Afrikaners, nie die beesras of net ʼn taalgroep nie – maar dié mense met ’n gedeelde geskiedenis van oorwinning en seer, ’n gedeelde taal wat sagkens aanmekaar geweef is en dié wat deel in ’n onbeskaamde lappieskomberskultuur; die Afrikaners wat hulle gesigte weggedraai het van Europa en vorentoe staar na Afrika – wat is vir daardie mense in vandag se Suid-Afrika oor? Charl Oberholzer vra hierdie knelvraag op Maroela Media se webwerf…

Teen die agtergrond van grondgrype, kultuurlose tersiêre instellings en diskriminerende rasseklassifikasie, is dit ’n vraag wat soveel Afrikaners hulself moes afvra in die emigrasie-wagkamer van ’n ambassade. Maar uit die kragtigste aanhalings van die afgelope eeu is daar talle wyshede weggesteek:

1. “Gebore onder de Engelsche vlag, wens ik niet daaronder sterven.” – Paul Kruger in sy laaste boodskap aan sy volk, Clarens, Switserland, 19 Junie 1904
Paul Kruger kon nie in sy leeftyd ’n nuwe werklikheid beleef nie, maar so kan ons ook herinner word dat dit nie net ons leeftyd is wat saak maak nie, maar dat elkeen bloot verantwoordelikheid moet neem vir sy eie tyd.

2. “Hier, toe ons in benouendheid verkeer het, het elkeen ’n klip opgeneem en dit op hierdie plek gegooi as ʼn gedenkteken tussen ons en die Here. Daarmee is die Gelofte van Bloedrivier hier hernuwe … Ons het nie hier gekom om ander sake te bespreek nie, maar om die dade van God te verkondig, om ons geloftes te betaal, om van God se groot goedertierenheid oor ons, te praat.” – Pres. Paul Kruger, Paardekraal, 16 Desember 1891
Dit is ons taak om monumente op te rig, nie tot ons eer nie maar tot die eer van God. Dit is soms nodig om nie oor ander sake te redeneer nie maar om uit dankbaarheid vir jou genade te betaal – deur te doen wat jou hande vind om te doen.

 3. “Volk van Suid-Afrika, u wat met trots op u bors slaan, en uself ʼn Afrikaner noem, waar gaan jy heen? Sal Suid-Afrika nou en altyd, sal u vir uself en vir u kinders die uitdaging aanneem en moedig en vasberade u taak aanvaar; Waarheen Suid Afrika?” – Dr DF Malan by die Voortrekkermonument se opening op 16 Desember 1949
Te midde van die uitdagings het Afrikaners wat geroepe daartoe voel, ’n taak om te aanvaar, selfs al is die eindbestemming onbekend.

4. “Die redelike demokrasie is ʼn hoë en edel maar ʼn gevaarlike leefwyse; dit is geen rusbed waarop ʼn volk hom kan uitstrek nie.” – NP van Wyk Louw, 1958
Demokrasie en so ook enige ander politieke stelsel is nie volmaak nie. Menslike instelling is in hulle ontwerp gebroke – en daarom is dit nutteloos om daaraan vas te klou vir bevryding.

5. “Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.” – CJ Langenhoven
’n Eenvoudige opdrag om uit te leef, hou jouself besig met die dinge wat werklik ’n verskil teweegbring.

6. “Ek is ʼn Afrikaner! So staan Hollanders, Duitsers en Franse saam met die hiergeborenes onder daardie naam.” – DJ Opperman 1956
Onbeskaamde opneem van identiteit, dit is elke generasie se voorreg om dit wat hy is op te neem en homself ook so uit te druk.

7. Ons volk is in die wêreld voëlvry verklaar …” – DJ Opperman 1968
Mag Afrikaners te midde van diskriminasie hulself vry verklaar sodat ons ’n mentaliteit sal hê van oorvloed eerder as van skaarsheid.

8. “Neem uit die verlede dit wat goed is en bou daarop die toekoms.” – Paul Kruger
Jopie Fourie het ook gesê bly getrou aan jou kultuur, jou taal en jou geloof. Reëls van die samelewing verander, idees ontwikkel voortdurend maar op ’n sterk fondasie kan alles herbou word. Afrikaners was nog altyd onder druk en die lesse uit die verlede is eenvoudig. Sonder om te weet wat die uitkoms is, moet ons met liefde, waagmoed, onbeskaamde trots en met ’n oorvloed-gesindheid ons take verrig, nie met ’n hoop op ’n regeringsverandering nie maar met ’n vasberade afhanklikheid van God.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn