Hierdie Jeugdag het Atterbury Trust Wes-Kaap en Moedertaal Ontwikkelings Inisiatief (MOI) ’n groep leerders op ’n uitstappie geneem wat vorentoe kyk na ’n toekoms vol geleenthede. Simonet de Villiers, MOI se projekkoördineerder, vertel meer.

 Atterbury Trust is altyd aktief op Jeugdag. Vertel ons wat vanjaar se plan was en wie almal deelgeneem het?
Jeugdag is ’n geleentheid om iets opbouend en positief vir ons jongmense aan te bied wat bou op hulle toekoms, en dit het ons ook kans gegee om een van MOI se hoofdoelwitte – blootstelling – te kan uitleef. Ons het 15 van die MOI Graad 11- en Graad 12-leerders na Hugenote Kollege in Wellington geneem.

Waarom het julle spesifiek Hugenote Kollege gekies, en hoe het die dag verloop?
Hugenote Kollege is een van die gehalte Afrikaanse Christelike tersiêre instellings wat fokus op die opleiding van leiers, wat daarna uitgestuur word om lewens te verander as maatskaplike werkers of teoloë. Die kollege se grondslag, visie en waardes stem direk ooreen met dié van MOI.  ’n Hele paar van ons MOI-leerders stel spesifiek belang om in ’n maatskaplike of teologie-rigting te beweeg, en dié wat verdienstelik is, het die geleentheid om met ’n Atterbury Trust rentevrye beurslening  daar te kom studeer.

Die rektor, Prof Nelus Niemand, het ons groep ontvang en toegespreek, daarna het die verteenwoordigers van die onderskeie fakulteite vertel van die verskillende programme wat beskikbaar is en wat elk behels.

Hierna het hulle die groep ’n kykie gegee in koshuislewe met ’n vinnige toer deur die Friedenheim dameskoshuis, wat geleë is op die Andrew Murray Spiritualiteit Sentrum se gronde. Die leerders is toe op middagete getrakteer by Huis Murray en het die dag afgesluit met stiltetyd in die kapel.

Wat was die terugvoering van die leerders?
Ons het baie positiewe terugvoering gehad; die jongmense het dit baie insiggewend gevind en kon direkte vrae aan die verteenwoordigers van die verskillende departmente vra. Blootstelling soos hierdie is vir die meeste van ons MOI leerders baie waardevol, omdat hul andersins nie so ’n geleentheid sou gehad het nie.

In haar verslag het Zoë September van Labori Hoërskool, byvoorbeeld geskryf, “Dit was ’n uitstekende ervaring en baie lekker. Wat vir my uitgestaan het, was die geskiedenis van die gebou asook die mense en waarvoor dit nou gebruik word. Ek sal met geen twyfel weer wil teruggaan om meer te leer en te ervaar nie.”

Simeulida Petersen van Paarl Gimnasium het geskryf, “Ons het geleer oor loopbaanrigtings en veral oor hoe groot die veld vir sielkunde asook maatskaplike werk is. Ek het dit vreeslik geniet en baie geleer.”

Wat is julle volgende stap na so ’n besoek aan ’n kollege waar die leerders blootgestel word aan verskillende studieopsies?
Na so ’n besoek, sal ons opvolg met die jongmense en hulle ouers rakende studierigtings. Ons verbind dan die instansie en die leerders wat graag daar sal wil studeer en help ook met die aansoekvorms en beursaansoeke. Elkeen van hierdie jongklomp is in Graad 9 deur ’n psigometris getoets om leiding te gee wanneer vakkeuses gemaak word in Graad 10. Persoonlike terugvoering rakende hierdie toetse word aan leerder en ouer gegee om ook beroepsopsies en keuses te oorweeg. Blootstelling soos hierdie doen meer as net die direkte beroepsvoorligting wat ’n instansie en sy studiemoontlikhede bekendstel, want dit maak ook vir die jongmense deure oop sodat hulle kan begin droom oor hulle toekoms en ’n prentjie begin vorm van waarheen hulle oppad is.

Ons hoor Terugploeg het sommer ook ’n Jeugdag-draai gegooi – vertel ons meer?
Terugploeg Pretoria het op die dag voor Jeugdag vir ons ’n vrag naartjies, tamaties, uie en nog ander vrugte en groente gestuur om hier in die Wes-Kaap uit te deel. Een van ons MOI meisies, Angel Dayta van Bloemhof Meisieskool, het op pad na Hugenote Kollege saam met Jenene Petersen, MOI se program-bestuurder, ’n draai gemaak by Andrew Murray Kinderhuis in Wellington waar hulle van hierdie kos afgelewer het.

As deel van MOI se holistiese benadering ontwikkel ons die beurshouers as leiers en Koningryksambassadeurs sodat hulle leer om terug te gee aan die gemeenskap. Blootstelling aan gemeenskapdiens en gemeenskapsontwikkeling is van uiterse belang sodat die kinders kan besef hulle kan ook ’n verskil maak.

Hoekom reken julle is dit belangrik om op Jeugdag iets vir jongmense te doen?
Soos almal weet, herdenk Jeugdag ’n dag van baie hartseer en pyn, en daarom is dit vir ons belangrik om dit aan te gryp en jongmense op te bou en bloot te stel aan positiewe invloede wat kan lei tot ’n suksesvolle toekoms waar hulle hul volle potensiaal kan bereik. Om met die jeug te werk is so ’n voorreg, en dis boonop ’n belegging in die toekoms van ons land.