Mediese student Tara-Lea van Zyl sluit vanjaar by Atterbury Trust se beursprogram aan, en pak ook haar derde jaar by Kovsies met groot opwinding aan. Hierdie dinamiese jong talent is so veelsydig, sy skitter op die sportveld in verskeie dissiplines, sowel as in die veeleisende akademiese omgewing van die mediese skool – en dan is sy boonop nog kunssinnig ook! Ons het gaan hoor hoe Tara-Lea dit regkry om soveel balle suksesvol in die lug te hou…

Jy het agt onderskeidings in matriek behaal, en is sterk in beide wetenskappe en wiskunde en kultuurvakke. Wou jy nog altyd ’n dokter word, of was professionele sport ooit iets wat jou aangetrek het?
Ek is nog altyd lief vir sport en akademie. Ek het vantevore ’n professionele sportloopbaan oorweeg, maar om medies te studeer, kombineer my liefde vir sport – die fisiologie, meganika, sielkunde en vele meer – met my passie vir akademie. Ek het al in Graad 9 besluit dat medies my droom is. Maar deur meer van die menslike liggaam te leer, verbeter ek ook my kennis wat in sport van toepassing is.

Hoe het jy besluit op Kovsies?
Die Universiteit van die Vrystaat is nog altyd eerste op my lysie van waar ek wou studeer. Dit is n baie goeie sport- en akademiese universiteit, presies wat ek benodig. UVS se mediese fakulteit word ook as een van die bestes in die land beskou. Daar is addisionele voordele vir my deur medies by die UVS te studeer, soos die toegang tot ’n uitstekende en gevorderde Kliniese Simulasie Eenheid. Ek bly ook naby, wat verblyfkostes spaar. Beide my ouers is ook oud-Kovsies.

Wat beteken die Atterbury Trust beursgeleentheid vir jou?
In my eerste jaar het die universiteit 50% korting toegeken danksy my harde werk gedurende my matriekjaar (ek was ook ‘n semi-finalis in die Volksblad Matrikulant van die Jaar-kompetisie). Maar verlede jaar moes my ouers en grootouers self voorsien en dit het baie finansiële druk op my gesin geplaas, wat my pa se gesondheid benadeel. My ouers kan nie namens my ‘n studielening aangaan nie weens swak ekonomiese omstandighede wat ons kleinsake-onderneming negatief affekteer, so ek moet myself deur universiteit kry.  Ek het finansiële hulp gesoek, maar ‘n paar finansiële instansies het aansoeke vir bystand afgekeur omdat ek nie ‘n kredietrekord of vaste inkomste het nie. Die Atterbury Trust het tot my redding gekom en ek is baie dankbaar.

Watter sportsoorte beoefen jy alles – skets vir ons ’n prentjie…
Ek is betrokke by verskeie sportsoorte, insluitend verskeie dissiplines van perdry, hardloop (landloop, atletiek, bergwedlope) en swem, en kompeteer graag in tweekamp en driekamp wat meer as een sport behels. Ek het ook op skool verskeie vorms van dans beoefen en danseksamens voltooi. Ek geniet enige sport wat my uithouvermoë en veelsydigheid toets. Maar dit gaan nie altyd net oor die kompetisie en uitdagings nie. Ek is lief vir alle aktiwiteite wat in die natuur plaasvind, van sneeuski en visvang tot teikenskiet, roei en bergfietsry!

En som vir ons ‘n paar van jou sportprestasies op?
Ek het die Midmar-myl al vyf keer geswem; was op skool eerste op die ranglys landwyd vir skole perdry-uithourit-kompetisies en het selfs een jaar die Victrix Ludorum van alle skole-perdry dissiplines verower. Ek het die Suid-Vrystaat in atletiek en tweekamp verteenwoordig en vir die Vrystaat-span aan landloop en tweekamp deelgeneem – ek was ook ’n paar keer spankaptein. Ek is ook al vantevore vir die Presidentspan gekies in tweekamp om Suid-Afrika te verteenwoordig en het n paar keer Suid-Afrika in internasionale perdrykompetisies verteenwoordig.  Ek het in my eerste jaar aan bergwedlope (trail running) begin deelneem en het verlede jaar stadig daarin verbeter. Ek het in 2018 bo-aan die Trailrun Series vroueranglys geëindig en ook aan ’n paar ander wedlope landwyd deelgeneem en met goeie resultate teruggekeer huis toe. Ek geniet ook padwedlope en probeer soveel moontlik op die podium eindig.

Is jou hele gesin sportief, of waar kom dié veelsydige sportprestasies vandaan?
My ma was ’n baanatleet op skool en het in 800m en 1 500m presteer, asook op die hokkieveld. Sy ry ook graag perd en het al verskeie veeleisende staproetes voltooi. My pa is ook veelsydig en het in krieket, rugby, tennis, muurbal en gholf presteer, nes sy ma in balsport presteer het. Hoewel ek nie self in balsport deelneem nie, glo ek my kompeterende persoonlikheid kom van my pa en my ouma af. My ouers het my nooit gedryf om te presteer nie, maar ondersteun nog altyd my sport in alle opsigte, waarvoor ek baie dankbaar is.

Ons verneem Jy is ook musikaal. Watter instrument is jou gunsteling?
Ek speel viool en het Royal Schools Graad 6 voltooi, asook Graad 6 musiekteorie. Deesdae speel ek viool en klavier vir my eie genot.

Dan was daar ook verskeie kunspryse en leierskapstoekennings… Tussen al die pryse en toekennings wat jy al verwerf het, watter van al jou prestasies beteken vir jou die meeste?
Elke prestasie is ’n spesiale herinnering, aangesien elkeen baie tyd, energie en opoffering geverg het. In perdry-uithouritte moet ek die Sandymount Express uitlig. Dit is ‘n 1 000km rit wat ek in 2015 en 2016 in die vinningste tye voltooi het, 61 ure en 57 ure onderskeidelik. Ek en my span van agt perde hou ook tans die baanrekord en ek is ook die eerste vrou wat die rit voltooi het. Ek dink ook graag terug aan die Nasionale 80km Kampioenskap waar ek en my perd La’El Nerishke ‘n nuwe baanrekord opgestel het, aangesien dié prestasie my Frankryk toe gestuur het om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Medies is geweldig veeleisend; en sal in die komende jare seker ook meer van jou tyd vereis. Wat is jou geheim om soveel verskillende belangstellings te balanseer?
My studies kom altyd eerste, daarom het ek my sport die afgelope twee jaar afgeskaal, ek glo tog my sport vul my studies aan. Deur aktief te wees is ek gesond en het baie energie. Dit verg ook versigtige tydsbestuur, daarom beplan ek daagliks wat ek nodig het om deur die dag te kom – my geheim is om nie teveel oor die buigsaamheid van my roetine te bekommer nie, maar meer oor beplanning, voorbereiding, en dit te doen wat ek fisies, emosioneel en verstandelik nodig het.

Waarna sien jy die meeste uit vir 2019?
Ek het ’n paar doelwitte om die jaar in my akademie te bereik en sien baie uit om my plan te volg om dié te bereik. Ek beplan ook om aan ’n paar groot bergwedlope deelteneem om fiks en gesond te bly tussen die studies deur.

Wat is jou toekomsdroom vir jouself? Waar sien jy jouself as jy 30 is?
Ek wil ’n hardwerkende, suksesvolle dokter wees as ek 30 is. Ek sal graag in die openbare gesondheidsektor wil werk nadat ek my voorgraadse studies in 2021 voltooi. Dit sal vir my ‘n voorreg wees om die Suid-Afrikaanse gemeenskap te vergoed vir al die geleenthede wat aan my gebied is. Dit sal ook toelaat dat my kennis oor uiteenlopende gemeenskappe, skaars leergeleenthede en effektiewe gesondheidsorg verbreed. Ek besef dat ‘n groot werkslading vir my wag, maar glo dat verbeterde praktiese ondervinding baie waardevol vir my beroep voorentoe sal wees. Nà ‘n paar jaar se werk, sal ek graag nagraadse studies wil voltooi, dalk deur te spesialiseer of selfs ’n tweede graad in biomediese ingenieurswese oorweeg. Ek sal ook aktief wil bly en aan internasionale bergwedlope en perdry wil deelneem.

As jy vir potensiële skenkers aan die Atterbury beursfonds ’n boodskap kon gee om hulle aan te moedig om te skenk, wat sou jy sê?
Atterbury Trust spandeer baie tyd daaraan om die beursfonds-studente, spesifiek diegene met hardwerkende, gedrewe en vasbeslote persoonlikhede met die hand uit te soek. Deur studente te borg maak skenkers nie net ’n verskil in een of twee studente se lewens nie, maar ook in die gemeenskap. Die borgskap help studente om hulself te kwalifiseer om Suid-Afrika te bevorder. Ek glo ook daar is baie van die beursprogram se studente wat uit dankbaarheid en uiteindelike sukses, ook weer eendag ’n student of twee sal borg. Daardeur dra elke skenker by tot ’n sneeubal-effek, en sal Atterbury Trust se puik inisiatief verder in hul sukses groei om die Afrikaanse gemeenskap te bevorder.

Self kon ons dit nie beter gestel het nie! Alle skenkings is welkom, en bied boonop belastingvoordele vir die weldoeners. Om meer uit te vind oor hoe jy of jou organisasie ’n student kan borg of ’n skenking kan maak, kliek hier.