Die eerste skooldag kan baie intimiderend vir nuwe leerlinge wees. Vir die 145 Graad Eens van Laerskool Simon Bekker in Pretoria, was daar egter vanjaar baie opwinding toe die bekende rugbyspeler Bakkies Botha kom hand bysit het om die ys te breek, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Botha het saamgespan met Solidariteit Helpende Hand om te gaan skooltassies uitdeel aan behoeftige leerders. Botha het ook van die geleentheid gebruik gemaak om toekomstige rugbyspelers te identifiseer deur ’n lynstaan met die nuwe leerlinge te oefen.

Helpende Hand se Andeon-tak is al lank by Laerskool Simon Bekker betrokke en het speelgoed ingesamel sodat daar vir elke Graad Eentjie op hul eerste dag ʼn speelding was. Andeon se mense was baie bly toe Botha uit sy eie daar opdaag om te help om tassies aan die kleintjies uit te deel.

“Ek kan tot vandag toe nog my eerste dag van skool onthou. Ek het ’n gróót tas op my rug gedra en ek wou nie regtig gegaan het nie,” het Botha vertel. “Om te kon deel wees van hierdie geleentheid is ongelooflik. Om die kindertjies se opwinding (en onsekerheid) te ervaar, het my teruggeneem na my eie skooldae. Dit het my hart ook bly gemaak om skryfbehoeftes te kan oorhandig aan aan die Graad Eentjies wie se ouers dit nie kan bekostig nie, want dit is so belangrik dat kinders nie moet sukkel ofdaarsonder oor die weg moet kom nie. Op dié manier kan ons ’n verskil maak in die kinders se toekoms.”

Volgens Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, glo die organisasie armoede kan die hoof gebied word deur in opleiding te belê en dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by Graad Eens geskep word wanneer hulle die nodige skoolbenodigdhede kry.

“Júlle is die bank waarin ons ons geld belê,” het Brink aan die leerders gesê. “Ons rente is jul suksesvolle toekoms as dokters, onderwysers en rugbyspelers.”

Die Skooltassieprojek is nou in sy tiende jaar en het al bykans 27 000 kinders gehelp deur ’n skooltassie met die nodigste skoolbehoeftes aan hulle te verskaf. Vanjaar word 4 762 skooltassies aan behoeftige kinders oor die land heen uitgedeel.

 

Oorspronklike storie op Maroela Media