Die lewe het nie vir Felicia Richardson maklik begin nie, en sy het dus nie as klein meisietjie gewaag om groot drome te koester nie. Gelukkig was daar ’n engel wat oor haar gewaak het, en so het sy op Atterbury Trust se pad gekom. Vandag is hierdie 25-jarige suksesvol in haar werk, het pas haar diploma in bemarking deur Akademia verwerf, sy het ’n wonderlike lewensmaat ontmoet en word een van die dae ook ma. Sy was die eerste kind in haar familie wat verder kon studeer, en dit is moontlik gemaak danksy die Trust se beursfonds, en die wonderlike skenkers wat die fonds lewe gee. Lees haar storie en word geïnspireer…

 Jou grootwordjare was nie maklik nie. Kan jy iets daaroor met ons deel?
Ongelukkig het ek nie in ’n baie stabiele huis groot geword nie… drank was die baas daar en ons het net geweld geken eerder as liefde. Dit het ’n groot impak gehad op my skooljare. Ons was in Polokwane tot ek 14 was en toe, einde Graad 9, het my ma besluit om my stiefpa te skei en ons het na Pretoria verhuis. Ek is in Graad 10 geplaas in Hoërskool Eldoraigne, op die voorwaarde dat ek my eerste twee kwartale goed moet deurkom, anders sou ek  teruggeplaas word in Graad 9. My omstandighede was steeds nie van die beste nie, maar daar was darem nie meer geweld nie. Ek het die nodige berading en sielkundige hulp gekry wat die skool aanbeveel het, wat ’n groot rol gespeel het om my selfvertroue terug te kry. Ek het darem in Graad 10, 11 en 12 baie goed gevaar.

In Graad 11 en 12 jare moes ek ook werk as kelnerin, en dit was ’n groot uitdaging om beide te werk en goed te doen op skool. Deur die Here se genade het ek my matriek geslaag met baie goeie punte. Maar my heel grootste uitdaging was om nie in te gee tot my omstandighede nie; ek moes myself gereeld herinner dat ek ook waardig is; dat ek waardig is om vriende te hê wat nie drink, rook en al die verkeerde dinge doen nie (want dit is basies al wat ek geken het deur my grootwordjare). Ek het nie baie selfvertroue gehad nie, wou net voel ek pas iewers in… maar het nooit geweet waar ek regtig inpas nie. Ek het baie emosionele uitdagings gehad. Maar deur die Here se genade en leiding het ek so baie geleer en gegroei.

En jy het boonop ook gesondheidsprobleme gehad om te oorkom?
Ek het sedert 2013 af baie gesukkel met blaas- en nierprobleme. Ek was gereeld in die hospitaal met hoë koors, het myself in die hoë-sorg afdeling bevind waar my hele liggaam so siek was en die dokters het so gesukkel om antwoorde te kry. Die Atterbury Trustspan het my nog in Kloof hospitaal besoek en moed ingepraat.

Later het hul agtergekom dat ek ’n sekere oorerflike sel het wat veroorsaak dat ek gereeld infeksie kry, en moet daarom nou chroniese medikasie drink om dit onder beheer te hou. My regter-nier is beskadig en effens vergroot weens al die infeksie. Dit het natuurlik ook my studies geweldig geaffekteer omdat ek so gereeld in die hospitaal was opsoek na antwoorde.

Het jy ‘n kinderdroom gehad oor wat jy eendag wou word? Wat het jou op bemarking laat besluit?
Ek het nooit regtig as kind “groot gedroom” oor wat ek eendag wil word nie, alhoewel ek myself soms in dagdrome gesien het as ’n sangeres…
Om eerlik te wees, as ek oor kon kies sou ek nie bemarking studeer het nie. Akademia is eers geregistreer in 2012 en het op daardie stadium net vier rigtings aangebied waarvan bemarking een was. Ek het dus in 2013 daarop besluit omdat dit die rigting was wat die meeste vir my uitgestaan het tussen wat beskikbaar was. Ek het net geweet ek wou studeer en meer bereik as net matriek; dit was ’n belofte wat ek aan myself gemaak het.

Daar was nie geld nie, en studies is duur; wat was jou benadering om befondsing te kry? Hoe het jy by Atterbury uitgekom?
Ek het deur ’n kennis gehoor van Akademia en ek het hier kom gesels en gehoor wat al die opsies was. Toe Oom Paul hoor ek het nie befondsing nie het hy my dadelik na Atterbury Trust gebring. Dit was al amper Desembermaand to ek vir tannie Zahn ontmoet het, maar Atterbury Trust het ook nie tyd gemors het nie en onmiddellik ’n onderhoud met my gevoer en die studielening toegestaan. Dit het alles in een dag gebeur, ek kon die Here se werk sien in die hele proses! Atterbury Trust se mense het selfs gereël dat my blyplekkie ’n paar stukkies meubels kry wat ek baie nodig gehad het op daardie stadium.

Ek het ook net die dag daarna by Solidariteit begin werk! Oom Paul het my na Solidariteit se personeelafdeling geneem op pad terug van Atterbury af om te hoor of hulle nie ’n tydelike pos oop het nie. Ek onthou nog hoe oorweldig ek gevoel het… Hul was toevallig besig met onderhoude vir ’n administratiewe pos en het my aangemoedig  om sommer die onderhoud te doen. Ek het op daardie stadium nie eers ’n CV gehad nie. Maar die volgende dag het ek die oproep gekry om my die voltydse werk aan te bied!

En jy is steeds daar! Seker nie meer in dieselfde pos nie? Wat geniet jy die meeste omtrent jou werk?
Ja… ses jaar later! Nadat ek my kwalifikasie verwerf het, is ek bevorder na projek-koördineerder en persoonlike assistent in die operasionele-dienste-afdeling. Ek geniet die feit dat my bestuurder mens nooit toelaat om gemaklik te raak nie. Hy daag jou altyd uit om meer te leer en “buite die boks” te dink. Ek leer op die oomblik baie van stelsels en databasisse danksy ’n huidige projek en ek is verras deur hoe baie ek dit geniet.

Het jy ’n langtermyn-plan – waar droom jy sal jou beroep jou neem?
Ek deel in Solidariteit se visie, missie en waardes, en sal myself graag verder hier wil opwerk en my waarde bewys. Ek glo dat die Here my sal plaas waar Hy glo ek ’n verskil kan maak, en of dit nou is as ’n bestuurder of as ’n persoonlike assistent, sal ek altyd my beste doen waar ek geplaas is en waarmee ek vertrou word.

Baie geluk dan ook met jou swangerskap! Wanneer kom jou babatjie en hoe voel jy daaroor om moederskap en werk te balanseer?
Baie dankie! Ons is vreeslik opgewonde – baba se verwagte datum is 1 Oktober. Solidariteit het sterk familie-waardes en ek is dus nie bekommerd dat die koms van my babatjie ’n groot aanpassing sal wees tussen my professionele  en privaatlewe nie. Solidariteit stel familie-welsyn eerste en is baie streng op prioritisering… hul laat byvoorbeeld nie toe dat personeel oortyd werk wat familietyd sal beïnvloed nie.

Wat het die Atterbury beurs vir jou beteken, en hoe ervaar jy dit vandag om steeds deel van die Atterbury-familie te wees?
Atterbury het vir my die grootste en belangrikste geskenk gegee wat mens kan kry in die lewe. En sal ewig dankbaar wees vir die geleentheid. Hulle beurs het my gehelp om die belofte wat ek aan myself gemaak het, na te kom; wat weer my selfvertroue en selfwaarde ’n geweldige hupstoot gegee het. Dit het nie net vir my as eerste-generasie universiteitstudent baie beteken nie, maar ook vir my niggies, nefies en sussies wat ook nog moet studeer. Dit het vir hulle ook hoop geskep dat dit wel moontlik is om “sukses” te behaal ten spyte van jou omstandighede of dit wat was.

Wat ek ervaar het, is dat Atterbury nie net wil deel in jou sukses nie, maar wil deel wees van die proses van jou lewenspad en van jou menswees. Die proses eindig nie net na jou studies nie, en so ook eindig Atterbury se omgee en daar-wees ook nie as jy kwalifiseer nie. Dit is so ’n groot voorreg om deel te wees van die Atterburyfamilie, wat steeds moeite doen in so baie opsigte.

Wat sou jy vir mense/instansies sê om hulle te motiveer om skenkings vir die Atterbury Trust beursfonds te doen? Wat maak hierdie fonds so belangrik?
Deur skenkings te maak aan die Atterbury Trust beursfonds help u nie net om iemand se droom te bewaarheid nie, maar dit dra ook by om armoede te beëindig. In die eenvoudigste terme: hoër onderwys = groter finansiële stabiliteit.

Wanneer iemand die geleentheid kry om te studeer help dit ’n student om ook te besef dat almal ’n rol speel in ons samelewing; jy word blootgestel aan bronne wat jou help om ’n verskil te maak met die vaardighede en kennis wat jy opbou en weer kan terugploeg in die gemeenskap.

Om spesifiek aan Atterbury te skenk, kan u verseker wees dat die student ook die regte ondersteuning gaan kry deur Atterbury se “Gro” mentorskapprogram, wat werklik omgee vir elke student en hul vordering.

Elke skenking dra by tot Atterbury Trust se vermoë om ’n jongmens se studies te befonds, en sodoende dikwels ’n hele gesin, of soos in Felicia se geval, ’n wyer familie, se toekomsuitkyk te verbeter.  Alle skenkings is geregtig op ‘n artikel A18-belastingsertifikaat, so die voordeel strek na beide kante. Kliek hier om meer uit te vind oor die verskillende beurspakkette.