Atterbury Trust is baie trots op die amper 500 studente wat oor die afgelope 21 jaar met die hulp van ons beursfonds gekwalifiseer het met grade en diplomas; en dit is altyd wonderlik om te hoor as een van ons alumni presteer in hulle gekose veld. Ronnie Heuer was van 2009 tot 2012 ’n beursstudent en het sy BSc Honneurs aangewend om te skitter in die veld van oogsorg.

Vertel ons meer oor jou verhouding met Atterbury, en hoe jy destyds ‘n beursstudent geword het.
Toe ek nog in matriek was het ek eendag gesels met die ma van ’n goeie skoolvriendin, wat met haar gesondheid gesukkel het, en ek het genoem dat ek graag medies sou wou gaan swot. Sy het my vertel van Atterbury Trust se rentevrye beurslenings en het vir my die kontakdetails aangestuur.  Ek was baie senuweeagtig, maar het ’n e-pos aan Zahn gestuur en ’n onderhoud gekry. Dit het goed gegaan, maar ek was baie ongemaklik omdat ek gedink het ek is nie waardig vir die genade nie! Ek onthou nog die klere wat ek gedra het: alles was te groot of te klein, maar dit was my Sondag-kerkklere en daarop was ek trots! Op dieselfde dag toe ek my matriekuitslae gekry het en erg trots emosioneel was oor my vyf onderskeidings, het Zahn my gebel met die goeie nuus dat ek vir die beurs gekwalifiseer het. Dit was so ’n oorweldigende oomblik! Ek het toe ingeskryf vir BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie) by universteite regoor Suid-Afrika, met die hoop dat ek later vir medies sal kan inkom. Ek het in 2009 by Stellenbosch Universiteit begin en nadat ek my BSc drie jaar later klaargemaak het, nog ’n jaar aangehou vir my Honneursgraad in Mikrobiologie.

En op watter draaie het die lewe jou sedertdien geneem?
Nadat ek my Honneurs gekry het, het ek as verteenwoordiger begin werk by ’n maatskappy wat generiese medikasie verkoop het. My werk het behels dat ek medikasie aan dokters en spesialiste bekendgestel het, byvoorbeeld middele vir die behandeling vir kanker en verslawing. Ek het soortgelyke werk gedoen by die tweede maatskappy waarby ek aangesluit het, en tans is ek die senior sakeontwikkelingsbestuurder by ’n maatskappy genaamd Alcon, waar ek fokus op kontaklense en verwante middels, en skakel met oogkundiges.  Toe ek hierdie pos gekry het, het my Ouma vir my gesê “Ou Ronnie, ons is trotse golden oldies vandag, en jy gaan mense die lewe laat sien deur ander lense.”

En op persoonlike gebied? Vertel ons van jou huislewe; wat laat Ronnie by die huis tiek?
Ek en my lewensmaat Ryno woon in Kaapstad en ons kuier graag saam om ’n braai; ons gaan kyk gereeld “stock cars”; en ons gaan binnekort ook begin deelneem aan “park runs” om gesonder te leef. Ons reis graag binne ons pragtige land, geniet wynproe-besoeke, kook en bak saam en kyk te veel Netflix en Showmax!

Ons verneem jy het onlangs ’n paar pryse ingepalm – baie geluk! Vertel ons meer?
Baie dankie. Ek gaan nie jok en sê dit was maklike werk nie; dit was baie uitdagend, maar bittersoet, en dit het my weer laat besef dat ek nogal kompeterend is! Ons maatskappy gee toekennings volgens die verkope van produkte in die mark; en ek het my afdeling se Sake-Ontwikkelingstoekenning gewen, deur in my area 118% van die teiken te behaal. Ek het so 10 uit die 12 maande die hoogste verkope getoon.

Ek is ook aangewys as die top Mediese Verkoopsverteenwoordiger omdat ek die hoogste groei getoon het van al die verteenwoordigers. Ek glo dis alles danksy die ondersteuning van my familie en die Vader… en is so dankbaar daarvoor. Sukses in verkope hang van soveel elemente af – dis ’n daaglikse uitdaging om elke kliënt gelukkig te hou en altyd goeie diens te lewer, selfs al is jy in 80% van die proses afhanklik van stelsels waaroor jy geen beheer het nie. Ek geniet die leerproses baie!

Wat het die beurs destyds vir jou beteken? Hoe sou jy ’n voornemende beursskenker motiveer om daardie donasie te maak?
Sonder die beurs sou ek eenvoudig nie verder kon studeer het nie. Dit het gemaak dat ek my gesonde verstand kan gebruik en kan leer en myself kan druk om eendag self te kan teruggee en ’n verskil te kan maak vir ander. Sonder die geleenthede wat danksy die beurs na my kant toe gekom het, sou ek nie saam met my susters na ons gesinne kon omsien nie. Atterbury Trust se keuringsproses is so belangrik, want om sukses met jou studies te behaal moet jy die regte ingesteldheid en motivering hê om jouself te verbeter, sodat jy iets vir jou medemens kan beteken.

Die beurslening het op die regte tyd in my lewe gebeur en beslis my pad verander. Ek sal graag eendag self ook individuele studente aan die hand wil vat en die pad saam met hulle stap om hulle te motiveer en hoop te gee. Die feit dat die lening rentevry is, is op sigself so wonderlik, as jy kyk na die astronomiese skuld waarmee ander beurse studente soms opsaal, wat hulle vir jare lank terughou.

Wat beteken dit vir jou vandag om deel te wees van die Atterbury Trust-familie as ’n gewaardeerde alumni?
Dis soos jy sê – dis familie. Dit is heerlik om te kan sê ek is deel van die groep, en ek weet ek word waardeer en na omgesien. Wat Atterbury vir studente doen is net eenvoudig wonderlik, en ek dank my sterre dat ek daardie dag lank gelede met my vriendin se ma gesels en Atterbury se nommer gekry het…

En hoe lyk die toekoms – waar sien jy jouself oor vyf of 10 jaar? Watter droom sal jy graag wil sien waar word?
Ek is besig om deur interne opleiding te gaan by Alcon, om ‘n sleutel-rekeningbestuurder te word, wat sal beteken ek sal omsien na die sakegroei van die maatskappy, met ‘n fokus op enkele rekeninge. Ek hoop om oor 10 jaar ook betrokke te wees by die uitvoer van eg Suid-Afrikaanse produkte, en dalk selfs die invoer en verkoop van iets wat waarde sal toevoeg tot ons samelewing. Ek glo daar is soveel werk in ons land waarby ons nie uitkom nie en my een wens is dat Suid-Afrika sal kan voortbeweeg en vir die wêreld kan wys ons is ’n sterk nasie. Ek glo ek is op die oomblik op die plek waar ek moet wees om mense te help om die lewe deur ander lense te laat sien, en dit sal by myself begin.

Ons maak dit maklik om by te dra tot Atterbury Trust se beursfonds, en verdienstelike jongmense soos Ronnie die kans te gee om hul lewe te verbeter. Jy kan besluit waarvoor jou skenking aangewend word, terwyl jy ‘n 18A-belasting-sertifikaat verdien. Kliek hier om meer uit te vind oor die opsies.