Atterbury staan gereeld verstom oor die inspirerende werk wat ons mediavennoot GROOTfm 90.5 in die gemeenskap doen. Een van hierdie gereelde projekte, #JouMenseMyMense, bring ’n bietjie liefde en empatie waar dit nodig is, deur goedgunstige borge te verbind met mense wat swaarkry. Lindie Strydom, Projekorganiseerder van GROOTfm 90.5, vertel meer van die inisiatief

Hoe het #JouMenseMyMense ontstaan, en hoeveel van hierdie besoeke het julle in die afgelope jaar gedoen?
Die omvang van die nood laat mens soms oorweldig, verlam en selfs effens lomp voel.  Ek wil nie eers my vyftig randjie aanbied wanneer die hulpkreet ’n reuse sewe miljoen rand is om daardie kankerpasiëntjie in Amerika te kry vir behandeling nie, want waar sal die ander 139 999 vyftig rande vandaan kom?  Ons het die #JouMenseMyMense projek begin, want net omdat ons nie alles vir almal kan doen en wees nie, beteken nie ons moet ons gewone menslike omgee verloor nie. Ons wil fokus op dit wat ons wel vir mekaar kan doen, soos om daardie kankerpasiënt se ouers te gaan besoek by die hospitaal met ’n bossie blomme of ’n gebedskussing en ’n woord van bemoediging.

Dit gaan oor klein gebare van liefde en omgee…  Ons sal met liefde jou “instaan-familie” wees as tyd, geld of afstand maak dat jy nie by Ouma se 90ste of daardie geliefde wat aansterk in die hospitaal, kan uitkom nie!  Ons sal die kolwyntjie vir ouma se verjaarsdag vat of ’n bossie blomme vir jou familielid in die hospitaal.  Ons sal by die slagoffer van die plaasaanval gaan sit om sy roerende getuienis te hoor of die vrou met borskanker saam met haar vriendinne verras by ’n koffiewinkel.  Soms wil ons net hê mense moet net die karwagte weer raaksien en waardeer en dan deel ons ’n sakkie kruideniersware en koue koeldrank uit of ons koop vir die assistant-Juffrou wat sopas uit die kinderhuis uit kom, iets vir haar nuwe blyplekkie.  Dis mos die dáár wees wat tel… die gebaar van liefde en omgee, die persoonlike boodskappie en ‘n bietjie bederf.

Hoekom het julle die spesifieke naam gekies?
Ons het die naam baie spesifiek gekies om die Bybelse beginsel van naasteliefde tuis te bring.  Ons neem eienaarskap van God se mense as ons mense en met die hart van ‘n Barmhartige Jesus wil ons nie net bo-oor die mense op ons pad loop nie, maar mense raak sien en stop. Die ekstra myle van die Samaritaan kom gereeld van ons luisteraars, gemeenskap en vriende wat dit wat ons doen sien as ’n afskop en uitnodiging om deel te word.  In 2018 was ons begroting R1 000 per week, maar soos van beurse, boeke en brille tot skootrekenaars, selfone en hulp met skoolfonds bygekom het, het ons ‘n totaal van R200 000 vir die jaar bereik – vyf keer meer as die aanvanklike R40 000 projekbegroting!

Ons glo aan die beginsel van “vermenigvuldiging” – ons wil projekte op so ’n manier aanpak dat dit die mense wat na ons kyk en luister inspireer en bemagtig om dit wat hulle sien en leer in hulle eie huis, straat of gemeenskap te gaan doen. Dit beteken ons “vermenigvuldig die verskilmakers” en dan gaan ons mos baie meer kan bereik as wat mense toeskouers word wat op die pawiljoen van die lewe wag vir die groot ouens met die groot geld om hulle groot verskil te maak. Mense hoef ook nie net tot ons projekte by te dra nie!  Terugvoer soos “ek gaan ook dit vir iemand doen” voel vir my ons het geslaag!

Week na week, soos ’n goue draajie van omgee regdeur die jaar, het ons in 2018 42 verskillende geleenthede gehad om mense se lewens aan te raak en te wys dat mense nog vir mekaar omgee in die klein dingetjies wat soms so onbelangrik en onbenullig lyk, maar werklik naasteliefde kommunikeer.

Hoe identifiseer julle die mense by wie julle besoek aflê met die geskenkpakkies?
Ons luisteraars stuur vir ons ’n skriftelike motivering met die besonderhede van die persoon wie ons kan verras of bederf.

Wie is jul mees aktiewe borge wat hierby betrokke is, en wat is julle reëling met hulle?
Spar is ons vaste vennoot met die projek.  Ons het begin met R1 000 per week, want baie keer is dit dalk net ’n bossie blomme of ’n mooi boek, sjokolades of ’n bord eetgoed vir ons besoek aan die kleuterskoolpersoneel wat tans opgelei word, ander kere ’n hospitaaltassie vir iemand wat na die staatshospitaal toe moet gaan sonder enigiets of ’n trollie vol kruideniersware vir die voedingskema waar ons gaan inloer. Ek dink nie daar is iemand wat die winskopies en afslag van Spar beter ken as ek nie, want ek rek daai rande elke Dinsdag wanneer ek koop! As die sakke kruideniersware bietjie lomp gaan wees soos die keer wat ons ’n vrou saam met haar vriendinne by ’n koffiewinkel gaan verras het, reël ons ’n Spar geskenkkaart.

Dis lekker om te sien hoe mense inkoop en deel word met die ekstras!  Hierdie jaar het King Price en StratTraining beide ingestem om vir David Modiba wat ongeveer 80 atlete in Olievenhoutbosch afrig, ’n maandelikse salaris te borg.

Een van ons luisteraars wat self in Pretoria-Wes grootgeword het, maar nou oorsee werk, het al twee keer ’n R5 000 skenking gemaak aan projekte wat ons in die weste van Pretoria gaan besoek het.

Vision Properties skenk elke maand R5 000 vir iemand se huur so ek wag om te kyk by watter storie of versoek dit dit beste pas en MBT Petroleum het onlangs weer met ’n tenk petrol gehelp!

En dan met elke storie iemand wat soos hy of sy kan, bydra…  met Flippie se oogoperasie het iemand wat self op R50 per dag leef R500 geskenk! Ek vertel graag ‘n paar van die stories: 

Hulp vir ‘n aspirant-“juffrou”
#JouMenseMyMense en Spar het saamgespan om ’n aspirant-“juffrou” van ’n kinderhuis ’n #Hoopstoot handjie te gee tot op die eerste trappie van haar toekoms. Nicole het pas 18 geword en moes die kinderhuis verlede Desember verlaat, waarna sy ingetrek het by ’n nuwe adres in Pretoria Noord. Haar droom van kleinsaf was om ’n “juffrou” te word; en nadat haar hoërskoolonderwyseres vir haar ’n onderhoud gereël het by ’n laerskool, het sy die pos as klas-assistant gekry. ’n Weldoener wat haar storie op GROOTfm 90.5 gehoor het, het vir die tiener ’n klompie noodsaaklikhede geskenk, soos klere vir haar nuwe werk en selfs ’n yskassie vir haar kamer.

Ons het die nuwe assistant by die werk gaan verras met kruideniersware, toiletware en skryfbehoeftes wat deur Spar geskenk is, en op die lug vertel van Nicole se dringende behoefte om te begin met haar onderwysstudies, sodat sy die volgende tree kon gee na haar toekomsdroom. Die versoek het op vrugbare grond geval, en ’n verteenwoordiger van Solidariteit Helpende Hand het kontak gemaak en bevestig dat hulle Nicole met haar studies sou bystaan.

Bystand vir ’n student ná sy beroof is
Octovia Bere is die eerste een in haar gesin om te gaan studeer; en het in Januarie deur Unisa begin met haar studies in skakelwese en kommunikasie. Haar ma, Maria, is ’n enkelma sedert Octovia se pa in 2007 oorlede is, en het as huishulp baie hard gewerk om vir Octovia ’n skootrekenaar en die nodige handboeke te koop. Verlede maand het ’n boef wat hom as ’n taxibestuurder voorgedoen het, Octovia beroof en is met haar selfoon, rekenaar en handboeke vort. Sy moes van vooraf begin, en ma en dogter moes weer geld in die hande kry om haar boeke te vervang. Die twee gesinne vir wie Maria werk het goedgunstiglik gehelp om die skootrekenaar te vervang. Ons het haar storie op die lug gedeel en kon danksy Spar se borgskap gaan help met ’n donasie van kruideniersware – en R2 000 kontant wat ’n anonieme borg geskenk het om haar selfoon te vervang.

Annerike se “Tekkie Buddies”
Negejarige Annerike Heyneke van Laerskool  Menlopark het verlede jaar eiehandig ’n projek begin om ’n groep minderbevoorregte atlete saam met wie sy gehardloop het, te help voorsien van skoene en toerusting, en het ons by hierdie mooi inisiatief betrek. Die atlete van Modiba Olieven Athletics Club word al 15 jaar lank deur David Modiba afgerig, en hy het met Annerike en haar ma gedeel dat baie van hierdie behoeftige atlete getrou elke weeksmiddag kom oefen het net omdat hy vir hulle kos gee by die oefening. Baie van hulle het nie eers tekkies gehad nie, en net daar het Annerike haar  Tekkie Buddies-projek begin, waarmee sy 50 pare tekkies ingesamel het. Op die dag van ’n groot byeenkoms kon GROOTFM danksy Spar 30 koelsakke met padkos vir elke atleet gee. Ook as deel van GROOTfm 90.5 se #blikkiesenbaadjies Winterprojek het Cotton & Co vir elkeen van David se 65 atlete ’n splinternuwe baadjie gegee, ter waarde van R14 500.

’n Bietjie waardigheid met #handsakvolliefde
Die mag van goeie mense wat kragte saamspan om ander te help, is mooi geïllustreer deur die #handsakvolliefde projek vir Vrouemaand 2018 wat ons saam met Lynne de Jager, Bella tydskrif en Menlopret Kleuterskool aangepak het. Die uitdaging was om handsakke in te samel en dit met “liefde” vol te maak, in die vorm van sjampoe, seep en waslap, tandepaste en tandeborsel, deodorant, lipsalf, sneesdoekies, ’n haarborsel en ’n hangertjie of serp. Hierdie handsakke is dan uitgedeel onder behoeftige dames, onder meer die mammas van Booysens Beertjies Kleuterskool in Pretoria-Wes, en Pikanini Kleuterskool in Wolmer, die personeel van ’n sopkombuis is Shoshanguve, en twee vrouesekuriteitswagte by ’n laerskool in Pretoria-Oos. Spar Northrand het dadelik 100 bottels haaropknapper en deodorant ter waarde van R5 000 geskenk. Altesaam 400 handsakke met 16 verskillende items is ingesamel, en kon soveel harte bly maak!

Bystand vir geknakte siele
Een #JouMenseMyMense storie wat almal geruk het was dié van Vilna Badi wat al 13 jaar lank in Sunnyside vrywilligerwerk doen om vroue een vir een uit die kloue van moderne slawehandel te red. Sy het begin as ’n evangelis, en vertel van die hartseer-dag toe ’n baie jong prostituut haar gevra het of sy Vilna “ma” kan noem, waarop sy besluit het dat sy ’n ma sal wees vir elkeen van hierdie geknakte meisies wat liefde en sorg nodig het. Mama V het besef hierdie meisies het nie bloot dwelmrehabilitasie of mediese sorg nodig nie, maar ’n tuiste waar hulle kon behoort. In 2016 het sy in Arcadia die eerste huis oopgemaak, en vandag is “Our Home” ‘n toevlugsoord waar sy vroue se stories verander en die #JouMenseMyMense voorbeeld uitleef van innooi en nader bring, soos Jesus sou. Danksy Spar kon ons vir hierdie huis R2 000 se kruideniersware skenk.