Terugploeg het gedurende die harde grendeltyd begin as ’n manier om maaltye aan behoeftige gesinne in die Pretoria-omgewing te verskaf. Bykans twee jaar en baie tonne geskenkte voedsel en ’n nuwe hoofkwartier later, het Terugploeg nou ’n volgende fase betree, met die inlywing van ’n nuwe inisiatief, genaamd Boersaam. Terugploeg se algemene bestuurder Jacques Pauw, vertel meer.

Hoe het Terugploeg aanleiding gegee tot Boersaam, en wat is dit presies?
Soos julle weet is Terugploeg begin om kos te verskaf en ook werksgeleenthede te skep om weerlose mense te help om weer hul voete te vind. Om dit vol te hou, het ons natuurlik befondsing nodig. Boersaam is as ’n befondsingsinisiatief gestig om Terugploeg ’n volhoubare projek te maak. Danksy Boersaam kan enigiemand saam met Terugploeg boer deur ’n bees of die waarde van ’n bees (R10 000) te skenk waarmee Terugploeg dan ’n bees sal aankoop. Hierdie beeste word geplaas by deelnemende boere en plase wat dan die Terugploeg-kuddes met kundigheid en ervaring sal bestuur. Die idee is dat daar deelnemende boere en beeskrale regoor die land sal wees. Hierdie beeste sal dan aanteel wat vir Terugploeg ’n inkomste sal genereer en sodoende kan die hulp wat werk, aanhou werk. Hoe meer mense by Boersaam betrokke raak, hoe meer lewensvatbaar raak Terugploeg.

Die eerste kraal is in Rustenburg, en julle het die inisiatief op dié dorp geloods. Wat het dit behels?
Dis reg! Die projek is op 7 April geloods en ons het die oggend afgeskop met ’n groot uitdeel by Laerskool Vastrap. Daar is ’n bestaande projek by die skool waarmee om en by 50 behoeftige gesinne ondersteun word met kos. Ons het meel, groente en koeldranke aan hierdie gesinne uitgedeel en het daarna ook by drie ouetehuise op die dorp kos afgelewer. Die Terugploegspan het die Boersaam-inisiatief daardie aand by Hoërskool Rustenburg geloods en heelwat mense van die omgewing was die aand daar. Lood Bester, die brein agter Terugploeg, het die gehoor toegespreek en die storie van die beweging, en die idee agter Boersaam vertel. Ons weet dat die sukses van beide Terugploeg en Boersaam afhang van suksesvolle verhoudings, en dit was dan ook wat ons dié aand wou bereik. Ek kan opreg sê dat Rustenburg se mense omgeeharte van goud het.

Hoeveel beeste is daar by hierdie eerste funksie geskenk?
Tussen daardie aand en vandag het ons al genoeg skenkings ontvang om meer as 20 beeste aan te koop, en dit alles te danke aan die groothartige mense van Rustenburg.

Wat is die tydlyn met hierdie eerste groep beeste – wanneer sal hulle omgesit word in kontant vir Terugploeg?
Daar is natuurlik altyd uitdagings met enige projek, en op die oomblik kompliseer ’n bek-en-klouseer uitbraak die aankoop van beeste. Ons hoop om oor ’n maand ons eerste beeste aan te koop waarna ons dan kan begin vorentoe kyk vir die eerste kalwers.

Wat is die visie vir Boersaam – en het julle ’n tydlyn in gedagte, en ’n idee van die omvang van wat moontlik is?
Ons doelwit is om binne die eerste twee jaar met 500 koeie te boer, en dit is die eerste oogmerk. Dis belangrik om in gedagte te hou dat die inkomste wat hiermee gemaak word direk en 100% aangewend sal word om ‘n verskil in verskeie gemeenskappe te maak. Die visie is om beeskrale in elke provinsie te vestig sodat ons landwyd ’n verskil kan maak in behoeftige mense se lewens. As ons dit kan regkry om in elke provinsie ’n kraal of twee te vestig, sal die omvang en moontlikhede van die projek verreikend wees.

Hoe kan beesboere betrokke raak?  Is boere oral in die land welkom om deel te neem?
Boere van regoor die land is welkom om my te kontak by [email protected] of om ons webtuiste te besoek om sodoende kontak met die span te maak.

En as nie-boere hierby betrokke wil raak, hoe doen hulle dit?  Kan enigiemand ’n bees koop en skenk, of die geld skenk vir ’n bees?
Almal is welkom en ja, jy hoef beslis nie ’n boer te wees om ’n bees te koop of te skenk nie. Jy kan selfs net bydra tot die prys van ’n bees. Kontak my by bogenoemde adres of besoek ons webtuiste, waar jy ook meer kan uitvind oor al die ander Terugploeg-projekte. Enigiemand kan deelneem, en terugploeg in hul gemeenskap. Kom boersaam en maak ’n verskil!