Twintigjarige Eltricia Swart is vanjaar in haar derde jaar van BCom Bemarkingsbestuur by die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy het nie net ’n Golden Key  lidmaadskap verwerf deur haar uitstekende akademiese prestasie nie; sy is ook as die organisasie se sekretaresse aangewys op haar kampus. Ons het meer by hierdie presteerder gaan hoor.

Vertel ons hoe jy en die Atterbury Trust beursfonds bymekaar uitgekom het?
Een van my vriende, wat ook ’n beurshouer is, het my vertel van Atterbury Trust, net toe ek dit nodig gehad het. Almal het soms daardie hupstoot of bietjie hulp nodig om hul drome te bereik, en ek is dankbaar Atterbury Trust was daar vir my.

Waar het jy grootgeword en gematrikuleer? Vertel ons iets van jou familieomstandighede… het jy broers en susters wat dalk ook swot?
Ek is oorspronklik in Kimberley gebore, maar ons het in 2005 na Pretoria verhuis waar ons vir ’n paar jaar gebly het. Daarna het ons Warmbad toe getrek en ek het daar die laaste ses jaar van my skoolloopbaan voltooi. Ek het ’n fantastiese gesin, wat my altyd ondersteun in alles wat ek doen. My jonger suster is tans in Graad 11.

Hoe het jy op ’n BCom besluit – en is bemarking ’n vakgebied wat jou nog altyd geïnteresseer het, of wou jy iets anders word toe jy klein was?
Ek het nog altyd in die sakewêreld belanggestel. Ek het op BCom Bemarking besluit, omdat ek voel dat bemarking deel is van die hart van elke sake-onderneming en die wese van besigheid vasvang.

Is die studentelewe op Potch alles wat jy gedink het dit sal wees? Wat was vir jou die grootste aanpassing?
Ja, beslis. Ek geniet elke oomblik daarvan. Dit was ’n aanpassing om so ver van die huis af te wees, en om vir jouself te sorg, maar mens raak dit vinnig gewoond.

Wat geniet jy die meeste van jou kursus?
Ek geniet elke deel daarvan. Dit is ’n kursus wat handel oor ’n industrie wat dinamies is en gereeld verander; mens kan nie verveeld raak nie!

Ons verneem jy is ingehuldig by die Golden Key eregemeenskap wat slegs op uitnodiging gebeur en net die 15% toppresteerders by enige universiteit word oorweeg – baie geluk! Vertel ons meer oor die ervaring en wat jy hoop daaruit sal voortvloei?
Baie dankie! Ek is dankbaar dat ek ook aangewys is as Golden Key se sekretaresse op die Potch kampus. Dit is regtig ’n groot eer om ’n lid van die Golden Key eregemeenskap te wees, maar dit is ook weereens ’n bewys dat harde werk beloon word. Ek hoop dat dit deure vir my sal kan oopmaak wat my op die regte pad na ’n suksesvolle loopbaan sal plaas.

En so van die toekoms gepraat, waar sien jy jouself oor 10 jaar; wat is jou toekomsdroom?
My toekomsdroom is om suksesvol te wees. Dit was vir my nog altyd belangrik om ’n sukses te maak van dit wat ek aanpak, en ek beplan om dit in alle aspekte van my lewe verder toe te pas.

Die lewe werk nie altyd uit soos wat mens beplan nie, so ek verkies om nie op details te fokus nie. Daarom is my droom om suksesvol te wees… maak nie noodwendig saak in watter dorp, stad, provinsie, industrie of pos nie.

Wat is die belangrikste les wat jou ouers jou geleer het?
My ouers het my nog altyd geleer om in myself te glo, hard te werk vir wat ek wil hê en om altyd op te staan en weer te probeer as ek iets nie die eerste keer reggekry het nie.

En laastens, die beursfonds steun op die bydraes van groothartige borge. Watter boodskap sal jy graag aan al hierdie mense wil gee?
Hierdie borge skep soveel geleenthede en maak werklik ’n verskil in ander se lewens, wat andersins nie moontlik sou wees nie. Die borge is daardie “hupstoot” wat elke beurshouer help om hul drome waar te maak en hul toekomsplanne ’n realiteit te kan maak. Hulle bydrae is onmeetbaar kosbaar.

Help Atterbury Trust om nog uitblinker-jongmense soos Eltricia op die pad te plaas na die verwesenliking van hul toekomsdrome. Dit is voorwaar ’n belegging in die land se toekoms! Om meer uit te vind oor die verskillende borg-opsies, kliek hier.