Daar is tans altesame 72 528 artikels in Afrikaans op Wikipedia maar Deon Steyn sê in ’n onderhoud met Maroela Media se webwerf as hy sy sin kon kry, sou daar al baie meer gewees het en hulle sou baie vinniger verskyn het.

Steyn, ʼn inwoner van Krugersdorp, is ʼn direksielid van Wikimedia ZA en administrateur vir Afrikaanse Wikipedia. Die uitbreiding van die aanbod gehalte artikels in Afrikaans op Wikipedia is vir hom ʼn hartsaak.

“Afrikaans staan tans 80ste op die lys van die aantal artikels wat in die taal gelaai is. Daar is egter al 13 tale wat meer as ʼn miljoen artikels op die gratis aanlyn ensiklopedie het, so dit wys net watter reusagtige taak ons voorlê.”

Hy glo vas Afrikaanse Wikipedia is een van die maklikste maniere om die taal te bewaar terwyl dit help om navorsing vir veral skoolleerders toeganklik te maak.

“Die gedrukte media is wêreldwyd onder druk. Die koste om boeke te druk is enorm, om nie eers aan die impak op die omgewing te dink met al die bome wat vir drukwerk uitgekap moet word nie. Boonop kan boeke ook deesdae nie vinnig genoeg gedruk word om by die spoed waarteen kennis groei en navorsing gedoen word, by te hou nie.

“Een van die ander groot voordele van digitale media is dat indien daar ʼn fout in die artikel opduik, dit onmiddellik reggestel kan word.”

Steyn het self vir Wikipedia artikels begin lewer toe hy niks in Afrikaans oor optiese vesel, die bedryf waarin hy gespesialiseer het, op die Internet kon vind nie.

“Dit het my so drie maande geneem voordat ek my eerste artikel geplaas het want ek moes so ʼn bietjie navorsing doen om die regte terme hiervoor te kry. Ek het oorweldigende reaksie van die Wikipedia-gemeenskapgekry nadat my eerste artikel geplaas is en vandaar het die gogga my gebyt.”

Hy erken dit is deesdae ingewikkelder om artikels te skryf omdat daar soveel meer aspekte is wat skrywers by hulle artikels moet voeg, maar hy glo dit dra ook by tot die toenemende betroubaarheid van Wikipedia se artikels.

Die Afrikaanse Wikipedia bestaan al sedert Desember 2001. Enigiemand kan as ʼn gebruiker registreer om nuwe artikels vir Wikipedia te skryf of bestaande artikels uit te brei – mits jy betroubare bronne gebruik. Die Wiki-polisie – oftewel administrateurs – trek kansvatters en duimsuiers vinnig vas, sodat Wikipedia se geloofwaardigheid met elke artikel groei.

Volgens Steyn is daar ʼn skrywer wat tans hard werk om ʼn verskeidenheid van artikels oor die ruimte, sterre en plante te plaas. Nog ʼn gebruiker fokus op die sowat 2 000 Suid-Afrikaanse visspesies terwyl daar ook al 600 artikels oor bome en 200 artikels oor vegvliegtuie in Afrikaans op Wikipedia verskyn. Afrikaanse Wikipedia is ook die plek waar die volkseie name vir diere en plante gestoor kan word. Steyn sê daar is selfs ʼn artikel waar argaïese Afrikaanse woorde uit Hollands gestoor word, wat met die ontwikkeling van die taal in onbruik verval het.

“Die grootste lekkerte van Wikipedia is sekerlik dat dit ʼn projek sonder ʼn einde is. Daar sal altyd nog iets wees om oor te skryf.” Steyn glo as jy iewers ʼn tydjie het om af te knyp kan jy gou kyk wat is geskep en kommentaar lewer op ʼn artikel.

“Ek doen dit terwyl ek vir ʼn vlug wag en ek kyk glad nie meer televisie nie. Jy kan jou tyd baie beter bestee deur in die aande navorsing te doen en artikels te skryf. Daar is altyd genoeg tyd om gou iets op Wikipedia te doen. “Afrikaans het in die laaste paar jaar ʼn politieke speelbal geword. Ons generasie is dit aan jonger mense en ons nageslagte verskuldig om te verseker ons taal word bewaar op enige manier moontlik. Die digitale wyse van Afrikaanse artikels op Wikipedia skep, is sekerlik een van die maklikste maniere om dit te doen,” voeg Steyn by.

Maroela Media is sedert 2016 aktief betrokke om te verseker dat die aantal Afrikaanse artikels op Wikipedia toeneem. “Ons is nou besig om die Wêreldspektrum‑ensiklopedie se boekereeks op Wikipedia te laai en het al die artikels in hierdie boeke tot in die helfte van boek 17 opgelaai. Só is 179 Afrikaanse artikels geskep en 124 artikels volledig bygewerk,” sê Elana Barker, Maroela Media se koördineerder van die Wikipedia-projek.

Maroela Media is ook daartoe verbind om die skoolleerplan van Graad 4 tot 7 met artikels vir navorsing in Afrikaans op Wikipedia te laai. Barker sê twee medewerkers help hiermee. Hulle het reeds genoeg artikels gelaai om al die aspekte van die vak lewensvaardighede in Afrikaans te dek.

“Ons werk nou aan sosiale wetenskappe en natuurwetenskappe en tegnologie maar dit moet nog hersien word voordat dit volledig sal wees.”

Om uit te vind hoe om self by te dra tot Afrikaanse Wikipedia,en pryse te wen in die proses, lees die oorspronklike weergawe van hierdie artikel op Maroela Media, https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/projekte/al-meer-as-70-000-artikels-in-afrikaans-op-wikipedia/