Rugbylegende Victor Matfield het gister die “grootste Bokondersteuner in die wêreld” onthul – ’n vier-meter-hoë klipstandbeeld wat deur ontwikkelingsmaatskappy Atterbury in ’n reusagtige Springboktrui geklee is ter ondersteuning van die Bokke vir die opkomende Wêreldbekertoernooi. Matfield was deel van die legendariese span wat die Wêreldbeker in 2007 gewen het

Die massiewe “Kinders van Hierdie Klippe”, wat deur die bekroonde kunstenaar Angus Taylor vir Atterbury geskep en vroeër vanjaar buite die maatskappy se hoofkantoor by The Club in Hazelwood, Pretoria geïnstalleer is, word na “Springbok van Klip” herdoop vir die duur van die Wêreldbeker wat eerskomende Vrydag, 20 September, in Japan afskop.

Die reuse-trui is so na as moontlik aan ’n identiese weergawe van die amptelike uniform waarin die Bokke sal uitdraf, sê Atterbury se hoof- uitvoerende beampte, Armond Boshoff.

“Ons is groot Springbokaanhangers by Atterbury… ons bloed loop groen vir die volgende maand,” sê Boshoff. “Die nostalgiese herinnering aan hoe die Bokke met hul Wêreldbeker-oorwinnings die land en al ons mense in 1995 en 2007 saamgesnoer het, het ons geïnspireer tot ’n groter as lewensgrootte gebaar om te wys ons staan bankvas agter die span en hou duimvas dat hulle weer die Wêreldbeker sal terugbring! Mens word heeltyd toegegooi onder slegte nuus, maar daar is so baie in Suid-Afrika waaroor ons positief kan wees, en ons glo die besigheidswêreld het ’n verantwoordelikheid om goeie nuus te vier en vertroue in ons land te wys.”

Willem “Boeta” Minnaar van Pretoria, wat twee jaar gelede as vierjarige harte gesteel het toe ’n video van hom wat die volkslied sing op sosiale media rondgestuur is, het gister weer so gemaak by The Club, en Nkosi Sikelel’ iAfrika saam met Matfield en ’n skare toeskouers in groen en goud gesing. Boeta se video het destyds ’n Kwêla-toekenning gewen vir die snaaksste video van die jaar.

Volgens Armond Boshoff was dit behoorlik ’n uitdaging om die vier-ton standbeeld in Springboktrui en -broek te klee. Die trui moes ’n anderhalwe meter lank wees, en pas om ’n forse borskas met ’n omvang van twee-en-’n-halwe meter! “Dit is alles met oop sysome gemaak, met Velcro om dit rondom die beeld vas te maak, want hy kon natuurlik nie sy arms of bene oplig om aan te trek nie,” het Boshoff verduidelik.

Taylor het die standbeeld geskep uit lae van prehistoriese Afrika-rots – van die oudste klippe op die planeet, insluitende grys Belfast Gabbro wat twee miljard jaar gelede gevorm is, en groen Verdiet uit die Barbertonse Groensteengordel wat 3.5 miljard jare oud is.

Die “Springbok van Klip” sal sy Bokkleure tot en met die Wêreldbeker-eindstryd op 2 November dra. Atterbury beplan ook ’n toeskouerspark in Hazelwood by The Club en die aangrensende Old East Precinct vir die kwarteindstryd-naweek, 19-20 Oktober. Vir meer inligting oor die aktiwiteite, kontak gerus vir [email protected].