Triomf Kliniek se pasiënte hoef nie te betaal nie, maar hulle kry onder andere van die beste dermatologiese behandeling wat daar is, danksy ’n voorslag span velspesialiste wat hul tyd skenk aan die kliniek en Pretoria-Wes se behoeftiges. Een van hulle is Dr Ugeshnie Naidoo, wat ons meer vertel het oor haar liefde vir dermatologie.

Hoe het jy destyds deel van die span vrywilligerdokters geword wat so baie vir ons pasiënte beteken, en hoe lank is jy al betrokke?
My kollega Dr Jeanette Joynt was reeds by Triomf betrokke, en het my gemotiveer om ook deel te raak van die span – dit was in 2018, en ek is sedertdien daar.

Hoe gereeld is jy daar aan diens, en hoe sou jy jou Triomfpasiënte se velbehoeftes opsom? Is daar bepaalde kwale wat baie gereeld voorkom?
Ons werk in rotasie, en is so drie tot vier keer per jaar by Triomf Kliniek vir ’n middagsessie.  Die mees algemene diagnose wat ek hier teëkom is velkankers, veral basaal-sel karsinoom. Ons sien dat die tipiese Triomfpasiënt beslis ’n beter monitering-stelsel nodig het vir spesifiek velkankers – teen die tyd dat hulle by Triomf aanklop is hulle letsels al baie groot en dikwels nie meer behandelbaar nie. Ongelukkig is die rede vir sulke laat diagnoses merendeels die feit dat hulle nie mediese sorg kan bekostig nie en dan te lank wag voor hulle hulp soek.

Kan jy een pasiënte-storie uitsonder, ’n geval wat jou bybly, en hoe die behandeling wat jy kon gee, iemand se lewe ingrypend verbeter het?
Ek het ’n pasiënt wat deur Triomf Kliniek by my uitgekom het, behandel vir erge keloïede wat deur brandwonde veroorsaak is. Ons het haar ses-weekliks met kortisoon en bleomisien (soos chemoterapie) behandel deur ’n gespesialiseerde meganisme vir baie spesifieke dosering en ook plasing van die medikasie in die letsels. Die resultaat was ’n dramatiese verbetering in die inflammasie en ook die digtheid van die keloïede na elke behandeling. Sy sal altyd vir my ’n groot “Triomf” wees omdat ek werklik resultate kon sien.

Wat het jou aangetrek na dermatologie as ’n spesialiteit? Was dit van die begin af waarin jy belanggestel het?
My oom was ’n dermatoloog en sedert my tweede jaar van mediese studies het ek geweet dat dermatologie die enigste spesialiteit vir my is. Die vel is die grootste orgaan; jou eerste weerstand en jou eerste kennismaking met die wêreld… ek leef daagliks my passie uit deur hiermee te werk.

Waar het jy gestudeer, en waar praktiseer jy?
Ek het aan die Universiteit van Kwazulu-Natal studeer, en is tans in privaatpraktyk in Brooklyn, Pretoria.

Wat is die ontwikkelings in jou veld waaroor jy mees opgewonde is – wat die moontlikhede vir ’n dokter vergroot en vir velpasiënte beter uitkomste gee?
Op tegnologiese vlak is ek opgewonde oor die omvattende laserbehandelings wat reeds beskikbaar is en voortdurend verbeter, vir ’n verskeidenheid veltoestande, veral ten opsigte van littekenbehandeling. Dan is daar op biologiese vlak nou biologiese middels vir chroniese toestande soos psoriase, urtikaria en ekseem, wat baie effektief is. Genesing van sulke veltoestande is ook helend vir pasiënte se emosionele welstand, en dit is baie bevredigend om te sien dat behandeling bydra tot verbeterde lewensgehalte en selfvertroue.

Ons is voortdurend op soek na nog vrywilligerdokters wat kan deel raak van die Triomfspan. Indien jy geroepe voel, kontak asseblief Atterbury Trust se projekte- en studentkoördineerder, Danelle Strydom by [email protected] of 012 461 1700.