Chris Thirion, ’n gewone werknemer by Terugploeg se vervoervennoot Vibro Bricks, is ’n weldoener wat gereeld sy hand diep in sy sak steek om diegene rondom hom wat minder het, by te staan. Meer nog, sy hande staan vir niks verkeerd nie, soos sy sopkombuis bewys. Ons hoor die hele storie by die man self.

Wanneer het jou Pretoria-Wes sopkombuis-projek begin, en hoe het die idee ontstaan?
’n Mens hoef net deur die strate te ry om bewus te wees van die geweldige behoefte rondom ons. Dit het my aangegryp, en toe ek so gelukkig is om Covid te oorleef het ek in Julie 2021 informeel begin om oor naweke klere en ’n paar bakkies kos uit te deel aan hawelose mense. Ons het pap en groentesous voorberei en dan rondgery om dit saam met ’n appel en ’n glasie koeldrank uit te deel. My suster en ek het besef daar was te veel plekke waar mense slaap om die rondryery vol te hou en toe besluit ons dat ons elke Saterdag in die parkie op die hoek van Frieda- en Keyterstraat in Daspoort, agter die Moot Spar, sal opstel waar die mense eerder kan kom kos haal.

Vertel ons presies hoe dit werk – hoeveel maaltye verskaf julle, hoe en waar word dit voorberei en uitgedeel, en wie is julle gaste?
Ons begin Saterdagoggende om 04:00 kosmaak by my ma se huis in Donkerhoek, en teen 12:00 gaan ons na die parkie om alles voor te berei sodat ons 13:00 kan begin opskep. Ons kook groot potte pap en maak ’n bredie met groente gegeur met pakkies sop. Op die oomblik is daar omtrent 300 mense wat gereeld kom vir ’n maaltyd; van verarmde bejaardes en haweloses tot gesinne wat sukkel, saam met hulle kinders. Daar is soveel honger; dit breek ’n mens se hart.

Hoe het dit ontwikkel sedert Julie 2021, en waar staan julle nou, skuins voor julle tweede Kerstyd?
Aan die begin was daar so ’n honderd mense wat gekom het, maar hulle het eers gedink ons verkoop die kos en was dikwels te skaam om nader te kom. Soos die woord versprei het dat die kos gratis is, het die getalle gegroei. Baie vrywilligers het gesien wat ek doen en aangesluit om die kos te bedien. Ons is baie dankbaar vir enige bydrae – alles wat geskenk word, gebruik ons vir die volgende maaltyd, en ons deel dit alles uit.

Het julle spesifieke planne vir die projek tydens die feestyd?
Ons het vir dié feestyd ’n Kerspartytjie op 16 Desember beplan en het hulp en wonderlike bydraes gekry van Terugploeg, en van Vibro en Tres Engineering. Atterbury Trust het gehelp met die insamel van kersgeskenke vir die kinders. Ons het ’n Kersete gekook met gebraaide hoender en ses slaaie en nagereg, en die gemeenskap het regtig saamgetrek om dit spesiaal te maak. Terugploeg het 30 hoenders geskenk en vir ons die Terugploeg-sleepwa geleen om die kos en geskenke te kan aanry. Ons het die parkie opgemaak met Kersliggies en -versiersels, daar was speletjies en die nooddienste in die area het vir Kersvader in ’n ambulans gebring om vir die kinders geskenkies uit te deel! Dit was ‘n wonderlike dag – omtrent 550 mense het gekom en ons kon vir hierdie hierdie mense wat so min het, weer die towerkrag van Kersfees wys.

Wat is jou filosofie oor die rol van die private sektor om hulp te verleen in die gemeenskap? Hoekom doen jy wat jy doen?
Ek het Covid oorleef nadat ek baie baie siek was, en my dankbaarheid dat ek gespaar is, was die inspirasie om iets vir ander mense te doen. Dis eenvoudig – hoe meer hande uitreik na ander wat so min het, hoe minder mense hoef honger te gaan slaap. Dit maak nie saak wat jy kan gee nie, want elke bietjie help. Ja dis baie werk om die kos voor te berei, maar as jy daar staan en die dankbaarheid op die gesigte sien vir die bietjie wat jy deel, maak dit alles die moeite werd.

Wat sou jy voorstel vir mense wat ook hierdie Kerstyd iets vir ander wil doen?
Moenie bang wees en dink dit wat jy gee is nie goed genoeg nie. Ek praat uit ondervinding – vir diegene wat gereeld honger ly, is dit goud werd, of jy nou een mens of ’n honderd kan help. Elke bietjie help.

Jou Saterdag sopkombuis bly werk deur die feestyd, reg? As mense wil bydra, hoe kan hulle betrokke raak?
Dis reg, ja. Sjoe, dit sal so gaaf wees, alles is welkom, en honger bly nie weg omdat dit Kersfees is nie… Ons het altyd gas nodig (ons kook in 100 liter-potte op gas), en bakkies vir die kos, en koeldranke, maar enige bestanddele is welkom, of geldelike bydraes om die aankope te doen. Ons hou deeglik boek van alle uitgawes, wat beskikbaar is vir inspeksie. Ou klere of toiletware is ook welkom, of as mense geskenkies vir kinders wil gee wat ons op Oukersdag kan uitdeel, sal dit wonderlik wees. Mense is ook welkom om te kom inloer by die sopkombuis op enige Saterdag.

As jy wil help of ‘n bydrae wil maak, kontak vir Chris by 072 776 0459 of email [email protected] of kontak die span by Atterbury Trust.