Grendeltyd het geweldige groot nood gebring in baie behoeftige gemeenskappe, waar ‘n daaglikse maaltyd nie altyd gewaarborg is nie. Dit was vir ons soos ’n roep van bo om te kan betrokke te raak by We^Can, en danksy groothartige skenkers soos Supreme Chicken, gesinne te kan help vir wie honger bykans elke dag ’n hond voor die deur is. Atterbury Trust se finansiële bestuurder, Ananja Koen, vertel wat alles gedoen word.

Hoe het Atterbury Trust by We^Can betrokke geraak, en wat omtrent spesifiek hierdie inisiatief het die Trust se aandag getrek? Wat doen julle presies saam? 

Atterbury Trust ondersteun maandeliks verskeie organisasies en skole as deel van ons gemeenskapsbeen en ons het gedurende die grendeltydperk besef dat ons ’n manier moet identifiseer om meer organisasies met nood op ’n volhoubare wyse te kan ondersteun. Ons het van die We^Can organisasie te hore gekom en met stigter en direkteur Francois Mouton gesels en besluit dat ons saam die organisasie verder kan uitbrei. We^Can is ’n eenvoudige en deursigtige aanlynplatform wat die publiek in staat stel om produkte teen drasties verlaagde pryse vir die gelysde begunstigde organisasies aan te koop. Die We^Can model in ’n neutedop is om verskaffers te vra om deel te raak en produkte teen baie goeie pryse te lewer; die publiek uit te nooi om ons te ondersteun deur die produkte aan te koop, en dan seker te maak dat die kos en produkte direk na afloop van die projek by die betrokke organisasies uitkom sodat hulle kan aanhou met hulle goeie werk in spesifiek behoeftige gemeenskappe. Ons eerste projek saam was om kos te verskaf vir die gemeenskap rondom Laerskool Kameeldrift.

Vertel ons meer oor William Moyses en hoe hy die ambassadeur vir die projek geraak het, en wat sy ambassadeurskap behels.

Die dinamiese William Moyses is die stigter van die KINGinme jeugbeweging, en as iemand wat Engels, Afrikaans en Zoeloe magtig is, is hy ’n groot saamsnoerder. Hy gaan weekliks saam wanneer We^Can kos en produkte by die onderskeie organisasies aflewer en bemoedig die gemeenskap en die mense aan die stuur van die onderskeie organisasies, Hy lewer ‘n kragtige bydrae saam met We^Can om die mense ook op ’n geestelike vlak hoop te gee.

Gee vir ons bietjie die lekker statistiek van hoeveel mense reeds gehelp is en hoe wyd die reikwydte van die hulp is?

We^Can het sedert die begin van grendeltyd amper 52 ton se kos ingesamel, wat ongeveer 202 800 etes voorsien het. Daar is reeds 33 projekte suksesvol afgehandel, en ons is vandeesweek met die 34ste projek aan die gang.  

Wat kom volgende – gaan die skema wyer uitgerol word, en is daar al planne wat jy kan deel?

Tot dusver was die meeste van die organisasies wat ons deur We^Can ondersteun het, in Gauteng gebaseer. Ons doelwit is om ’n netwerk van verskaffers regoor Suid-Afrika op te bou wat bereid is om produkte teen drasties verlaagde pryse aan ons beskikbaar sal stel sodat ons organisasies landwyd kan ondersteun. Ek dink die wonderlike ding van We^Can is die feit dat dit ’n spanpoging is: die publiek en die kosverskaffers maak dit vir ons moontlik om die organisasies te help wat behoeftige mense bystaan en honger beveg. Dit het ook ’n onmiddelike impak – projekte loop vir ’n week op ’n slag en vroeg die volgende week is die kos afgelewer by die betrokke instansie. Ons besef net elke dag dat ons saam ’n reuse verskil kan maak. Ons kan!

Waar kom al die kos vandaan waarmee julle die voedingsprogramme aan die gang hou; kan jy ‘n voorbeeld gee van so ’n skenking en hoe dit aangewend word?

Ons het ’n groeiende databasis van verskaffers wat produkte baie goedkoop gee wat dan op die We^Can platform gelys kan word. Soms nader groothartige verskaffers ons en bied aan om kos of bestanddele te skenk. Supreme Chicken is een so ’n engel-skenker – hulle het sopas ’n ton hoenderporsies geskenk wat ons in ’n paar projekte kan aanwend. Vleis is duur, en ons kry nie baie skenkings van so ’n aard nie, so ons is baie dankbaar vir Marthinus Stander, Arno Kietzmann en hulle Supreme Chicken-span. Die hoender sal ver gaan, en ons skop af daarmee in volgende week se lewendige projek wat die behoeftige gesinne van kinders in Pretoria se Laerskool Westerlig gaan bystaan. Ons gaan vir die skool 150 kombinasies van 6kg vars groente en 2.5kg mieliemeel insamel, en die idee is dan dat vir elke “combo” wat verkoop word, ’n 2kg pak met 11 van Supreme Chicken se hoenderporsies bygesit word. Hierdie 150 kospakke word dan onder die families versprei. Die projek gaan Maandag 22 Junie lewendig op die WeCan webblad, so ons nooi lede van die publiek uit om te help sodat ons al 150 kospakke verkoop. Die res van hoender, sowat 270 pakkies, sal ons in toekomstige projekte gebruik. Dit gaan baie honger verlig.

Hoe kan mense betrokke raak as hulle wil help; en wat is die grootste behoefte? 

Wat ons wil bereik is volhoubaarheid, en ’n manier vir gewone mense om ’n bydrae, klein of groot, te maak, wat ’n verskil sal maak in iemand anders se lewe, en wat honger sal verlig. Ons weet baie mense wil help, en sal elke maand iets wil gee, maar weet nie altyd hoe nie, en weet nie watter kanale om te volg om seker te maak dat die hulp regtig by hulpbehoewendes uitkom nie, so dit is wat ons bied. Vir meer details oor hoe om betrokke te raak, of jy nou ’n individu of ’n maatskappy of ‘n potensiële verskaffer is, besoek gerus We^Can se webblad, www.wecanSA.co.za.

Daar kan ook via Atterbury Trust skenkings gemaak word en as die donateur aandui dit word vir ’n We^Can projek geoormerk, hanteer ons dit so. Atterbury Trust is ’n PVO en donateurs kwalifiseer vir ’n A18-belastingsertifikaat vir die geldwaarde van ’n skenking. Klik hier en skenk gemaklik jou eie bedrag aan We^Can met ons Atterbury Trust Donasiewinkel.