Eenmaal ’n Atterbury Trust beursstudent, altyd ’n deel van die familie. So is dit lekker om in die netwerk te wees van ons beursalumnae in hul nuwe beroepe, veral as dit gepaardgaan met uitnodigings na lekker netwerkgeleenthede toe! So is ons nou die dag weer uitgenooi deur 25-jarige Mareli Rall, wat van 2012 tot 2014 met ’n Atterbury Trust-beurs kommunikasiekundebestuur op Potchefstroom geswot het, en deesdae in bemarking werk.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust se beursfonds uitgekom, en hoekom was dit vir jou nodig om finansiële bystand te soek?
Ek het van Atterbury Trust se beursfonds gehoor deur huisvriende se seun wat ook deur die beurs studeer het. Ek het nie keuring vir ander beurse gekry nie, en my pa was nie finansieël sterk genoeg om my studies te betaal nie – hy is ’n enkelouer en enigste broodwinner sedert my ma oorlede is toe ek sewe was.

Vertel ons meer oor waar jy jou vandag bevind.
Ek woon in Newlands, Pretoria en werk as bemarkingsbeampte by AfriForum. Ek het een ouer broer, en my pa het ’n gastehuis in Clarens… familie is vir my baie belangrik. Ek het grootgeword in Doringkloof, Centurion, en toe my horisonne verbreed toe ek by PUK gaan swot het.  Ek is nog nie getroud nie, maar ek gaan uit met Wico.

Jy het later op eie stoom verder gestudeer – vertel ons meer van jou beroepskeuse.
Ek het in 2016 by UP ’n honneurs in BCom Kommunikasiebestuur verwerf en verlede jaar by Akademia ’n Gevorderde Diploma in Projekbestuur om myself nog meer opsies te gee om wyer uitdagings te kan aanpak. Ek geniet die projekbestuur baie en sien myself daarin spesialiseer; ek het reeds heelwat werkservaring opgedoen in projek- en veldtogbestuur. As kind het ek gedroom daarvan om ‘n geoktrooieerde rekenmeester te word en baie geld te maak, maar ek het gou besef dit is glad nie vir my nie! Ek is regtig baie gelukkig in my beroep.

Wat omtrent jou werk in bemarking gee jou die meeste bevrediging?
Dit is ‘n baie opwindende beroep, veral by AfriForum, waar ek werk. Die projekte en veldtogte verskil, sodat jy baie blootstelling kry aan verskillende rigtings, velde, projekte en mense. Dit is ook een van die beroepe wat jou uitdaag om kreatief en innoverend te dink.

Wat reken jy is die belangrikste les wat jy geleer het in jou beroep tot dusver?
Die belangriste les is beslis om altyd nuwe geleenthede te soek en jouself so te plaas dat jy ‘n onmisbare rol in en by jou werk speel. Goeie verhoudings in jou organisasie is regtig van kardinale belang, so ook is ope kommunikasie met almal.

As jy ‘n nuwe beursstudent moes mentor, wat sou die advies wees wat jy hulle gee oor studentelewe?
Deur ’n gesonde studentelewe te hê, in ’n koshuis te woon, en deel te neem aan studente-aksies, komitees en leiersposisies ontmoet jy nuwe mense en leer jy verskiklik baie van jouself en ander, wat weer vir jou loopbaangeleenthede bewerkstellig. Dit gaan nie oor wie jy is nie, maar oor wie jy ken. Jou studentelewe en die mense wat jy daardeur ontmoet, bou ’n kultuur rondom jou, en bou jou menswees. In deesdae se uitdagende politieke studenteomgewings leer dit jou ook om stelling in te neem vir jouself, jou kultuur en jou taal.

As jy terugkyk na die ervaring, wat sou jy sê het die Atterbury Trust-beurs vir jou beteken?
Die belangrikste element van die beurs was dat dit my toegelaat het om ’n graad te behaal en te kon deelneem aan ’n gesonde studentelewe. Maar die Gro-sessies met ons beursmentor Leonie de Preez het veral uitgestaan omdat dit vir my perspektief gegee het oor my doelwitte en my gemotiveer het om my graad te kry. Jy leer ook dat daar baie ander studente is wat ook nie finansieël in ’n posisie is om hul eie studies te betaal nie,  en dat die meerderheid regtig hierdie geleentheid gebruik om ’n suksesvolle toekoms te skep.

Hoekom reken jy is dit belangrik dat mense die fonds ondersteun?
Dit is so belangrik omdat skenkers vir ander mense – veral Afrikaanse studente wat nie al die opsies van verskeie beurse en lenings kry nie – weer die geleentheid gee om te kan studeer en uit hul omstandighede uit te styg. Ek is so dankbaar vir Atterbury Trust wat vir my hierdie kans gegee het.

Die Atterbury Trust-beursfonds bied verskillende pakkette om voornemende skenkers toe te laat om te bepaal hoe hulle skenking aangewend word. Ons reik 18A-belastingsertifikate uit vir elke skenking. Om meer uit te vind oor hoe jy of jou instansie kan help om ‘n talentvolle, hardwerkende jongmense se potensiaal te verwesenlik, kliek hier.