Triomf Kliniek se sukses is direk afhanklik van die dokters en spesialiste wat hulle tyd skenk om ons pasiënte sonder onkoste te behandel, en Dr Claudia Moloabi van The Willows in Pretoria is een van hierdie wonderlike mense. As dermatoloog is dit haar passie om ‘n verskil te maak in die lewens van pasiënte met velkankers en ander velkondisies, onder andere naelprobleme. Sy vertel ons meer.

Waar kom jou belangstelling in dermatologie vandaan?

Ek het altyd van dermatologie gehou, selfs voor ek ‘n dokter was, maar terwyl ek gestudeer het, het ek ander belangstelllings gehad, totdat ek vir my gemeenskapsjaar by Bernice Samuels in Delmas gewerk het. Dis ‘n plaasgebied en ek het baie plaasmense gesien wat kom hulp soek het vir ’n vel wat jeuk. Ek het ook baie jong diabete en hipertensie-pasiënte teëgekom en dit was vir my ’n raaisel. Toe begin ek hulle as ’n reël vir HIV toets en dit was interessant dat amper almal positief getoets het. Toe “kliek” ek – die skakel tussen HIV en die vel! My vroeëre liefde vir die vel het weer vlamgevat en ek het toe besluit om in dermatologie te spesialiseer.

En hoe het jy by Triomf Kliniek beland? Vertel ons meer oor jou betrokkenheid daar.

Ek het ’n simposium van die Velkankerstigting in Durban bygewoon en daar van Triomf gehoor. Daarna het Dr Bonolo Mushiana ook weer oor die kliniek gepraat en ons het saamgestem dat ons wou betrokke raak omdat dit vir so ’n goeie saak is. My filosofie is dat indien mens in ‘n posisie is om te kan help, jy so moet doen sonder om vergoeding te verwag. Ek sien by Triomf velkanker-pasiënte wat nie private gesondheidsorg kan bekostig nie en nie kan wag vir hulp by staatshospitale waar hulle soms selfs jare moet wag vir ’n operasie nie. Ek is een keer per maand daar en sien dan minstens 10 pasiënte. Dit is ‘n diens wat ek pro bono lewer.

Kan jy een geval uitsonder wat vir jou uitgestaan het?

Dit was toevallig ‘n nie-kanker pasiënt – ‘n jong man met verswakte sig, wat tipies is van Graves se siekte, maar hy het reeds normale skildkliertoetse gehad en is deur ’n paar spesialiste en oogkundiges gesien. Sy probleem is ’n vergrote optiese senuwee wat onbehandeld sal lei tot blindheid. Die operasie op een oog sal hom ’n halfmiljoen rand kos wat hy nie het nie. Ek kon hom verwys na Steve Biko Hospitaal waar ek glo hy gehelp sal word; hy is pas vir die eerste keer daar deur ’n dokter gesien.

Kan jy ook ‘n pasiënt in jou private praktyk uitsonder wat ‘n impak gemaak het op jou?

Ek het in 2018 ‘n pasiënt met 18 velkankers gehad wat op ‘n baie lae mediese hulpfonds-plan was. Ek moes hom in die hospitaal opereer, en het al 18 die kankers op een slag verwyder. Dan was daar meer onlangs ’n bejaarde pasiënt wat opgeneem is nadat sy gediagnoseer is met ’n negatiewe velreaksie op ‘n medikasie. Ek het ’n biopsie laat uitvoer en toe ons die uitslag kry, vir die pasiënt verduidelik hoe belangrik dit is om die oorsaak na te speur. ’n Sonar van haar buik en bekken het gewys daar was massas op haar lewer en niere, en ’n veelvuldige myeloom met moontlike metastasis is gediagnoseer. Ek het haar verwys na die sjirurg en onkoloog.

Is daar ’n onlangse ontwikkeling in jou veld wat jou besonder interesseer?

Ek is onlangs bekwaam in nael-sjirurgie, ’n veld wat nog nie veel van my kollegas bekyk het nie. Ek het ‘n voorlegging daaroor by die SASDS aangebied om meer van my kollegas aan te moedig om hierdie soort snykunde aan te bied. Ek het ook onlangs gereis na Griekeland en Singapoer om meer te leer oor dermatologiese snykunde, veral veloorplantings, Mohs mikrosjirurgie en liposuiging.

Wat kan jy ons vertel oor jou gesinslewe?

Ek is het ’n 18-jarige dogter, Reotshepile , wat in 2022 haar matriek voltooi het, en in 2023 ’n oorbruggingsjaar geniet het. My man, Victor, is ’n DBA-kandidaat en kwalifiseer in 2024. Ek geniet dit om vir my gesin te kook, en ek het al ’n hele paar kook- en bakkursusse aangepak. Ek doen graag sjef-ervarings met mense soos Andrew Draper en Chef Angel. En as ’n gesin geniet ons dit baie om hier en in die buiteland te reis.

Jou betrokkenheid by Triomf Kliniek beteken só baie – het jy dalk ’n boodskap vir ander spesialiste wat oorweeg om hul hulp aan te bied?

Ons professie gaan oor diens. Vriendelikheid is ‘n deug, glo ek. Baie van die pasiënte wat aan velkankers of ander rare siektes ly, kan nie private gesondheidsorg bekostig nie, en die meeste van die siektes kan slegs op spesialis-vlak behandel word. So ek glo dit is uiters noodsaaklik vir ons om betrokke te raak om lewens te red.