Atterbury Trust se oë is altyd oop vir projekte wat poog om ’n verskil te maak, en dis ’n vreugde en voorreg om ons wye netwerk te kan betrek en inspan om oral in hoekies waar daar behoefte is, ’n bietjie lafenis te kan bring. Gedurende Vrouemaand het ons gehoor van ’n projek wat Helpende Hand en die Kankervereniging van SA (Kansa) tot en met Oktober doen, en dadelik geweet wie ons kan nader om te help. Danksy Philip van den Heever en Mike Eksteen van die restaurant PLTFRM by Wolwespruit kan 300 kankerpasiënte voordeel trek uit die #Boesemvriendinne-projek. Ons hoor meer by Mike Eksteen, mede-eienaar van PLTFRM.

Hoe het PLTFRM betrokke geraak?
Ons het die besigheid gebou met ’n fokus om ’n verskil te maak in ons gemeenskap, en het van die begin af ’n persentasie van ons maandelikse omset bewillig aan organisies wat hulp verleen aan veral bejaardes, vroue, kinders en diere, sowel as bewaring. Ons besigheid is 100% diere-vriendelik en ons het ’n spyskaart spesifiek vir honde, die “Pups’ menu”, waarvan ons die volle opbrengs aan dierebeskermingsorganisies skenk. Ons werk die laaste tyd saam met Atterbury Trust om hopelik saam met hulle nog meer te kan doen en ’n beduidende impak te maak in die toekoms.

Hoekom die #Boesemvriendinne-projek?
Daar is so baie mense wat swaarkry, en ons regering en senior amptenare doen hopeloos te min. En baie belangrik – daar moet dringend meer gedoen word om ons land se vroue en meisies te beskerm, by te staan en geleenthede te skep om hulle op te bou en te bemagtig. Toe Atterbury Trust ons nader met die idee, was dit ’n bitter maklike besluit om betrokke te raak.

Wat omtrent die projek het julle aangetrek?
Daar is maar min wat buitestaanders kan doen om ’n vrou wat ’n borskankerdiagnose te kry, te ondersteun, terwyl sy deur ’n ontstellende en uitmergelende proses moet gaan. Hierdie projek is ’n manier om te wys mense gee om; dis vol mensliewendheid en meelewing, dis prakties, en dit is doenbaar. Ons besigheidsmodel is so opgestel dat alle kliënte wat PLTFRM of Wijntuin besoek en ondersteun dan ook indirek ’n bydrae maak.

Hoeveel geld kon julle op die ou end skenk?
Ons het onlangs ’n tjek van R18 000 aan Atterbury Trust oorhandig. Ons het verneem dit kos R60 vir die pak om een borsprostese te brei, en dis ’n voorreg om te kan sê ons projek kan vir 300 prosteses betaal en sodoende hopelik vir 300 vroue ’n klein bietjie troos bring.

Vind meer uit oor die fasiliteite by Wolwespruit:  wolwespruit.co.za

Meer oor #Boesemvriendinne
Borskanker is ’n diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie, en daar is nie veel wat enigiemand van buite kan doen om die nuus te versag nie. Baie mastektomie-pasiënte wat kan, kry terselfdertyd ’n borsrekonstruksie, maar vir baie vroue is dit nie bekostigbaar nie, en die verlies wat hulle ervaar is diepgaande. Dit is waar Helpende Hand se Frouevonds met die idee vorendag gekom het om hul jaarlikse brei-projek in 2021 te wy aan die maak van sagte borsprostese vir behoeftige vroue wat ’n bors verloor het. Die Frouevonds, wat binne Helpende Hand gestig is om vroue te bemagtig, spel sy naam juis so agterstevoor omdat dit wil wys dat dinge soms verkeerd loop in die lewe.

Helpende Hand het baie vrywilligers wat kranige breiers is, vandaar die jaarlikse Breinaaldprojek waarmee mense se breitalent vir welwillendheidsprojekte ingespan word. Vanjaar se projek is saam met Kansa van stapel gestuur onder die vaandel van #Boesemvriendinne met die idee om tot en met Oktober, wat borskankerbewustydsmaand is, prosteses te brei vir vroue wat nie ‘n silikoonprostese of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

’n Brei-pakket is saamgestel met die brei- of hekel-patroon, wol en vullingsmateriaal om een prostese te maak. Hierdie pakkette, wat vir R60 gekoop kan word, word dan versprei onder vrywilligers wat saam wil brei. Geldelike bydraes is welkom, en word aangewend om nog breipakkette te maak. Eenmalige skenkings kan by helpendehand.co.za/donasie gemaak word met BREIKANSA as die verwysing. Breiers wat wil saambrei is baie welkom, en kan by [email protected] meer hoor oor hoe om betrokke te raak.