Daar is ’n nuwe kilheid in die oggendlug… somer is beslis verby. En hoewel ons dit geniet om ons stewels, jasse en serpe uit die motbolletjies te haal en ons elke dag warm toe te wikkel, is daar baie mense vir wie winter net koue misrabelheid beteken. Atterbury Trust se mediavennoot GROOTfm 90.5 is besig met hul jaarlikse Blikkies en Baadjies-veldtog, waarmee hulle blikkieskos en warm winterbaadjies vir behoeftiges insamel. Lindie Strydom vertel meer.

Wat is die idee agter Blikkies en Baadjies?
Die veldtog het ’n Meimaand-tradisie by GROOTfm 90.5 geword, juis omdat ons besef dat elke oggend as ons ’n lekker warm baadjie aantrek teen die snerpende winterkoue, daar iemand net soos ons, daar buite is wat nie eers een warm baadjie vir die winter het nie. Hulle slaap koud, staan koud op, en stap in die bitter koue skool toe of werk toe. Die GROOTfm familie wil ‘n verskil maak, en ons samel dus blikkies kos, baadjies, beanies, serpe en ander warm klere in wat ons versprei onder ons minderbevoorregte vriende wat by een van ons vennote se opheffings- of bemagtigingsprojekte ingeskakel is.

Hoe lank loop die tradisie al en hoeveel hulp samel julle in?
Blikkies en Baadjies is vanjaar al in sy vyfde jaar; en dit is absoluut wonderlik om te sien hoe mense wil help en bydra! Ons het byvoorbeeld verlede jaar altesaam 5 154 blikkies kos, 1 629 warm baadjies van alle soorte; 1 115 swart sakke vol truie en serpe, skoene en tekkies, broeke en hemde; 200 splinternuwe komberse; 35 gebreide komberse en nog baie meer kos en klere ingesamel.

 Waar kom al die bydraes vandaan?
Oral! Ons kry bydraes van individue, skole, kolleges, besighede, die Voortrekkers, selfs afdelings van die stadsraad! Hoërskool Waterkloof in Pretoria asook die Voortrekkers is van die begin af by die projek betrokke. Die Klofies wys saam met soveel ander skole dat dit net so belangrik is om vir ons naaste om te gee as wat ons prestasies in die akademie of op die sportveld is. Die Voortrekkers is ook al van die begin af betrokke.

Het julle vanjaar ‘n spesifieke teiken wat jul wil bereik?
Dit maak nie regtig vir ons saak presies wat die getalle blikkies of baadjies is nie – dit is belangriker dat meer mense elke jaar die nood van hul medemens raaksien en ’n hand uitsteek om te help. Ons motto met al ons projekte is “groot in die klein” – die idee is altyd om groot te gaan met die klein goedjies wat dalk onbenullig lyk – die klein insette wat ons wel kan maak al is die uitdaging oorweldigend groot. Elke blikkie tel, en elke baadjie, en elke gebreide keppie of kombers – ons wil mense aanmoedig om deel te neem, want elke bydrae maak ’n wesenlike verskil aan iemand anders.

Hoe lyk die insameling sover vir vanjaar?
Ons het reeds ’n kontantskenking van R172 000 van CottondotCo ontvang, danksy Christien van den Berg. Hoërskool Waterkloof het die projek vir ons afgeskop met hulle “Kaalvoet Sonsopkoms” op 25 April. Leerders het al voor 06:00 bankvas op die koue, nat pawiljoen gesit in ’n aanvanklik reënerige begin tot die dag. En toe het die son nie net uitgekom nie, maar behoorlik deur die grys wolke gebreek vir ‘n ongelooflike viering van liefde en omgee, hoop en genade, met meters en meters, sakke en sakke en sleepwaens, bakkievragte en kattebakke vol warm wintersklere. Laerskool Elarduspark en selfs Hoërskool Middelburg het ook bygedra tot die insameling daardie oggend. Intussen het Laerskool Lynnwood al tekkies en komberse ingesamel, en Laerskool Tuinrand het gefokus op serpe, beanies, kouse en blikkieskos so saam met hulle 60ste verjaardagviering. Cosmo Industrial het vir die 82 versorgers van Huis Silversig elkeen ‘n splinternuwe baadjie en paar skoene gekoop ter waarde van R32 000, en die hoop baadjies en toring van blikkies in GROOTfm 90.5 se ingangsportaal groei ook by die dag soos kuiergaste en luisteraars saambring as hulle hier ’n draai maak.

Wat is die plan met die uiteindelike opbrengs? Hoe deel julle al die skenkings uit?
Ons medewerkers in die projek is PEN, wat al vir meer as 25 jaar in Pretoria se middestad werk om deur verskillende holistiese dienste mense in nood te ondersteun, en Helpende Hand. Beide van hierdie organisasies het verskillende opheffings- en bemagtigingsprojekte waar die kos en die klere dadelik uitgedeel word soos ons dit inkry. Ons wag nie tot ons al die bydraes ingekry het nie; die nood word verlig so gou ons kan. Ons almal kan al die koue aan ons lyf begin voel so ons wag nie vir ’n spesifieke datum nie.

Hoe kan mense deelneem aan hierdie wonderlike inisiatief?
Enige bydraes – kos, warm klere en skoene, komberse – kan tot 31 Mei by GROOTfm 90.5 se kantore afgelaai word. Ons kan ook reël dat enige skenkings wat groter is as ’n kattebak vol, opgelaai word. Vir enige verdere inligting, stuur gerus vir my ’n epos by [email protected]