Die Jan H Maraisprys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar toegeken aan die historikus Prof Fransjohan Pretorius van Pretoria, berig Maroela Media op die werbwerf.

Prof Fransjohan Pretorius

Die prysgeld van R500 000 as erkenning vir sy lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans sal op 29 Mei 2019 by ʼn funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word. Prof Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die keurkomitee, het dié besluit bekend gemaak.

Prof Pretorius, een Suid-Afrika se bekendste historici, is in 1949 in Johannesburg gebore. Hy is ʼn oud-Tukkie wat nagraads verder aan die Rijksuniversiteit Leiden in Nederland studeer en sy doktorsgraad in 1989 aan Unisa behaal het.

Hy het sy loopbaan as akademikus begin aan sy alma mater, waarheen hy in 2014 teruggekeer het ná 12 jaar in die Geskiedenisdepartement van Unisa. Aan die einde van Junie 2014 het hy met amptelike pensioen by die Universiteit van Pretoria uitgetree.

Fransjohan Pretorius het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, van wetenskaplike artikels tot bydraes in koerante. Hy tree ook gereeld in radioprogramme op. Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis. Verskroeide Aarde, die ryk geïllustreerde boek wat daarop gebaseer is en ook in Engels verskyn het, het breë aandag getrek. Hy word wêreldwyd erken as ʼn deskundige oor daardie laaste fase van Britse imperiale uitbreiding.

Prof Pretorius deur die Nasionale Navorsingstigting as ʼn B1-navorser gegradeer, wat beteken hy is ’n navorser wat internasionale erkenning geniet en beskou word as ʼn vooraanstaande internasionale kenner van die gebied.

In 1998 het hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en in 2001 ʼn prestigeprys van die FAK.

“Fanjan” Pretorius is getroud met Laurette, afgetrede professor in Rekenaarwetenskap aan Unisa se skool vir Nagraadse Studie. Die egpaar het ʼn dogter en twee seuns.

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ʼn besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit van Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870s hulle fortuin op die Kimberleyse diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ʼn groot ondersteuner van Afrikaans as ʼn akademiese en literêre taal.

Die prys vir ʼn lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff Andreas van Wyk Albert Grundlingh Christof Heyns, Debra Meyer), Piet Steyn) en dr Johan van Zyl.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamediaco.za verskyn