Sitplekke met siel

Sitplekke met siel

Cool Capital is verby, maar die nalatenskap van Pretoria se guerrilla biënnale sal nog lank gevoel word by Prosperitus Sekondêre Skool in Eersterus. Dié behoeftige skool het min hulpbronne en die leerders het nie eens die geleentheid om kuns as vak te neem nie. En tog is soveel kreatiwiteit aan die dag gelê, vertel Izanne Wiid, die beeldhouer wat die Atterbury-geborgde kunsprojek by die skool gelei het.

Vertel ons meer van Prosperitus se kunsprojek.
Omdat die skool nie kuns as vak aanbied nie, was daar nie die tipiese kunsinfrastruktuur wat mens dalk gewoond is om by ’n hoërskool aan te tref nie. Dis ook hoekom ek as buitestaander die projek gelei het, eerder as die kunsonderwyser wat dit by ander skole doen. Die skoolterrein is stowwerig en leeg, en daar was nêrens plek vir die kinders om eers te sit en hulle middagete te eet nie… so is die idee gebore om mooi bankies te maak. Dit sou die terrein verfraai en ook ’n blywende, praktiese verbetering aanbring wat die hele skool baat.

So die bankies is nou deel van die skoolterrein? Het julle die projek ‘n naam gegee?
Heeltemal reg, die kinders het nou iewers om te sit tydens pouses! Die projek het nie ‘n naam nie, hoewel van die spanne hul bankies name gegee het – hul eie name in baie gevalle!

Wie het almal deelgeneem, en hoe is die werk verdeel?
Omtrent 25 van leerders het deelgeneem, in spanne van twee en drie. Atterbury was so gaaf om ‘n bietjie ekstra te skenk, so ons kon 10 sementbankies koop, saam met die verf en kwaste, en die kinders is gevra om hul verbeelding vrye teuels te gee. Dit was vir my ‘n openbaring… hierdie leerders kom uit baie behoeftige omstandighede en daar is nie vir hulle baie geleenthede nie; en die skool is so ver verwyderd van die soort opvoeding wat kinders by ons meer gegoede skole as vanselfsprekend aanvaar. Die beoefening van kuns is ‘n luukse in sulke omstandighede, waar daar soveel dringender behoeftes is. En tog, die bankies het ‘n verbeeldingswêreld gewys wat getuig van kreatiwiteit en hoop, veral met sekere van die deelnemers.

Het die deelnemers die projek geniet?
Daar was ‘n klompie wat maar langtand was, nie almal het byvoorbeeld soos ek gevra het, gekom met hul ontwerpe wat hul reeds vooraf geteken het nie. Maar die meerderheid van hulle het geen of min ervaring van kuns maak, en ek dink dit was maar vreemd en intimiderend. En tog, die speel met kleur en verf is verleidelik, en toe die bankies eers begin om nuwe gedaantes aan te neem, en hulle kan hulle name op hulle bankie verf, toe was almal opgewonde.

Hoe lank het die projek van begin tot einde geneem?
Ons het die bankies en alles wat nodig sou wees vooraf gaan aanskaf, maar die verf-projek was een volle dag. Dit het lekker warm geraak daar buite in die son; ek moes net keer dat die deelnemers hul verfblikke toehou teen die warm son…

Wat was jou gunsteling-bankies?
Ek mag nie gunstelinge hê nie! Maar ek het baie gehou van die bankie met die blommemark-tema wat Thapelo Theletsane versier het… so kleurvol en groen, dis soos ‘n klein grasperkie op die droë terrein. Thapelo se droom is om kuns swot, so dit was vir hom baie lekker om die geleentheid te kry om bietjie met verf en kwaste te werk. Dan was ek ook mal oor Ruzaadh Borcherds s’n, wat hy omtower het in ‘n rooi baksteenmuur kompleet met graffiti. Hy hoop om argitektuur te gaan swot, so sy bankie het ook sy belangstelling in konstruksie gereflekteer.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die projek?
Dit is lekker om te sien hoe kuns ‘n verskil kan maak aan mense se lewensuitkyk, en ek dink dis wat so Cool Capital spesiaal maak. Hier is nou ‘n onverwagse, permanente kunsuitstalling, wat gaan aanhou om ‘n verskil te maak, lank nadat die biënnale verby is.

prosperitus-kunsprojek1

 

Leave a Reply

%d bloggers like this: