Wiskunde is so dikwels ’n struikelblok vir skoliere, en dis een van die oogmerke van Moedertaal Ontwikkelings Inisiatief (MOI) om die leerders toe te rus met hulpbronne om te verseker dat hulle naskoolse loopbaanmoontlikhede geoptimaliseer word. Simonet de Villiers, MOI se projekkoördineerder vertel wat die wiskunde-plan behels.

Hoe het julle die probleem geidentifiseer en wat is toe die oplossing waarmee julle vorendag gekom het?
Leerders se uitslae word voortdurend gemonitor en elke kwartaal stuur die 14 hoërskole al die beurshouers se verslae na die MOI-span, waarna ons ouer- en onderwyservergaderings het indien dit nodig is om in te tree. Dis hier waar ons as die MOI- span, ouers en onderwysers saamspan om die nodige hulpbronne en motivering te verleen indien ’n leerder dit sou benodig.

Wiskunde kan ’n groot uitdaging of struikelblok wees as die grondslag in die laerskole nie reg gelê is nie, dus is dit vir ons belangrik dat die MOI-leerders van die begin af gemotiveerd bly en die nodige boublokkies ontvang. Atterbury Trust het hande gevat met Stellumthombo, ’n Stellenbosse inisiatief gefokus op vroeë kinderontwikkeling, wat ook die uitdaging van wiskunde vir hoërskool-skoliere raak gesien het. Stellumthombo het tydens die Julievakansie ’n week-lange wiskunde-wegbreek vir Graad 11- en Graad 12-leerders gereël en dis hier waar die MOI-spannetjie betrek is. Atterbury Trust het ook ingespring en saam met Hungry Lion ’n Vrydagmiddag burger-bederf vir al 155 leerders geborg.

Ons het ook in die laaste week van die vakansie ons eie wiskunde-wegbreek met die MOI Graad 9- en 10-leerders aangebied, om hulle te motiveer en selfvertroue te gee om aan te hou met wiskunde na Graad 9.

Hoeveel MOI-leerders is betrokke, en wat is julle oogmerk?
Die Stellumthombo wiskunde-wegbreek aan die begin van die vakansie is deur  vyf Graad 11-leerders bygewoon, en in die laaste week van die vakansie was daar 20 Graad 9s en 10s. Ons wil nou elke Junie-vakansie so iets aanbied vir al die Graad 9s en 10s in die MOI-program om hulle lus te maak vir wiskunde en hul toe te rus met die nodige hulpbronne en vaardigheid om dié belangrike vak in ’n positiewe lig te kan sien.

Wie het hierdie klasse aangebied – vertel ons meer van die tutors?
Die Stellumthombo tutors was ’n kombinasie van afgetrede en jong wiskunde-onderwysers. Meneer Charles, ’n oud wiskunde-onderwyser en voormalige skoolhoof met ’n passie vir die vak en ’n groot hart vir leerders, het ons Graad 9s en 10s onder hande geneem. Hy het die kinders gehelp om moeilike beginsels op ’n eenvoudiger en makliker manier te verstaan. Hy glo ook ’n mens kan nie presteer in iets as jy dit nie geniet nie, dus het hy seker gemaak die leerders geniet elke sessie en ervaar wiskunde as positief en lekker.

Het julle wiskunde-uitblinkers onder die MOI groep?
Ons het ’n aantal MOI-leerders wat top 10 in hulle graadgroep behaal en erekleure ontvang het. Daar is een meisie wat definitief uitstaan: Tatum Ferrier van Hoërskool Stellenbosch. Tatum staan tans eerste in haar graad 11-jaargroep met ’n gemiddeld van 97%. Sy het in die eerste kwartaal 99% vir wiskunde gekry en 96% in die tweede kwartaal. Sy tutor nou die Gr 9-leerders en deel graag haar passie vir wiskunde met hulle.

Wat is die terugvoering van beide leerders en tutors?
Die leerders het albei die wiskunde-wegbreek geleenthede as baie positief en ’n groot hulp ervaar. Hulle is nou opgewonde en het nuutgevonde selfvertroue in hulle wiskundevermoëns en ons oë is op die derde kwartaal. Ons sien met groot verwagting uit na die resultate! Hier is net twee van ons jongmanne se terugvoering:

Ronaldo Windvogel, Graad 11, Paarl Boys: “Dankie vir die week, MOI, ek waardeer dit baie. Die wiskunde-wegbreek was baie behulpsaam en ek het goeie oefening gekry in dit waarmee ek rêrig gesukkel het. Weereens dankie, MOI.”

Tyresse Abrahams, Graad 10, Paarl Boys: “Die tutor het daarop gefokus om die wiskundefondasies en -beginsels vir ons vas te lê. Hy het ook vir ons makliker metodes geleer om by die antwoorde uit te kom. Ons het ook op maaltafels gefokus. Ons tyd was beperk en die oom het soveel dinge wat hy vir ons wil leer en ’n mens kon sien dat hy rêrig dit doen omdat hy vir ons wil help en omdat hy omgee. Baie dankie, MOI vir die ekstra hulp.”

Wat is volgende op die skedule van ondersteuning vir die senior leerders?
Ons aansoeke vir ons eerste twee matrikulante is ingedien by tersiêre instellings. Ons is tans besig met beursaansoeke vir hulle.

Vir die Graad 11s reël ons besoeke aan maatskappye om sodoende die werksplek en die verskillende studierigtings te ondersoek.

Senior grade neem deel aan ’n mentorskapproses. Die waardevolle insette van volwassenes wat reeds die paadjie gestap het wat hulle tans betree, het ewigheidswaarde wat leerders tot gesonde volwassenes help groei.

Daar is darem ook so bietjie bederf tussenin. Ons woon teatervertonings by en geniet die geleenthede waar gassprekers optree. Ons weeklikse besoeke aan koshuisleerders met ons dissipelskapproses, wat fokus op gesonde gees en karaktervorming, bly ’n fees en ’n voorreg om die pad na emosionele en geestelike volwassendheid saam met die talentvolle jongmense te kan stap.