur te bring – my geliefde, familie en vriende. Ek gaan stap graag in die middae met ons honde en geniet dit om ’n entjie met die boot op die dam te vaar. Fotografie is my gunsteling stokperdjie.

Het jy toekomsplanne wat jy met ons kan deel?
Ek stel baie belang in opvoedkundige sielkunde, en wil baie graag in die toekoms my kennis verbreed. Ek is reeds vanaf 2021 besig om ekstra sielkundevakke deur Unisa te studeer.

Hoekom reken jy is Atterbury Trust se werksaamhede belangrik, en hoekom is dit ’n goeie idee vir mense wat kan, om skenkings te maak?
Die omvattende maatskaplike- en gemeenskapsdiens wat Atterbury Trust lewer is so belangrik omdat die nood daar buite so groot is. Triomf Kliniek, byvoorbeeld, gee uitstekende sorg met waardigheid vir behoeftige pasiënte wat nie andersins gehalte mediese sorg kan kry nie.

Atterbury Trust het ’n hart vir die gemeenskap en sy mense. Hulle bied soveel ondersteuning op verskeie vlakke vir ons medemens en so baie organisasies wat behoeftige mense bystaan, steun op die Trust vir die hulp wat hulle verskaf. Die feit dat mens met selfvertroue kan bydra omdat jy weet dat alle skenkings op ’n verantwoordelike wyse aangewend word, is die kersie op die koek.  Vir skenkers is dit so belangrik om te weet hulle finansiële bydrae word reg gebruik. Sonder die hulp van buite sou Atterbury Trust nie die vlak van hulp kon bied wat tans moontlik is nie. Skenkers is die lewensbloed!

Enige vrywilligermedici wat hulle dienste vir Triomf Kliniek wil aanbied (tandartse, algemene praktisyns, spraakterapeute, ensomeer) is baie welkom om Danelle Strydom te kontak of skakel 012 427 1600. Enige donasies aan die Atterbury Trust om die operasionele uitgawes by Triomf Kliniek te befonds, kwalifiseer vir ’n belastingaftrekkeing en die nodige Artikel 18A-sertifikaat kan daarvoor uitgereik word.