Dit is in 2018 reeds 20 jaar sedert ons vir die eerste keer beursonderhoude gedoen het, en ons het nie in ons wildste drome verwag dat ons eendag op soveel uitstekende studenteprestasies sal kan terugkyk nie. Die Klas van 2017 was ontsettend sterk, en ons is geweldig trots op die 50 jongmense wat verlede jaar graad gekry het na hul ’n paadjie saam met Atterbury Trust geloop het. Zahn Hulme en Leonie du Preez neem die jongste groep graduandi in oënskou. 

Vyftig nuwe grade! Dis baie gradeplegtighede vir julle om by te woon – hoe hanteer julle dit?
Ons wag vir kleurvolle fotos en sal daarmee spog op al ons platforms, so hou hierdie spasie dop! Ongelukkig is dit nie moontlik om al die plegtighede self by te woon nie…

Wat was die mees gewilde grade?
Die gunsteling graad was B Com; daar is 17 van hulle behaal. Onderwys was ook baie gewild, met ses grade behaal. Twee mediese dokters het graad gevang, en drie ingenieurs gaan Suid-Afrika ‘n beter plek maak!

Was daar iets wat die Klas van 2017 laat uitstaan?  Hoe sou julle hulle beskryf?
Die studente wat in 2017 graad behaal het, het verseker uithouvermoë. Hulle het #feesmustfall oorleef waar verskeie universiteite vir ’n geruime tyd gesluit was. Hierdie studente het steeds ’n plan gemaak en “aanlyn” klas-klas gespeel. Van hulle het by vriende se huise met die onderskeie dosente ge-Skype, en so het hulle vraestelle uitgewerk, en steeds hulle take en eksamens voltooi. Die Klas van 2017 staan ook uit wat akademiese prestasie betref – drie van hulle het toekennings as topstudent by hul onderskeie universiteite gekry.

Julle help ook in uitsonderlike gevalle soms ’n hoërskool-leerder met ’n beurs – was daar in hierdie groep so iemand? En indien wel, het hy of sy ook ’n studiebeurs gekry om tersiëre studies te begin?
Ja, daar was; Jolene Pretorius het soveel talent, en het nie haar moeilike omstandighede tuis in haar pad laat staan nie. Sy het werklik die meeste gemaak van die geleentheid wat sy gekry het om by Afrikaans Hoër Meisieskool skool te gaan. Wat haar situasie uniek maak is dat sy naweke nie elektrisiteit gehad het nie, en steeds doelgerig gebly het om take en voorbereiding vir haar studies te doen. Sy het haar matriek goed geslaag en gaan vanjaar regte studeer by die Universiteit van Pretoria, as ’n Atterbury Trust-beursstudent.

Dit is vanjaar die 20ste herdenking van die eerste beursonderhoude. Wat sou julle sê is die grootste verskil tussen toé en nou, behalwe dat julle soveel meer studente kan help as daardie eerste jare?
Beslis die volumes! In daardie eerste jaar het ons 12 kandidate gesien vir die ses beskikbare beurse. Na 20 jaar ontvang ons meer as 400 aansoeke en nooi ongeveer 120 potensiële beursstudente vir onderhoude. Ons gebruik ons ondervinding van twintig jaar om die profiel van ’n suksesvolle kandidaat uit te ken. Die Trust-studente se uiters hoë slaagsyfer getuig dat ons evalueringsproses werk. Die gehalte van die studente wat aansoek doen vir beurse is baie hoog. Hulle het dryfkrag en insig. Dit maak die keuringsproses so moeilik, juis omdat elke kandidaat ’n kans verdien, en bereid is om te werk vir die doelwit wat hulle wil bereik.

Het julle merkbare verskille opgetel tussen die studente van toé en nou?
Vandag se studente word so oorlaai met inligting dat dit dikwels ‘n groot uitdaging is om ’n  studieveld te kies, werk te soek en selfs net uit te werk wat hulle passie is.

Hoeveel geld het die Trust sedert die daardie heel eerste jaar aan beurse bestee?
Die totaal staan nou reeds op sowat R38 miljoen. Studente wat oor die jare graad gevang het, het al meer as R 8 miljoen terugbetaal.

Volgende week begin die akademiese jaar weer, en julle het 70 nuwe studente aan boord in die beursfonds. Hoeveel kos dit in 2018 om al die studente in die beursprogram op universiteit en kollege te hou?
Ons het vanjaar altesaam 230 studente, en dit kos Atterbury Trust R10 miljoen vir die jaar. Dit is hoekom ons so swaar steun op al ons beursfondsskenkers om dit jaar na jaar aan die gang te hou en te laat groei.

Wie was die ster van 2017 – is daar een student wat uitgestaan het, iemand wat ‘n besondere prestasie bereik het?
Ons is geweldig trots op al ons studente – hul het hul grade met ongelooflike goeie punte behaal. Maar as ons een student moet uitsonder, sal dit Liezel Coetzee wees wat 2017 se topstudent was – sy is by die Universiteit van Stellenbosch aangewys as die beste student in Spraakterapie en was die enigste een in haar groep wat haar Spraakterapie graad cum laude behaal het!

KLAS VAN 2017 IN ’N NEUTEDOP:

  • B Com: 17
  • B Ed: 6
  • B Ing: 3
  • B Sc: 6
  • BA: 7
  • Diplomas: 6
  • LLB: 2
  • MB ChB: 2

WAT NOU VIR DIE KLAS VAN 2017:

Van die 50 wat graad gevang het, het 28 reeds werk, of gaan ’n klerkskap doen; vier van hulle doen ’n  gemeenskapsjaar in ’n  hospitaal; agt van hulle gaan verder studeer – vier honneurs en vier meestersgrade – en 10 soek werk.

Tien van die graduandi van die uitmuntende Klas van 2017 soek nog werk, en ons rig graag ‘n versoek aan al Atterbury se vriende, vennote en medewerkers – as jy of jou maatskappy ’n werksgeleentheid kan bied aan enige van hierdie hardwerkende jong uitblinkers, laat weet vir Zahn by [email protected] en ons sal julle graag bekendstel. Die betrokke 10 het die volgende grade behaal:  BA Maatskaplike Werk, B Com Bemarking (twee van hulle), B Sc Menslike Beweging, BA Menslike Beweging, Diploma in Kuns, LLB, BA Teaterproduksie, BA Internasionale Studies, en B Com Finansiële bestuur

Alle donasies tot die beursfonds is belastingaftrekbaar en dis ’n maklike proses om te skenk – kliek hier vir details voor die einde van die finansiële jaar!